ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mufasa, Hoërskool Louis Trichardt se gelukbringer, het Saterdag die skool se eerste rugbyspan, oftewel die Witleeus, op die veld gelei in hul wedstryd teen Hoërskool Stofberg. Die geluk was beslis aan Triegies se kant en hulle het die kwarteindronde in Afdeling 3 van die Virseker Beker met ‘n telling van 34-26 gewen. Foto verskaf.

Witleeus sit segetog voort in Virseker Beker

Date: 09 August 2018 By: Andries van Zyl

Hoërskool Louis Trichardt is super trots op hul eerste rugbyspan, die Witleeus, nadat hulle die afgelope naweek hul segetog voortgesit het in die finale uitspeelwedstryde van die Virseker Beker.

Die Witleeus het Saterdag op hul tuisveld uitgedraf teen Hoërskool Stofberg van Brakpan in die kwarteindronde van die liga se Afdeling 3.

“Triegies het die wedstryd op 'n hoë tempo begin. Ons het baie balbesit gehad en groot aanvalle geloods. Tog het klein foutjies aan ons kant, soos om die bal aan te slaan of vorentoe aan te gee, Stofberg in die wedstryd gehou. Dit is ook waarom die halftydtelling so naby aan mekaar was,” het die span se afrigter, Armand Stander, gesê.

Die halftydpraatjie in die kleedkamer het vir seker gewerk. “Ná halftyd het die seuns met nuwe gees, en ‘n wil om die kwarteindronde deur te trek, op die veld gedraf. Stofberg het egter goeie verdediging in hul agterlyn gehad om ons in toom te hou en hulle in die wedstryd te hou. Ons moes veg tot die einde om die wedstryd te wen,” het Stander gesê.

Die Witleeus het Stofberg uiteindelik met 34-26 geklop. Die span se puntemaker was stut Marko “Japie” Kotze, agsteman Philip Apea-Adu, vleuel Karabo Boikanyo, binnesenter Johannes Joubert en heelagter Ali Sefole, wat elk een drie gaan druk het. Die span se skopper, skrumskakel Gerhardt Grobler, was ook in die kol Saterdag en het vier van sy vyf skoppe deur die pale gestuur.

Die Witleeus het bo-aan die punteleer in Limpopo geëindig in die liga se Afdeling 3. Dit het aan hulle ‘n plek verseker in die eerste ronde uitspeelwedstryde waar hulle voorverlede Saterdag teen Hoërskool Fochville op hul opponente se tuisveld te staan gekom het. Dit was ook ‘n strawwe wedstryd, maar die Witleeus het Fochville 39-29 geklop. Hierdie oorwinning het hulle ‘n plek besorg in die kwarteindronde teen Stofberg. In hierdie stadium het die Witleeus hul oog op die finaal van die liga. “Alles hang egter af van die naweek se wedstryde,” het Stander gesê.

Die Witleeus ry eerskomende Vrydag deur na Bedfordview in Johannesburg waar hulle Saterdag te staan sal kom in die semifinale ronde van die Virseker Beker teen Hoërskool Leeuwenhof, ‘n Afrikaanse privaatskool.

Triegies sal beslis veg vir nog ‘n oorwinning. As die Witleeus weer ‘n oorwinning kan bewerkstellig, sal die ander wedstryd wat Saterdag beslis word bepaal teen wie hulle in die finaal gaan speel. Die ander semifinale wedstryd is tussen Hoër Tegniese Skool Carel de Wet van Vanderbijlpark en Hoërskool Brandwag van Benoni. “Ek glo dit gaan Brandwag wees, maar hulle moet eers nog speel die naweek,” het Stander gesê. Hy het sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Louis Trichardt wat hulle die afgelope naweek in hul wedstryd teen Stofberg kom ondersteun het. “Dit word opreg waardeer,” het Stander gesê.

 
 
 

Viewed: 689

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Hoërskool Louis Trichardt se eerste rugbyspan, die Witleeus, in stilgebed voor hulle wedstryd teen Hoërskool Stofberg die afgelope naweek. Die Witleeus het die wedstryd gewen en sal eerskomende Saterdag teen Hoërskool Leeuwenhof speel in die semifinale ronde van die Virseker Beker se Afdeling 3. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT