ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Andro Fourie (69) met sy 'dak op sy kop'. Foto verskaf.

Soutpansberg neem swaar afskeid van oom Andró

Date: 11 March 2018 By: Isabel Venter

Dit is met hartseer dat die Soutpansberg die afgelope week afskeid geneem het van een van sy gesoute boere.

Die 69-jarige oom Andró Fourie is Woensdag, 28 Februarie, in die Tzaneen MediClinic oorlede.

Oom Andró is ‘n boorling van die Soutpansberg. Hy is hier gebore op 22 Augustus 1948. As jong seun het hy sy laerskoolloopbaan by die Soutpansberg Laerskool voltooi, waarna hy sy hoërskoolloopbaan voltooi het aan die Hoër Landbouskool Kuschke.

Op skool was oom Andró ‘n vernuftige rugbyspeler en ‘n begaafde ruiter. “My pa kon en mag maar perdry,” het oom Andró se dogter, Inalize Burger, gesê. Oom Andró se een suster, tannie Suzetha, onthou weer hoe hulle as kinders langs die sportvelde groot geword het. “Ons kinders het altyd rugby gaan kyk of gaan ondersteun by die reisiesbane,” het tannie Suzetha vertel.

Ná skool het oom Andró teruggekeer na Louis Trichardt. Dit was egter vir oom Andró nie net sommer van bly nie. Sy pa, ou oom Holtman, se voorwaarde was dat hy sy ambag moes gaan loop. So het dit gekom dat oom Andró ‘n gekwalifiseerde motorwerktuigkundige geword het.  

In 1974 het oom Andró met sy wederhelfte, tannie Heleen, getrou. Hulle het mekaar op ‘n blind date ontmoet toe hulle saam met ‘n groep vriende gaan fliek het. Uit die huwelik is twee kinders, Inalize in 1978 en Holtman in 1982, gebore.  

Die Fouries het hulle gaan vestig op die plaas Florodwe in die Tshipise-omgewing, waar oom Andró groot geboer het met groente. “My pa was ook ‘n boer in murg en been,” het Inalize gesê.

In 1981 het oom Andró die plaas verkoop aan die gemeenskap en het die gesin na die plaas Protea verhuis, wat nader aan Tshipise was. Hier het oom Andró hoofsaaklik met vee en wild geboer. In 1992 het oom Andró besluit om dinge rustiger te vat en hy en tannie Heleen het terug verhuis na Southdown plotte toe.

Oom Andró was deurentyd ‘n aktiewe lid van die landbou-unie, boerevereniging en kommando. Oom Andró, vertel tannie Suzetha, was ook aktief betrokke met die reël van die Louis Trichardt Skou.  “Hy sou ook nêrens heen gaan sonder sy hoed nie. Hy het dit sy ‘dak-op-sy-kop’ genoem,” het Inalize vertel.

Oom Andró en tannie Heleen was ook, vandat hulle getroud is, aktiewe lidmate van die NG Kerk Moedergemeente (Haantjie Kerk) gewees. Hy was ook vir jare lank ‘n groot ondersteuner van die Louis Trichardt Rugbyklub, veral toe sy seun, Holtman, vir die klub begin speel het.

Oom Andró was nie iemand wat vyande gehad het nie en het die grootste respek afgedwing by familie, vriende en arbeiders. “Ja, ek was soms kwaad as oupa met my geraas het, maar nou sê ek vir oupa dankie, ek weet nou ek is ‘n goeie kind en het ‘n hart van goud, nes oupa sin,” het oom Andró se kleindogter, Illandri Burger, in ‘n huldeblyk geskryf.

“Baie dankie dat Oupa altyd daar was vir ons, by atletiek, by die rugby en veral as ons ouma se hoenders, katte en bokke met die daisy geskiet het,” het sy kleinseuns Handró en Zack Fourie geskryf.

In 2014 het oom Andró die slegte nuus ontvang dat hy met blaaskanker gediagnoseer is. Sedertdien het sy gesondheid stelselmatig begin agteruitgaan, ten spyte van verskeie operasies en behandelings wat hy ontvang het.

Oom Andró se gesondheid het vroeg vanjaar dramaties verswak, soveel so dat hy op 22 Januarie in die Zoutpansberg Privaathospitaal opgeneem is. Hy is twee dae later oorgeplaas na die MediClinic in Tzaneen, waar hy die laaste drie weke voor sy afsterwe in die intensiewe sorgeenheid behandel is.

Wyle oom Andró word oorleef deur sy eggenote Heleen, kinders Inalize en Holtman, skoonkinders CW Burger en Zettie Fourie en vier kleinkinders, Illandri en Conrad Burger en Handró en Zack Fourie.

Die familie het almal bedank wat hulle die afgelope tyd ondersteun het met oproepe, besoeke en boodskappe.

Oom Andró is Dinsdag, 6 Maart, om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente begrawe.

 
 
 

Viewed: 661

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT