ADVERTISEMENT:

 

 
 

Afgeneem tydens die oorhandiging van die geborgde bakkie aan die N1/Bluegumspoort Plaaswag is, van links na regs, mnre. Gerrit van der Walt, Wouter Meintjies (voorsitter van die plaaswag), Eddie Schlesinger (Werda Toyota), me. Karen Viljoen en mnre. Christo Snyman (landelike veiligheidskoördineerder van plaaswagte in die noordelike gebied) en Jaco Bekker.  

Borgskap versterk strukture se stryd teen misdaad

Date: 06 April 2018 By: Andries van Zyl

Bekende plaaslike motorhandelaar Werda Motors het ingespring om te help in die stryd teen misdaad.

Die onderneming het besluit om ‘n Toyota Hilux bakkie te borg vir die gebruik van die N1/Bluegumspoort Plaaswag. Die bakkie is verlede Donderdag aan die voorsitter van die plaaswag, mnr. Wouter Meintjies, oorhandig. “Die bakkie sal hoofsaaklik vir plaaswagdoeleindes gebruik word op ‘n rotasie basis, asook vir gesamentlike operasies met die polisie en Soutpansberg Dorpswag,” het Meintjies tydens die oorhandiging gesê.

Vir mnr. Eddie Schlesinger van Werda Toyota was die besluit om die bakkie te borg ‘n maklike een. “Ek bly in die area en het die behoefte vir die borg van so ‘n bakkie raakgesien om ‘n verskil te maak in beide die plaas- en dorpswag,” het Schlesinger gesê.

Ook teenwoordig tydens die oorhandiging was mnr. Christo Snyman, landelike veiligheidskoördineerder van plaaswagte in die noordelike gebied. “Die plaaswagstruktuur is vir jare al goed gevestig in die Soutpansberg gebied, en het oor die afgelope paar jaar met talle suksesvolle teen-misdaad operasies en hulpverlening aan mense in die gemeenskap bewys dat om deel te wees van ‘n georganiseerde struktuur, baie beter is as om op jou eie te staan teen misdaad,” het Snyman gesê.

Volgens Snyman was beter koördinering en samewerking tussen die verskillende plaaswagte en die polisie deurslaggewend in hul sukses. “Behalwe bystand deur 'n hele klomp WhatsApp-groepe en vergaderings wat gereeld gehou word, word daar gereeld misdaadvoorkomingsoperasies in die dag, en veral in die nag, uitgevoer deur ‘n taakspan wat reaksielede van die dorpswag, die plaaswagte en polisielede insluit. Suksesse lei in sekere gevalle daartoe dat goedere teruggevind word nog voordat daar 'n saak oopgemaak kan word. Die opvolg van uitstaande sake, asook direkte ondersteuning en ontplooiing van die taakspan ná of tydens rooftogte, voertuigdiefstal, smokkelhandel en veediefstal, ontmoedig beslis kriminele aktiwiteite in ons area,” het Snyman gesê.

Volgens Snyman bevestig die skenking van Werda Toyota (wie se lede ook betrokke is by die veiligheidstruktuur) dat die gemeenskap ‘n groot rol te speel het in hul eie beveiliging en dat ‘n groot behoefte aangespreek is met die skenking van die voertuig. “Die plaaswagbestuur spreek sy dank en waardering uit teenoor Werda Toyota vir die groot gebaar en vertrou dat meer besighede betrokke gaan raak by die ondersteuning van die dorps- en plaaswagstrukture wat deel vorm van die Limpopo Landelike Veiligheidsforum,” het Snyman gesê.

Wat laasgenoemde betref, het Schlesinger Snyman se uitnodiging beaam. “Ek daag ander motorhandelaars uit om ‘n soortgelyke borgskap te doen wat die dorps- en plaaswag kan versterk in hul rol om die hele gemeenskap te help beveilig,” het Schlesinger gesê.

Meintjies het van sy kant af ook vir Werda Toyota bedank vir die borgskap. “Dit word opreg waardeer en die volle gemeenskap sal daaruit voordeel trek,” het Meintjies gesê. Hy het ook ander persone en instansies bedank wat tot die borgskap bygedra het, insluitend The Stamp Shop, Mountain Inn, Ultimate Guesthouse, Peter en Lorraine Thompson van Thompsons Motors, Karen Viljoen van Thusano Products, Alliance Fuel, Santam (gereël deur Danie Cronjé van PSG) vir versekering, Johan van Locksmiths & Number Plate vir die rubberbehandeling van die bak en Alicia van Innovated Designs wat sitplekoortreksels vir die bakkie gaan maak. “Dankie ook aan elke plaaswaglid wat getrou help met patrollies en waar hulp nodig is,” het Meintjies gesê.

 
 
 

Viewed: 333

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT