ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jan “Slang” (links) en Frikkie Venter (regs) besig om ‘n swart mamba vir ‘n besering te behandel. Jan het inwoners gewaarsku dat, vanweë die huidige warm, droë toestande, slange noodwendig na dorpe en huise sal kom op soek na kos, water en skuiling. Hy het egter gevra dat mense nie sommer die slange moet doodmaak nie, maar hulle eerder skakel om dit te kom vang. Foto verskaf.

Moenie verbaas wees as slang se kind kom kuier nie

Date: 04 October 2018 By: Andries van Zyl

Met die winter wat verby is, word die dae al warmer. Voeg daarby die reën wat steeds wegbly en jy het die perfekte omstandighede vir slange om hulle pad na dorpe en huise te vind.

“So, slange gaan paaie kruis met mense en hulle troeteldiere,” het plaaslike slangvanger en -kenner Jan van Rooyen (beter bekend as Jan Slang) hierdie week gesê. In dieselfde asem voeg hy egter by dat, weens die warm en droë weersomstandighede, slange nie hier is om mense en diere aan te val nie. “Hulle soek bloot kos, water en skuiling,” het Jan gesê.

Nie almal is egter so geneë met die idee van ‘n slang in die huis nie, ongeag die slang se intensies. Derhalwe het Jan ‘n paar riglyne gegee vir inwoners om te verseker dat hulle erwe nie ‘n “slangnes” word nie.

“Erwe moet skoon wees van bourommel en tuinvullis. Bourommel en tuinvullis is goeie broeiplek vir muise en rotte, wat weer op hulle beurt weer die slange lok as prooi. Dit dien ook as goeie skuilplek vir die slange,” het Jan gesê.

Alhoewel rots- en watertuine (water features) baie mooi mag vertoon, lok dit ook slange. “Rotstuine gee lekker skuilplek en watertuine bring paddas as prooi. Dit dien ook as ‘n permanente waterbron vir die slange,” het Jan gesê.

Volgens Jan is meeste slange aktief in die vroeë oggend of in die laat middag wanneer die dag nie meer so warm is nie. Dan is daar egter spesies wat aktief is gedurende die aand. “Moet dus nie in die aand sonder skoene buite rondloop nie en maak seker dat jy behoorlik kan sien waar jy loop of jou hande plaas,” het Jan gewaarsku. So van “kyk waar jy loop” gepraat: Jan het gesê dit is ook raadsaam om nooit oor ‘n stomp of klip te trap nie. Trap eerder bo-op die stomp of klip en kyk of daar nie ‘n slang is wat aan die ander kant skuil nie.

Tog is dit onvermydelik dat iemand eendag hom- of haarself in ‘n slang gaan vasloop. “Wanneer iemand 'n slang raakloop in die veld of by die huis, staan doodstil. Slange reageer op beweging en mag dalk byt as hulle bedreig voel. Laat die slang net aanbeweeg of beweeg stadig agteruit tot veiligheid,” het Jan gesê.

Wanneer ‘n persoon veiligheid bereik het, het Jan gesê, is dit wys om altyd ‘n oog op die slang te hou. Dit maak dit soveel makliker vir die persone wat geskakel word om te slange te kom vang om die slang op te spoor. “Moenie die slang probeer doodmaak nie, aangesien baie mense so gebyt word,” het Jan gesê. Indien ‘n persoon wel gebyt word, moet die persoon so stil moontlik gehou word. “Probeer 'n foto van die slang neem vir identifikasie of probeer alle merke of kleur van die slang onthou. Kry die persoon so gou as moontlik by 'n dokter wat weet hoe om slangbyte te behandel. Nie almal weet nie,” het Jan aanbeveel.

Jan het inwoners uitgenooi om hom of Frikkie Venter te skakel indien hulle probleme met ‘n slang ondervind. Hy kan geskakel word by tel. 081 217 9213 of Frikkie by 082 058 7601. Hulle kan ook vir bystand met slangbyte geskakel word, asook Mike Perry (083 448 8854), Johan Marais (082 494 2039) of Arno Naudé (083 739 9303).

 

 
 
 

Viewed: 1561

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT