ADVERTISEMENT:

 

 
 

Bly om by die huis te wees! Ma Luzandri en pa Wally Janse van Rensburg met klein Lukas. Baba Lukas het bykans die hele eerste week van sy lewe in die intensiewe sorgeenheid van die MediKliniek in Polokwane spandeer.

Baba Lukas sorg vir groot skrik

Date: 15 January 2018 By: Andries van Zyl

“Ek dink regtig nie ons sou hier deurgekom het as ons nie die ondersteuning van ons familie en vriende gehad het nie.”

Dit was die dankbare woorde van ‘n jong ouerpaar van Louis Trichardt, pa Wally en ma Luzandri Janse van Rensburg, nadat hulle pasgebore seuntjie, Lukas, kort ná sy geboorte ernstig siek geword het.

Daar was absolute vreugde toe Lukas op 2 Januarie om presies 08:53 deur middel van ‘n keisersnit sy eerste lig in die MediKliniek in Polokwane aanskou het. Die mannetjie het ‘n gesonde 2,8 kg geweeg, en foto’s van die ouerpaar se nuweling op Facebook het die gelukwense laat instroom.

Die aanvanklike vreugde was egter van korte duur. “Ons het opgemerk daar is iets fout. Lukas was verskriklik rooi in die gesig en dit het gelyk of hy hiperventileer,” het Luzandri gesê.

Die dokters was ook bekommerd en laat die aand van 3 Januarie is klein Lukas oorgeplaas na die kliniek se intensiewe sorgeenheid. Hier is ‘n verskeidenheid toetse gedoen, wat dokters tot die slotsom laat kom het dat klein Lukas vrugwater gesluk het by geboorte. “Toe hulle hom uitgehaal het, het hy geskreeu. Die dokter het nog ‘n grap gemaak en gesê vir so ‘n klein lyfie het hy so ‘n stem hulle dink hy gaan nog koor sing. Toe hy skreeu, toe sluk hy van die vrugwater. Die vrugwater het op sy longe gaan lê en ‘n infeksie veroorsaak,” het Luzandri gesê.

Dié slegte nuus het hulle totaal onkant gevang, omdat daar aanvanklik gedink is dat indien iets verkeerd sou gaan met die geboorte, dit met Luzandri sou gebeur. In Oktober verlede jaar reeds het dr. Pieter de Wet agtergekom dat Luzandri ernstige probleme met haar bloeddruk ondervind weens die swangerskap. Dit was ook die rede waarom daar besluit is dat sy by die MediKliniek in Polokwane moes geboorte gee. Uit vrees vir haar lewe is daar ook besluit dat klein Lukas op 37 weke gebore moes word en nie op die normale 40 weke nie.

Nadat hulle vasgestel het wat fout was, het dokters vir klein Lukas drie reekse antibiotika toegedien. Die eerste is gegee om hom te help met sy asemhaling. Hy moes toe ‘n tweede kursus antibiotika kry om die infeksie op sy longe te keer en daarna moes sy antibiotika ‘n derde keer verander word, nadat hy ‘n bakteriële infeksie (Staphylococcus) opgedoen het.

Dit was ‘n baie traumatiese en uiters emosionele tyd vir die jong ouerpaar. Hulle het geworstel met die absolute magteloosheid. “Die moeilikste was om hom daar te sien lê en jy kan niks vir die mannetjie doen nie ... al daardie pype, al daardie masjiene wat piep, piep, piep ... dan gaan daar skielik ‘n alarm af en jy skrik jouself in ‘n ander bloedgroep in ... dan hardloop ek na die suster en vra: ‘Wat gaan nou hier aan!?’” het pa Wally gesê.

Dit was eers ná die derde kursus antibiotika wat klein Lukas begin het om beterskap te toon. “Op dag drie het die derde klomp antibiotika ingeskop. Op dag vier het hy beterskap getoon. Hulle het hom vir 24 uur gemonitor en die vyfde dag is hy en Luzandri ontslaan,” het pa Wally gesê. Hy het bygevoeg dat dit die beste nuus ooit was toe hy hoor hy kon sy vrou en seuntjie Maandag gaan haal.

Vir die egpaar se eersgeborene, die 20-maande-oue Jacques, was die eerste week van sy boetie se lewe eweneens traumaties. Luzandri se ouers het al die pad vanaf George opgery om na klein Jacques te kyk terwyl sy ma en pa by sy boetie in die hospitaal was. “Dit was die ander stressor ... jy is bekommerd oor jou een kind, maar jy wil ook nie die ander een afskeep nie. Al is hy [Jacques] nog so klein, het hy opgetel daar is fout. Die eerste twee dae kon hy sy boetie sien en toe skielik mag hy nie meer sy boetie sien nie...” het Luzandri gesê. “As hy my gesien het, het hy my om die been gegryp en wou nie los nie,” voeg pa Wally by. Hulle moes die hele tyd vir Jacques verduidelik wat aan die gang is.

Sedert hul ontslag uit die hospitaal sterk ma en babaseun by die huis in Louis Trichardt aan. Die koerant het Dinsdagmiddag vir hulle gaan kuier. Klein Lukas was egter min gepla met die besoek en het die hele tyd geslaap. “Die dokters sê hy is nou gesond en moet eers op ses weke gaan vir die normale opvolgbesoeke en inentings ... hy is regtig ons klein wonderwerk. Van dag een af wat ons uitgevind het ons is swanger met hom, was hy ‘n geskenk van God,” het Luzandri gesê.

Met ma Luzandri gaan dit ook goed. “Ek is nou wel nog op medikasie vir my bloeddruk en pyn, maar dit gaan baie goed – nou selfs beter vandat ek by die huis is,” het Luzandri met ‘n glimlag gesê. “Lukas se eerste nag by die huis was baie rustig,” het Wally bygevoeg.

Ouboet Jacques is ook baie opgewonde dat sy kleinboet uiteindelik by die huis is. “Hy het vanoggend [Dinsdag] saam met my en Lukas op die kussing kom lê en die heeltyd sy boetie se arm gevryf en gesê: ‘Mamma klein ... mamma klein’. Hy is baie besorgd en nuuskierig oor sy boetie,” het Luzandri gesê.

Die egpaar het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle in hierdie tyd ondersteun het. “Ons het verskriklik baie mense gehad wat vir ons gebid en gebel het. Ons het die mooiste boodskappe gekry en die wonderlikste ondersteuning gehad,” het Luzandri gesê.

Meer spesifiek het die egpaar hul ouers bedank wat hulle so mooi bygestaan het. So ook het hulle dankie gesê aan die personeel van die intensiewe sorgeenheid by die Polokwane MediKliniek. “Die personeel in die intensiewe sorgeenheid was baie behulpsaam. Daar was een suster wat my verskriklik getroos het die eerste nag wat hy in die intensiewe sorgeenheid gelê het. Ek het histeries gehuil! Die suster het my egter laat bedaar en gesê hy [Lukas] is in veilige hande en dat hulle belowe hulle sal mooi na hom kyk,” het Luzandri gesê. Die egpaar het ook hul opregte dank uitgespreek teenoor tannie Bossie en oom Johan van Niekerk by wie Wally-hulle in Polokwane tuisgegaan het. “Hulle het hulle harte en huis vir ons oopgemaak,” het die egpaar gesê.

 
 
 

Viewed: 2722

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Baba Lukas Janse van Rensburg kort nadat hy in die intensiewe sorgeenheid van die MediKliniek in Polokwane opgeneem is. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT