ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Danie Louw (83). Foto verskaf.

Oom Danie Louw sluit lewenshoofstuk af

Date: 12 May 2018 By: Isabel Venter

Min inwoners weet dat nog ‘n groot boom van die Soutpansberg geval het. Die alombekende oom Danie Louw is op 19 April vanjaar oorlede in die ouderdom van 83 jaar.

Daar was nie net een woord wat oom Danie kon opsom nie. Hy was boer, plaatjie, terggees en ‘n jintelman.

Oom Danie se familie was oorspronklik van die Wes-Kaap, maar het in die 1930’s hulle kom vestig in die Soutpansberg, om en by dieselfde tyd toe oom Danie gebore is op 22 September 1934.

Van kindsbeen af het oom Danie na aan die aarde gelewe en diep spore getrap in die streek. Sy familie was vir jare aktief betrokke by die Messina en Louis Trichardt skoue. Hy was instrumenteel om te sorg dat daar elke jaar ‘n diereskou was by die onderskeie skoue.

Oom Danie het ook een van die mees suksesvolle beesboerderye – Louw Boerdery - saam met sy seun, wyle Jan Louw, op die been gebring. Uit die boerdery het oom Danie baie liefdadigheidsorganisasies in Louis Trichardt ondersteun.

Sy familie en vriende sal hom onthou vir sy vlymskerp humorsin. “Baie mense sal oom Danie onthou as ‘n Boere Afrikaner, maar hy kon net so mooi Engels praat en het Venda vlot gepraat,” het vriende en familie onthou.  

Oom Danie se groot liefde was egter vir sy perde en perdekarre. Hy was een van die eerste mense in die Soutpansberg wat ‘n perdekar gehad het wat deur agt perde getrek is. Menige bruid is na haar troue en skoolmeisie na haar matriekafskeid toe aangery deur oom Danie en sy spoggerige kapkar.

Oom Danie was ook ‘n gebore versamelaar. Buiten vir historiese plaasimplemente en –gereedskap wat hy versamel het, was hy goed vertroud met die plaaslike geskiedenis en het baie ander geskiedkundige items versamel. Vriende en familie sal oom Danie ook nog lank onthou vir sy swepe en stapstokke wat hy self gekerf het. Sy handewerk was sy trots, en elke stukkie vakmanskap was uniek. Oom Danie het nooit van sy skeppings verkoop nie, maar dit eerder wyd en syd uitgedeel aan vriende, familie en partykeer sommer vreemdelinge wat by hom aan huis gekuier het.

Die Soutpansberg, het familie en vriende gesê, het voorwaar ‘n kleurvolle en interessante karakter verloor.

‘n Roudiens sal vir oom Danie gehou word op Vrydag, 11 Mei, om 11:00 vanuit die Agapé Kerk in Louis Trichardt. Hy laat sy vrou, dogters en kleinkinders agter.

 
 
 

Viewed: 1086

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT