ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die pofadder is nie jou speelmaat nie en moet liefs totaal vermy word wanneer dit teëgekom word. Die gif van ‘n pofadder kan jou binne 24 uur doodmaak as dit nie behandel word nie. Al is die teengif doeltreffend teen die byt van ‘n pofadder, is dit steeds in 10% van gevalle noodlottig. Foto verskaf.

Liefs beter om uit hierdie slang se pad te bly

Date: 04 November 2018 By: 

In die koerant se gereelde slangrubriek kyk ons hierdie week na die gevreesde pofadder (Bitis Arietoms).

Die pofadder kry sy naam van die harde blaas wat hy gee teenoor mens en dier as ‘n waarskuwing dat hy in die omgewing is. “Alhoewel pofadders nie baie algemeen in die gebied is nie, word hierdie slang deur die hele Suid-Afrika aangetref en is hy verantwoordelik vir baie ernstige byte,” het plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen gesê.

Die pofadder is ‘n stadig-bewegende slang met die vinnigste pik of byt van alle slange. Met lang giftande van tot 18mm val hierdie slang onder die groep vir skarnieragtige giftand slange. Dit sluit alle voortandslange in, wat se giftande terugvou in die mond en uitspring wanneer die slang byt. “Die pofadder is ‘n lokvaljagter, wat staatmaak op sy kamoeflering om jag te maak op sy prooi.  Hy sal homself versteek langs ‘n knaagdierpaadjie en wag tot die prooi verby kom en hom dan inwag en vang,” het Van Rooyen gesê.

Pofadders se prooi sluit in muise, rotte, paddas en grondvoëls. Selfs klein hase kan gevang word. “Pofadders is redelik humeurig wanneer hulle versteur word en sal hard blaas. Wanneer iemand dus op ‘n pofadder afkom, is dit beter om stadig terug of weg van die slang af te beweeg en hom in vrede te los,” het Van Rooyen gewaarsku.

Volgens Van Rooyen is pofadders meestal aktief deur die nag en sal onder struike, digte gras, langs stompe en klippe skuil deur die dag. Te danke aan hierdie slang se kamoeflering word hy dikwels nie gesien nie en word hy op getrap of raakgevat. “Pofadders het baie sterk sitotoksiese gif wat iemand se dood kan beteken binne 24 uur indien die persoon nie behandeling ontvang nie. ‘n Byt van ‘n pofadder is baie ernstig en weens die gif baie, baie onaangenaam,” het Van Rooyen gewaarsku.

‘n Pofadder se gif veroorsaak uiterse pyn, uitermatige swelling, blase om en by die bytplek, weefsel en selle word vernietig en ‘n mens se niere kry skade. “Teengif is doeltreffend teen die gif van ‘n pofadder, maar 10% van byte is noodlottig. Dit is dus ‘n slang om heeltemal te vermy,” het Van Rooyen gesê.

Pofadders gee lewendig geboorte aan omtrent 20 tot 40 kleintjies. Hulle lê nie eiers nie en kleintjies is baie klein wanneer hulle gebore word. “As die slang in die erf of huis aangetref word, hou die diere en mense weg van die slang af. Bly op ‘n veilige afstand en hou die slang dop en kontak iemand om die slang te verwyder,” het Van Rooyen gesê. Hyself kan vir hierdie taak geskakel word by tel. 081 217 9213. Alternatiewelik kan Frikkie Venter geskakel word by tel. 082 058 7601. Beide kan ook geskakel word vir inligting oor slange en slangbyte. “Moet asseblief nie slange doodmaak nie. Hulle speel ‘n belangrike rol in die natuur,” het Van Rooyen gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1281

 

 
 

 
 

More photos... 

Shared caption

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT