ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die naaswenner van die TLU SA se Jongboer van die Jaar, Wynand Louw (links), afgeneem saam met die voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, Fritz Ahrens. Foto verskaf.

Wynand is tweede beste jongboer in SA

Date: 29 September 2018 By: Andries van Zyl

Dat die Soutpansberg se boere vir niemand hoef terug te staan nie is duidelik, nadat een van hulle aangewys is as die naaswenner in die TLU SA se jaarlikse Jongboer van die Jaar kompetisie.

Hierdie eer het vanjaar vir Wynand Louw te beurt geval. Louw is as naaswenner aangewys tydens die TLU SA, Agri, Mutual & Federal en Manitou se jaarlikse kongres wat op 19 September by die WNNR in Pretoria aangebied is.

Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie (SDLU), het gesê dat Wynand se toekenning ‘n besonderse prestasie is. “Die toekenning word gemaak aan jongboere wat 35 jaar en jonger is. Die paneel van beoordelaars word saamgestel uit onbevooroordeelde kundiges op verskeie landboukundige velde en die kandidate word volgens voorafbepaalde internasionale bestuurskriteria beoordeel. Die drie finaliste is op hulle plase deur die span beoordelaars besoek. Hulle het veral belanggestel in elkeen se landbou-ambisie en sy boerdery mikpunte,” het Havinga in ‘n persverklaring gesê.

Wynand Louw is ‘n jongman wat met makadamias en beeste in die Louis Trichardt-omgewing boer. Hy staan aan die stuur van ‘n sterk en gesonde onderneming, maar dit het nie in sy skoot geval nie en hy moes baie hard werk om dit ‘n werklikheid te maak.

“Jan Louw, sy pa, het goed geweet watter potensiaal en deursettingsvermoë Wynand het en sou vandag ongelooflik trots op sy seun gewees het. Wynand is vandag ‘n suksesvolle boer wat doelgerig die landbou leerskool se trappies van onder af geklim het, sodat hy vandag aan die stuur van sy eie onderneming kan staan,” het Havinga gesê. Hy het afgesluit deur te sê dat die gemeenskap bevoorreg is om iemand soos Wynand in sy midde te hê, wat so betrokke is en soveel bydra tot sy gemeenskap. “Wynand is ‘n voorbeeld vir enige jongman, om hulle te laat glo in hulself en hul vermoë om hul droom te vervolmaak,” het Havinga gesê.

 
 
 

Viewed: 1400

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT