ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 23-jarige Heidi-Lene Jonck, wat al vir meer as drie weke in die intensiewe eenheid veg om haar lewe na sy ernstig beseer is in 'n bootongeluk. Foto verskaf.

Heidi-Lene herwin stadig maar seker bewussyn

Date: 07 April 2018 By: Isabel Venter

Die 23-jarige Heidi-Lene Jonck is stadig maar seker besig om haar bewussyn te herwin.

Sy is al vir meer as drie weke in die intensiewe eenheid van die Pietersburg Provinsiale Hospitaal waar sy onder verdowing gehou is, terwyl haar liggaam herstel van beserings wat sy opgedoen het in ‘n bootongeluk.

Heidi-Lene het op Sondag, 11 Maart, saam met vriende by die Albasinidam baljaar en op ‘n binneband gery wat agter ‘n boot gesleep is op die dam. Van die vriende het op ‘n stilstaande boot op die dam ontspan, terwyl ‘n tweede boot die binneband getrek het. Heidi-Lene is, toe die boot skerp weggedraai het, teen die agterkant van die stilstaande boot geslinger.

Verlede week is Heidi-Lene nog onder verdowing gehou, sodat dit nie haar brein verder onder druk plaas nie en die swelling op die brein kans kry om te sak. Eers dan, en as Heidi-Lene by haar volle bewussyn is, sal haar dokters kan bepaal of sy permanente skade opgedoen het met die ongeluk en of daar aan haar brein geopereer sal kan word.

Heidi-Lene se ouer suster, Elze-Marie du Preez, het hierdie week laat weet dat Heidi-Lene ook nog steeds veg teen ‘n infeksie wat sy opgedoen het in haar longe. Die verdowingsmedikasie is wel verminder, en teen Saterdag, 31 Maart, het Heidi-Lene vir die eerste keer vir 24 uur gegaan sonder om nog medikasie te ontvang. Dit is egter ‘n lang proses vir die medikasie om uit haar gestel te werk, maar Heidi-Lene het al intussen ‘n paar keer haar oë oopgemaak en Elze-Marie se hand saggies gedruk.

“Toe dit tyd word om te groet, toe word sy baie hartseer, maar ek het mooi gepraat met haar en vir haar vertel hoe trots ons op haar is en dat ek môre-oggend weer vir haar kom kuier,” het Elze-Marie laat weet.

 
 
 

Viewed: 653

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT