ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 23-jarige Heidi-Lene Jonck. Foto verskaf.

Vrou se herstel is God se werk, sê dokters

Date: 13 April 2018 By: Isabel Venter

Dit is God se werk … Só het dokters glo hierdie week opgemerk ná hulle gesien het watter herstel daar besig is om plaas te vind by die 23-jarige Heidi-Lene Jonck.

Heidi-Lene het al in so ‘n mate haar bewussyn herwin dat sy hierdie week as’t ware met haar vriende en familie kon “kommunikeer”.  Nie net het sy hulle almal herken nie, maar sy kon ook met haar kop knik of haar oë knip as daar met haar gesels word.

Daar was hierdie week ook rede om te juig toe Heidi-Lene ja geknik het toe sy gevra is of sy kan voel as iemand haar linkerhand ‘n drukkie gee.

Heidi-Lene se dokters het gevrees dat sy moontlik permanent verlam kan wees aan die linkerkant van haar lyf. Dié jong vrou was teen Donderdag al vir ‘n maand lank opgeneem in die intensiewe eenheid van die provinsiale hospitaal in Polokwane, nadat sy in ‘n bootongeluk betrokke was.

Die Zoutpansberger het vroeër berig dat Heidi-Lene saam met vriende by die Albasinidam baljaar het en op ‘n binneband gery het wat agter ‘n boot gesleep is. Heidi-Lene is, toe die boot skerp weggedraai het, teen die agterkant van die stilstaande boot geslinger.

Heidi-Lene se ouer suster, Elze-Marie du Preez, was hierdie week amper in trane toe sy van die goeie nuus laat weet het. “Ek wil juig! Ek wil huil! Ek wil op en af spring van opgewondenheid! Ek is so oorweldig met soveel emosies en so dankbaar dat ons 'n Lewende God dien! Ek was 10:00 vanoggend by Heidi-Lene en as dit nie vir die pleisters om haar mond en ventilatorpyp was nie, is ek oortuig dat ek 'n glimlag gekry het,” het Elze-Marie Dinsdag gesê.

Elze-Marie was veral dankbaar dat Heidi-Lene al knikkende aangedui het dat sy kon voel hoe Elze-Marie aan haar linkerhand druk. Heidi-Lene kon Sondag, met haar broer Gerad se besoek, niks voel toe hy haar linkerhand ‘n drukkie gegee het nie. Elze-Marie het ook oor Heidi-Lene se linkerbeen gevee, wat sy ook gevoel het. So met die besoek het Heidi-Lene ook aangedui dat sy al smag na ‘n stukkie vleis en ‘n bietjie sushi.

Heidi-Lene dokters was teen Dinsdag baie hoopvol dat Heidi-Lene binnekort weer op haar eie sal kan asemhaal.

 
 
 

Viewed: 2218

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT