ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 79-jarige oom Dirk de Preez is op die pad na herstel, nadat hy op Vrydag, 19 Januarie, ernstig beseer is in ‘n motorongeluk. Foto verskaf.

Oom Dirk steeds in intensief, maar op pad na herstel

Date: 01 February 2018 By: Andries van Zyl

Die 79-jarige oom Dirk du Preez van Louis Trichardt is steeds in die intensiewe eenheid van die Netcare Hospitaal in Polokwane.

“Onder omstandighede gaan dit baie goed,” het sy seun Dirk (junior) Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Oom Dirk is Vrydag, 19 Januarie, ernstig beseer tydens ‘n semi-tromp-op botsing tussen sy voertuig en ‘n bus in Louis Trichardt se Industriastraat. Sy beserings het ingesluit ‘n sleg gebreekte arm, ‘n regterbeen wat op twee plekke gebreek is, ‘n vergruisde knieskyf, ‘n gekraakte bekkenbeen en ‘n geperforeerde buik.

‘n Dag ná die ongeluk kon dokters slegs daarin slaag om die skade aan sy buik te herstel en aandag te gee aan die skade aan sy hand en arm. Omdat hy reeds vir meer is vier ure onder narkose was, het die dokters weens sy ouderdom daarteen besluit om verder te opereer en eerder later weer aandag te gee aan oom Dirk se ander beserings.

Oom Dirk sou verlede Donderdag weer geopereer word, maar weens sy verswakte toestand het die dokters weer daarteen besluit. In daardie stadium was hy sedert die ongeluk onder sterk verdowing en kon nog geensins met sy familie praat nie. Hy is ook op ‘n ventilator geplaas om hom te help met sy asemhaling. Dit was ‘n moeilike week vir die familie en hulle enigste versoek was dat die gemeenskap vir hulle moet aanhou bid.

Dirk (junior) was merkbaar meer positief hierdie week.

“Hy was gister [Dinsdag] vanaf 17:00 tot so 19:30 in die teater. Hulle het ‘n plaat in sy regterbeen gesit waar dit gebreek is, asook sy knie vervang. Hy het ook ‘n plaat in die regter sleutelbeen gekry en die dokters kon uiteindelik die ligamente en spier in sy hand weer heg,” het Dirk telefonies aan die koerant gesê.

Wat vir Dirk egter die blyste gemaak het, is die feit dat hy vir die eerste keer sedert die ongeluk ‘n mate van ‘n gesprek met sy pa kon hê, alhoewel oom Dirk nie self kon praat nie weens die ventilatorpyp in sy keel. “Gisteroggend het hulle begin om die verdowing ligter te maak om hom gereed te kry vir die teater. Ek kon sien hy wou met my praat, maar kon nie. Ek het toe maar aanhou vrae vra, totdat ek die regte vraag gevra het en hy instemmend met sy kop kon knik,” het Dirk gesê.

Oom Dirk wou antwoorde op drie pertinente vrae gehad het. “Hy wou weet of hy oraait is, of hy kan water kry en hoe lank hy al in die hospitaal lê,” het Dirk gesê.

Volgens Dirk is dit die beste nog wat hy sy pa gesien het sedert die ongeluk. “Nou kan ons begin rigting kry. Voorheen het alles in die lug gehang, want hy was te swak dat enige iets gedoen kon word. Na gister is ek meer positief,” het Dirk gesê.

Te midde van die goeie nuus is daar maar altyd steeds ‘n bietjie onsekerheid. Dirk sê dat hy verneem het dat as alles goed verloop, sy pa teen die naweek uit die intensiewe eenheid na die hoësorgeenheid oorgeplaas kan word. “Die eerste 48 uur ná narkose en ‘n operasie is egter bepalend,” het Dirk gesê. Hy het bygevoeg dat sy pa gedurende hierdie tydperk weer onder sterk verdowing sal wees weens die pyn.

“Sjoe, dit is ongelooflik die oproepe en boodskappe van ondersteuning wat ons as familie ontvang het. Mense het ons gebel wie ek nie eers ken nie. Die hele ding het my net weer laat besef hoe bevoorreg ons is om in ‘n gemeenskap soos die Soutpansberg te bly,” het Dirk gesê.

 
 
 

Viewed: 735

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT