ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Pierre de Waal (33). Foto verskaf.

Gemeenskap treur saam met ma wat tweede kind verloor

Date: 30 September 2018 By: Andries van Zyl

Vir die tweede keer in net bietjie meer as 10 jaar het tragedie ‘n ma van Louis Trichardt getref met die nuus van die dood van ‘n tweede van haar drie kinders.

Die welbekende Estelle de Waal het Maandag die nuus ontvang dat haar jongste seun, Pierre (33), die oggend in ‘n motorfietsongeluk dood is. Baie inwoners sal die hartseer onthou waardeur Estelle gegaan het in 2007, twee dae voor Kersfees op 23 Desember, toe haar jongste kind, dogter Carlien, ná ‘n motorongeluk oorlede is.

“Ek is stukkend ... Regtig, dit is vir my nog als so onwerklik in hierdie stadium. Maar ek kan vir jou sê ek weet dit is in God se raadsplan. Ek weet dit, maar dit is vir my nog verskriklik moeilik,” het Estelle Dinsdagaand tydens die koerant se besoek aan haar gesê. “Bly net vir my bid vir krag, want dit is al wat my gaan deurdra,” het Estelle met trane vlak in haar oë gevra.

Die ongeluk waarin Pierre oorlede is het omstreeks 09:00 op die N4 tussen Sabie en Nelspruit gebeur. Pierre was op pad terug huis toe na ‘n ontbytrit saam met sy motorfietsvriende. Sy vriende het hulle motorfietse op sleepwaens gelaai. “Maar Pierre het blykbaar gesê hy wil vir oulaas met sy motorfiets weer die pad ry, omdat dit so mooi is,” het Estelle gesê.

Pierre was baie lief vir motorfietsry. “Hy was ‘n regte adrenalien junkie. Hy het alles gedoen, tot valskermspring. In Abu Dhabi het hy met ‘n Formule 1-renmotor gaan jaag. Hy was lief vir alles wat die bloed laat klop het. Dit was die tipe mens wat hy was. Hy het absoluut voluit geleef,” het Estelle gesê.

Niemand is seker wat presies gebeur het nie. Pierre het met sy fiets weggetrek, maar ‘n paar kilometer verder het sy vriende op hom afgekom waar hy van agter met ‘n voertuig gebots het. Hy is op slag dood in die ongeluk. Gelukkig is niemand anders in die ongeluk beseer nie, insluitend die insittendes van die voertuig waarteen Pierre gebots het.

Pierre het beide sy laer- en hoërskoolloopbaan op Louis Trichardt voltooi. Ten tye van sy ongeluk was hy in Pretoria woonagtig, waar hy sy eie besigheid saam met sy vriendin van die afgelope paar jaar, Lynette Schlebusch, bedryf het. “Sy dogtertjie, Yanika, het Vrydag ses geword. Alhoewel sy by haar ma bly, het sy Donderdagaand by haar pa oorgeslaap. Hy was ‘n ongelooflike goeie en trotse pa gewees,” het Estelle gesê.

Estelle het gesê dat hulle teen Dinsdag nog geen definitiewe begrafnisreëlings kon tref nie. In daardie stadium is ‘n roudiens in Pretoria beplan, maar moontlik eers vir volgende Saterdag. Wat wel bevestig kon word, was dat ds. Petrus Kriel van Levubu die diens sal waarneem. “Ds. Petrus was soos ‘n pa vir Pierre gewees vandat hy hier op skool was. Tot nou toe sou ds. Petrus by Pierre gaan inloer as hy is die stad was. Dan sou Pierre ‘n drukkie saam met hom vir my terugstuur,” het Estelle met ‘n glimlag gesê.

Pierre word oorleef deur sy ma Estelle, sy broer Juan, dogtertjie Yanika en vriendin Lynette. “Baie dankie aan al die mense wat vir my boodskappe gestuur het, so ook vir al die oproepe en besoeke. Ek waardeer dit baie,” het Estelle gesê.

 

 
 
 

Viewed: 3180

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT