ADVERTISEMENT:

 

 
 

Heidi-Lene Jonck (23) van Louis Trichardt kon Woensdag vir die eerste keer regop sit ná haar ongeluk. Sy is tans in 'n rehabilitasiesentrum in Pretoria. Foto verskaf.

Heidi-Lene sit vir eerste keer regop ná ongeluk

Date: 18 June 2018 By: Isabel Venter

Heidi-Lene Jonck (23) was net vir ‘n kort rukkie terug by die huis voordat sy begin het met haar rehabilitasie.

Sy was vir 33 dae in die intensiewe sorgeenheid en in totaal bykans sewe weke in die hospitaal, nadat sy ernstig beseer is tydens ‘n fratsongeluk. Heidi-Lene het op Sondag, 11 Maart, saam met vriende by die Albasinidam baljaar en op ‘n binneband gery wat agter ‘n boot gesleep is op die dam. Van die vriende het op ‘n stilstaande boot op die dam ontspan, terwyl ‘n tweede boot die binneband getrek het. Heidi-Lene is, toe die boot skerp weggedraai het, teen die agterkant van die stilstaande boot geslinger.

Met die slag is die femur in Heidi-Lene se linkerbeen gebreek. Dié is intussen geopereer en met ‘n pen geheg.

As gevolg van die hou wat Heidi-Lene teen haar kop weg het, is sy tans steeds verlam aan haar linkerkant en afhanklik van voltydse versorging. Derhalwe is daar besluit om Heidi-Lene so vinnig as moontlik in ‘n rehabilitasiesentrum te kry.

Ongelukkig het Heidi-Lene met haar aankoms by die huis amper gelyktydig longontsteking en ‘n bloedklont in haar been opgedoen.  Dit was eers na sy herstel het dat sy oorgeplaas kon word na die La Vie Care Lynnmed rehabilitasiesentrum. “Die geleentheid by dié sentrum is uit God se Hand,” het Heidi-Lene se suster, Elze-Mari du Preez, Woensdag gesê.

Dit was ‘n reuse saamwerk-poging met baie engele wat gestuur is, maar uiteindelik kon Heidi-Lene op Sondag, 3 Junie, vertrek na die sentrum in Pretoria.

Heidi-Lene sê elke dag vir haar sussa, soos sy Elze-Marie noem, dat sy hard werk. “Sy wil bitter graag weer loop en party dae frustreer dit haar omdat sy voel sy vorder nie vinnig genoeg nie,” het Elze-Mari gesê. “Maar vir ons is elke dag ‘n geskenk. Elke bietjie vordering is vir ons wonderlik.”

Die ander goeie nuus is dat Heidi-Lene ook nou medikasie-vry is. Sy hoef nie meer die epilepsie medikasie wat sy in die hospitaal moes neem, te gebruik nie. Dit het haar visie geweldig aangetas, en haar familie en vriende is hoopvol dat Heidi-Lene binnekort weer beter sal kan sien. Heidi-Lene, het Elze-Mari gesê, moes in matriek ‘n lensvervanging ondergaan in haar regteroog, wat veroorsaak dat sy bitter min visie oor het in dié oog. Haar linkeroog, wat haar goeie oog is, is ook in die ongeluk beskadig, maar dit is moeilik om nou al te bepaal of die skade permanent is. “Heidi-Lene sê die wêreld lyk vir haar soos wanneer mens met oop oë onder die water swem,” het Elze-Mari gesê.

Dit is egter Heidi-Lene se rehabilitasie wat tans eerste gestel word. Haar spiere het, weens haar lang verblyf in die hospitaal, so verswak dat sy nie kan loop nie. Sy kon hierdie afgelope Woensdag vir die eerste keer sedert haar ongeluk op haar eie regop sit in ‘n rolstoel. Volgens Heidi-Lene se dokters kan haar behandeling enige iets van vier tot ses maande duur. Dit is vir hierdie rede dat die manne van Tafelronde Zoutpansberg 66 ingespring het om fondse te help insamel. “Ons is okay om haar goedjies soos medisyne en so te kan bybring, maar dit kos R1 500 per dag om haar in die rehabilitasiesentrum te kan hê,” het Elze-Mari gesê.

Enige iemand wat ‘n bydrae wil maak kan dit direk aan die Tafelronde oorbetaal. Hulle rekening is by Eerste Nasionale Bank, Louis Trichardt, rekeningnommer 52866832804, takkode 260 149, met verwysing Heidi-Lene Jonck.

 

 
 
 

Viewed: 809

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT