ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 52-jarige Jorrie Jordaan, ‘n bekende in plaaslike sportgeledere, het rede om breed te glimlag, na ‘n operasie wat sy regterbeen kon red. Foto verskaf.

Blydskap ná operasie man se been red

Date: 15 April 2018 By: Andries van Zyl

Die een oomblik is jy gesond, sportief en hardwerkend. Die volgende oomblik slaan die lewe jou plat met die nuus dat jy binne drie maande jou been gaan verloor as daar nie onmiddellik geopereer word nie.

Niemand verwag of wil sulke nuus hoor nie, maar dit is presies die skokboodskap wat die 52-jarige Jorrie Jordaan van Louis Trichardt ontvang het, ten spyte van ‘n steeds baie aktiewe leefstyl.

Plaaslike het Jorrie min bekendstelling nodig. Vir twintig jaar het hy vir die dorp se eerste rugbyspan uitgedraf. Hy was ook, as SA-stoeier, vir twintig jaar verbonde aan die plaaslike stoeiklub. Met die jare wat aanstap het sy liefde vir sport gebly, en tree hy meer onlangs onder meer op as afrigter van die Noordelikes Rugbyklub van Polokwane en Hoërskool Louis Trichardt se rugbyspanne.

Maar waar het dinge begin verkeerd loop?

Vrou Santie vertel dat Jorrie in Oktober 2017 begin kla het van pyn in sy lae rug. “Hy het begin sukkel met sy regterbeen. Dit het pal gevoel soos wanneer jou voet ‘slaap’,” het Santie gesê.

Bekommerd oor sy gesondheid het Jorrie x-strale laat neem en besoek gebring aan ‘n chirurg in Tzaneen. “Dié het Jorrie se werwels wat soos ‘n ‘vraagteken loop’ toegeskryf aan emosionele dinge as gevolg van Jorrie se ma wat gesterf het. Hy is pyn en ander medikasie voorgeskryf,” het Santie gesê.

Jorrie se toestand het egter geen beterskap gewys nie, inteendeel, dit het vererger. Sy regtervoet het al meer begin pyn en dan yskoud en spierwit geword. Daar het ook bloedkolle onder die vel begin vorm. Die pyn in die lae rug het ook nou na die lies verskuif.

Met geen teken van beterskap nie, het Jorrie se huisdokter, dr. Emil Gaigher, voorgestel dat hy met ‘n vriend van hom in Pretoria, ‘n vaskulêre chirurg, gaan gesels.

Dié “gesels” is egter nie goedkoop nie en Jorrie-hulle moes behoorlik rondskarrel om die R14 500 in te samel vir ‘n vaskulêre “scan”.

Die uitslag van die ondersoek was nie goed nie. Daar is gevind dat Jorrie se hoofslagaar in die maag-area verstop of toegedruk is en dat verskeie are na die been nie meer suurstof en bloed deurkry nie. Die dokters het ook nie doekies omgedraai nie – die been sal heel moontlik binne drie maande geamputeer moet word, indien Jorrie nie vinnig geopereer word om die bloedtoevoer te herstel nie.

Met die ultimatum van sy been verloor, het Jorrie-hulle sommer dadelik die operasie by die Wilgers Hospitaal bespreek.

Dit het vir Jorrie-hulle by nog ‘n finansiële hindernis gebring. “Die koste van die operasie is op R150 000 beraam, waarvan die medies net R23 000 wou betaal, so die operasie kon nie plaasvind nie. Verskeie organisasies is genader om te help, maar die wat wou help kon nie en die wat kon, wou nie,” het Santie gesê.

Vir Jorrie was die nuus ‘n groot terugslag, maar vanuit nêrens het daar vir Jorrie-hulle skielik uitkoms gekom.

‘n Vriend van Jorrie, dr. Benjee Pretorius van Musina, het van sy verknorsing te hore gekom. Dié het hom op sy beurt verwys na ‘n professors-vriend, dr. Cloete van die Dr George Mukari Akademiese Hospitaal by Ga-Rankuwa in Pretoria. Hierna het dinge vinnig gebeur.

“Sy afspraak was geskeduleer vir Dinsdag, 3 April, en met sy aankoms by die hospitaal is Jorrie deur twee dokters in die vaskulêre eenheid ondersoek. Nadat hulle sy ‘scans’ gesien het, is Jorrie onmiddellik opgeneem. Daarna is verskeie hart-, lewer-, nier-, long- en bloedtoetse op hom gedoen,” het Santie vertel.

Die operasie om twee “stents” in beide sye in te sit is drie dae later vir 6 April geskeduleer. “Volgens die verpleegpersoneel sou die operasie so ‘n uur duur. Jorrie is eers vyf ure later uit die teater gestoot nadat hy, onder toesig van twee professors en vier studente deur ‘n vyfde jaar mediese student geopereer is,” het Santie gesê.

Reeds tydens die operasie het die sonar gewys dat die bloedtoevoer na Jorrie se are teruggekeer het en op Sondag, 8 April, was Jorrie se toestand van so ‘n aard dat hy ontslaan kon word. “Die operasie was ‘n groot sukses was en ons weet God was ten volle daar teenwoordig,” het Santie gesê.

Vir ‘n beter geskenk kon Jorrie, wat Maandag verjaar het, nie gevra het nie. “Hy is reeds terug by die werk, maar vat dit vir eers rustig, want om aan jou hoofslagaar te laat sny is nie grappies. Hy monitor maar gereeld vir bloeding. Die regtervoet word weer warm en sweet weer. Wie sou nou kon dink dat iemand bly sal word as sy voet weer sweet?” het Santie gesê.

Jorrie moet op 23 April terug wees vir ‘n roetine ondersoek by die Dr George Mukhari Hospitaal, maar na die goeie diens en omgee, sê Santie, sal hy dit nie mis nie. “Soos by enige staatshospitaal moet jy ook maar hier in rye sit en jou beurt afwag, maar met ‘n selfoon en lekker boek, sal jy heel anderkant uitkom,” het Santie gesê.

 
 
 

Viewed: 912

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT