ADVERTISEMENT:

 

 
 

Afgeneem voor Robot Elektries in Louis Trichardt, wat eersdaags sy deure gaan sluit, is van links na regs Inez, Chrissie en Philip Pohl – die bekende gesigte agter dié landmerk onderneming.

Robot Elektries sluit deure na vyf dekades van diens

Date: 30 March 2018 By: Andries van Zyl

Een van Louis Trichardt se landmerk ondernemings, die alombekende Robot Elektries in Kroghstraat, sal eersdaags na meer as vyf dekades sy deure sluit.

“Ons is nie bankrot nie, ons is net moeg,” het eienaars Philip en Chrissie Pohl Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Vir die Pohl-egpaar was dit nie maklik om te besluit om toe te maak nie. Twee generasies Pohls het in die winkel gewerk. “Ons kinders het voor ons in die winkel grootgeword,” het Philip gesê.

Robot Elektries het op 1 November 1966 vir sake geopen en vir diegene wat wonder waar die naam vandaan kom sal die ouer garde dalk onthou. “Dit was dieselfde tyd wat Louis Trichardt sy eerste verkeerslig op die hoek van Trichardt- [nou Songozwi] en Kroghstraat gekry het. Ons het toe sommer besluit om die winkel Robot Elektries te noem,” glimlag Philip.

Aanvanklik is die winkel bedryf deur wyle oom Naas en sy seun Attie. Hulle het hoofsaaklik op elektriese kontrakteurswerk gefokus en ook nie vanaf die perseel waar hulle vandag geleë is nie. Destyds was die aanvanklike Robot Elektries geleë tussen Permac Droogskoonmakers en waar ABSA Bank vandag is.

Philip sou eers in 1972 by die span aansluit, spesifiek om in die werkswinkel uit te help en om radio’s te herstel.

Vroeg in hul bestaan was die Pohls betrokke by heelwat groot projekte, soos die bedrading van die poskantoor in Tzaneen in die laat sestigerjare, asook later die bedrading van Hoërskool Piet Joubert in Polokwane, die Universiteit van Venda en die Tshilidzini Hospitaal.

Hulle het egter nie net kontrakteurswerk verrig nie. Robot Elektries het ook gou naam gemaak wat betref die verkoop van elektriese ware soos stowe en yskaste. “Dit was nog voor daar televisie was,” onthou Philip.

Philip en vrou Chrissie het in 1986 beheer van die winkel oorgeneem, kort ná die hartseer dood van sy broer Attie in 'n motorongeluk in November van daardie jaar. Dit was vir die familie ‘n hartseer tydperk gewees, maar deur alles glimlag Philip en Chrissie steeds. “Ek dink ons het net goeie jare gehad. Ek kan nie dink dat ons ooit groot drama gehad het nie. Miskien was ons net baie gelukkig,” het Philip gesê.

Buiten vir elektriese ware, was en is Robot Elektries ook bekend vir sy brei- en naaldwerkafdeling. Vele vroue het hul kennis oor brei- en naaldwerk te danke aan die kursusse wat by Robot Elektries aangebied is oor vele dekades. Ouers van skoolgaande kinders sal ook onthou hoe maklik dit was om gou by hulle te gaan inloer om skoolklere te koop. Vir die nutsman het Robot Elektries ook ‘n wye verskeidenheid produkte aangehou soos gereedskap en verf – in kort het hulle iets van alles aangehou.

“Ons gaan nie die winkel verkoop nie. Die plan is om ‘n uitverkoping te hou,” het Philip gesê, en bygevoeg, “ek kry sommer ‘n knop in my keel as ek dink ons gaan toemaak.”

Vir Chrissie is die sluiting eweneens emosioneel. “Ek sou graag wou gehad het dat iemand die hele klere-, naaldwerk- en brei-afdeling as ‘n geheel sou kon oorneem,” het sy gesê.

Volgens beplanning sal Robot Elektries in Julie toemaak. Philip het gesê hy het reeds ses maande kennis gegee dat hulle gaan uittrek.

Die egpaar gaan darem nie heeltemal sit en niks doen wanneer hulle Robot Elektries se deur sluit nie. “Intussen hou die gastehuis, Gateway Inn, ons goed besig. Ek dink ons gaan vir nog so vyf jaar daarmee aangaan,” het Chrissie gesê.

Die Pohl-egpaar, asook Inez Pohl, het gesê hulle gaan regtig die winkel mis. “Ons gaan veral ons klante mis, want meeste van hulle het ons vriende geword,” sê Chrissie en Inez. Hulle het in dieselfde asem al hulle gereelde klante bedank vir hulle getroue ondersteuning deur die jare.

 
 
 

Viewed: 2561

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT