ADVERTISEMENT:

 

 
 

Maandag was personeel van OpenServe besig om die vervalle Telkom-huisie af te breek. Die besluit is wyd verwelkom omdat die huisie oor die jare skuiling gebied het aan heelwat kriminele. 

Telkom sloop 'misdadigers se huis'

Date: 09 June 2018 By: Isabel Venter

Telkom het bevestig dat die tydelike gebou oorkant Ons Tuiste Ouetehuis in Louis Trichardt, waar die liggaam van ‘n onbekende man voorverlede week gevind is, wel aan hulle behoort.

Buiten hiervoor het Telkom ook Maandag ‘n werkspan ingestuur om dié huisie af te breek. Die onbekende man wat dood gevind is, kon steeds nog nie geïdentifiseer word deur die polisie nie. 

Die man is Sondag, 20 Mei, deur voetgangers opgemerk op die hoek van die ouetehuis, waar die perseel grens aan die motorhandelaar Auto Pedigree. Volgens personeel van Ons Tuiste het die onbekende man op die grond gelê en dit het gelyk of hy stuiptrekkings kry. Dit het glo gelyk of die man in ‘n stadium probeer het om ‘n gat onderdeur die heining van die ouetehuis te grawe.

Ná die voorval is daar wyd gespekuleer dat die man dalk ‘n voortvlugtende krimineel was. Inwoners van Ons Tuiste het vertel dat daar gereelde “inwoners” is in Telkom se “huisie”. Sommige van dié “inwoners” was nie altyd vriendelik nie en het personeel wat daar verbygeloop het geteister en beroof.

Die Zoutpansberger het na die voorval navraag gedoen oor die huisie. Volgens die Makhado Munisipaliteit was die huisie as ‘n mobiele sentrale van Telkom gebruik in die sewentigerjare. In daardie jare het dit die mense in Levubu en Musina telefonies verbind met die sentrale wat by die poskantoor was. Met die verloop van jare, én tegnologie wat verander het, is die huisie verlate gelaat.

‘n Woordvoerder van Telkom, mnr. Pynee Chetty, het telefonies verlede Donderdag bevestig dat die huisie wel onder die beheer van Telkom se OpenServe-afdeling val. Ná deeglike oorweging is daar besluit dat daar weggedoen kan word met die huisie, sodat die area veiliger gemaak kan word vir die inwoners van Ons Tuiste, asook voetgangers wat gereeld daar wag vir vervoer.

Intussen het die Makhado polisie gesê dat hulle nog geen vordering gemaak het in die ondersoek na die onbekende man se herkoms nie.  Die oorsaak van die man se dood kon, volgens die polisie, ook nog nie vasgestel word nie.

Volgens plaaslike polisiewoordvoerder konst. Irene Radzilani, is die polisie nog steeds besig met ‘n geregtelike doodsondersoek. Radzilani het gesê dat die man se ouderdom geskat word op 24. Die man was geklee in ‘n swart langbroek, ‘n swart-en-wit gestreepte T-hemp, ‘n blou-en-swart baadjie en swart tekkies. Binne-in die Telkom-huisie het die polisie beslag gelê op handskoene, klerasie, ‘n houer vol kondome en medisyne wat vermoedelik gesteel was.

Radzilani het intussen gevra dat die publiek die polisie behulpsaam moet wees om die oorledene te identifiseer. Enige iemand met inligting kan speursersant Tshilidzi Nthembuluseni skakel by tel. 082 215 3171.

 
 
 

Viewed: 764

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT