ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Staat het verlede week alle aanklagte teen Louis Trichardt sakeman mnr. Danie Pita (46) voorlopig teruggetrek.

Staat trek voorlopig alle klagte teen Pita terug

Date: 22 June 2018 By: Andries van Zyl

Alle aanklagte teen bekende plaaslike sakeman mnr. Danie Pita (46) is verlede Donderdag, 14 Junie, in die distrikshof op Louis Trichardt teruggetrek.

Pita is op 31 Augustus verlede jaar deur lede van die Valke gearresteer nadat militêre plofstof en ammunisie op ‘n sakeperseel van hom in Kortstraat, Louis Trichardt, gevind is. Die Valke het beweer dat hulle op ‘n wenk gereageer het dat daar plofstof op Pita se perseel versteek word. Tydens ‘n klopjag het die ondersoekspan beslag gelê op 552 R4-rondtes, een handgranaat, ses rookgranate, drie leë R1-magasyne en vyf potjiefakkels.

Pita is vyf dae ná sy arrestasie op 5 September vrygelaat op borg van R5 000. Buiten die klag van die onwettige besit van plofstof en ‘n klag van die onwettige besit van ammunisie, is daar ook ‘n klag van die besit van ‘n onwettige vuurwapen teen Pita gebring. Laasgenoemde klag is ná die tyd deur die Staat teruggetrek, omdat die Valke nie op enige vuurwapens beslag gelê het nie.

Sedert sy arrestasie het Pita verskeie kere in die hof verskyn. Tydens sy laaste verskyning op 24 April vanjaar het die Valke se woordvoerder, kapt. Matimba Maluleke, aangedui dat die ondersoekspan klaar is met hul ondersoek teen Pita en dat hulle nou wag op ‘n hofdatum vanaf die Staat. Daar is ook gespekuleer dat, weens die erns van die klagte teen Pita, die saak heel moontlik oorgeplaas sou word na die Streekhof.

Alle klagte teen Pita is egter verlede week voorlopig teruggetrek. Volgens mnr. André Weideman, hoofaanklaer van die Thohoyandou-gebied, het Pita se regspan ‘n lywige en gedetailleerde vertoë teen sy arrestasie en die klagte teen hom by Weideman ingedien. “Die feit dat die klagte voorlopig teruggetrek is, beteken nie dat die klagte nie weer ingestel kan word nie,” het Weideman Woensdag aan die Zoutpansberger gesê. Op ‘n vraag oor die inhoud van Pita se vertoë, het Weideman gesê dat die inhoud van die vertoë nie in hierdie stadium bekend gemaak mag word nie.

Volgens Weideman lê die saak nog op sy tafel vir ‘n finale beslissing of Pita vervolg gaan word, en of die saak en ‘n finale besluit verwys moet word na die Direkteur van Openbare Vervolging in Polokwane. “Ons gaan definitief die saak bespoedig. Dit is in belang van almal dat die saak vinnig afgehandel word,” het Weideman gesê.

Pita se borg van R5 000 is reeds aan hom terugbetaal. Sy paspoort sal ná ‘n finale besluit oor moontlike verdere vervolging aan hom terugbesorg word, indien die Staat sou besluit om alle klagte te laat vaar.

Pita is Woensdag gevra om kommentaar te lewer oor die voorlopige terugtrek van die Staat se saak teen hom. Hy het egter aan die Zoutpansberger gesê dat sy regspan hom geadviseer het om geen kommentaar te lewer alvorens ‘n finale besluit oor sy moontlike vervolging geneem is nie.

 

 
 
 

Viewed: 778

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT