ADVERTISEMENT:

 

 
 

Toekoms van jaarlikse Relay For Life in die weegskaal

Date: 16 February 2018 By: Andries van Zyl

Die voortbestaan van die jaarlikse CANSA Relay For Life, wat geskeduleer is vir 16 Maart vanjaar, hang tans in die weegskaal.

Plaaslike voorsitter mnr. Dirk Meissenheimer sê hy sit op moedverloor se vlakte, aangesien feitlik niemand hul weg oopsien om met vanjaar se reëlings te help nie. Daar is ook toenemend druk van Kansa se hoofkantoor vir die aanbied van die Relay.

“Dit is vir my onmoontlik om al die reëlings self te doen. Ons moet ‘n bestuur hê van plus minus 15 lede wat graag wil help en ook tyd het om sekere dinge te doen. Poste moet gevul word vir die reël van die survivors en care givers, spanwerwing, logistiek, vermaak, bemarking, spyseniering, veiligheidsoffisiere, jeugklub, finansies, luminaria en ‘n sekretaresse. Daar moet ook drie ondervoorsitters wees,” het Meissenheimer gesê.

Buiten vir hulp wat benodig word in die vorm van mannekrag om op die bestuur te dien, is daar ook ander hulp nodig, soos finansiële hulp. “Sekere dinge moet betaal word, soos onder andere die DJ,” het Meissenheimer gesê.

Tans is daar, buiten Meissenheimer, net vier mense wat hom help met vanjaar se reëlings. Intussen is daar net ‘n maand oor tot vanjaar se Relay. “Ek wil graag van my kant af versoek dat as daar enige persoon is wat baie graag betrokke wil raak, om my asseblief so spoedig moontlik te skakel by 082 789 3927 of te WhatsApp,” het Meissenheimer gesê.

‘n Dringende vergadering om die reël van vanjaar se Relay te bespreek vind eerskomende Donderdagaand (15 Februarie) om 18:00 plaas by Mike’s Kitchen. “Dit is vir my ‘n baie hartseer saak, maar ‘n saak baie naby aan my hart. Ek wil graag die Relay reël om iets vir die mense wat kanker het te doen. Niemand is te goed om kanker te kry nie. Dit raak alle rasse, ongeag kleur, ouderdom of geslag,” het Meissenheimer gesê. In die lig van bogenoemde het hy inwoners versoek om vir die regte redes  betrokke te raak.

Die Relay herdenk mense wat kanker het en wat reeds oorlede is aan kanker. Die Survivors sal die Heroes of Hope vir die aand wees. Dit is ‘n spesiale aand vir kankerpasiënte om te kan vier dat die Here hulle tot nou toe gespaar het en die pad saam met hulle loop. “Kanker sê nie vir jou: ‘Gaan rus ‘n bietjie vanaand nie. Ek gee jou twee ure af’ nie. Hulle sit baie aande alleen en worstel met seer en alleenheid. Dit is hoekom ons die Relay vir 12 ure deur die aand aanbied om ondersteuning met hierdie kankerlyers te wys,” het Meissenheimer gesê.

Daar sal deur die aand saam met die survivors en care givers gestap word. Geen drank of rook sal op die veld toegelaat word nie. Alle fondse wat ingesamel word gaan aan Kansa se hoofkantoor ten bate van navorsing, opleiding en ondersteuningsdienste. “Indien daar nie genoeg fondse ingesamel kan word deur die Relays nie, kan Kansa nie meer bestaan nie. Ons begroting is vanjaar R150 000. Ek is bevrees as ons Donderdagaand nog nie genoeg hulp bymekaar kan kry nie, sal daar vanjaar geen Relay plaasvind nie. Daarom wil ek ook u gevoel en voorstelle ontvang asseblief. Kontak my asseblief. My e-pos is [email protected],” het Meissenheimer gesê.

 
 
 

Viewed: 446

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT