ADVERTISEMENT:

 

 
 

Boere hoop vir reën eerder vroeër as later

Date: 26 November 2018 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg mag dalk groen voorkom, maar inderwaarheid is die streek, soos baie dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap, vasgevang in die greep van ‘n ernstige droogte.

Van oral oor in die streek word berigte ontvang van wildvrektes. Talle boere voer reeds etlike jare hul vee, maar vanjaar moes baie ook begin om hul wild te voer, net sodat hulle nie vrek nie.

Buiten die wild- en veebedryf wat swaar trek weens die droogte, veroorsaak die droogte eweneens ook kopsere vir neut- en avokadoboere in die Levubu-omgewing.

Een boer, mnr. Jacques Bouwer van die plaas Rabeja, het ‘n analise gedoen van reënvalstatistiek op sy plaas sedert 2015. Volgens Bouwer is hulle gemiddelde reënval vir die Beja/Albasini area so tussen 800 mm en 1 000 mm per jaar. Die jaar 2015 was egter ‘n droë een, met net 484.5 mmm reën. Die reënval in die streek het bietjie opgetel in 2016 met 836 mm, waarvan 357 mm net in Desember van daardie jaar op die plaas gemeet is. Die opvolgende jaar was lekker nat as daar na die totaal van 1 200 mm vir 2017 gekyk word. Bykans tweede derdes van die reën het egter oor slegs ‘n twee-maande periode geval, naamlik 494 in Januarie en 266 mm in Februarie. Tot op hede het Bouwer 682 mm op die plaas gemeet vir 2018, met 397 mm wat in Februarie vanjaar aangeteken is.

“Probleem is dat reën baie skaars is tydens vrugset en die tydperk daarna, wanneer dit krities is vir vrugretensie en vruggroei (Oktober tot Februarie).  Meeste skade word gelei as gevolg van geen tot baie min reën in Junie/Julie, wat grondvog verseker vir die hoofblomtydperk van Julie tot Augustus en dat somerreën dan eers laat arriveer wanneer vrugbehoud en selverdeling afgehandel is,” het Bouwer gesê.

Bouwer sê dat hy opgemerk het dat waterbronne soos fonteine en bergstroompies, wat tradisioneel heelwat water verskaf het, by die dag kwyn. Grondwatervlakke daal ook en beïnvloed reeds heelwat boorgate in die area. “Uiteraard is baie plaasdamme se watervlakke ook reeds baie laag en moet besproeiingskedules aangepas en verlaag word, wat met die gepaardgaande warm dae ‘n direkte negatiewe impak het,” het Bouwer gesê.

Volgens Bouwer veroorsaak die afwisselende warm en ekstreme koue weer ook dat blomme glad nie set nie en by avokado’s veral dat gesette vrugte se vrugbeginsel afsterf en lei tot vingerlinge, ook “cukes” genoem.  “Makadamia set op sekere kultivars was baie goed, maar ekstreme weerpatrone soos 36°C die een dag en dan 13°C die volgende dag lei nie net tot die speen van vrugte nie, maar belemmer vrugontwikkeling baie negatief.  Hierdie ekstreme omstandighede kan ook maklik tot haelneerslae lei wat groot skade kan aanrig op jong oeste,” het Bouwer gesê.

Boere in die Soutpansberg bly egter, ten spyte van die droogte, optimisties dat dit een of ander tyd moet reën. So, wat sê die slim mense by die weerdiens?

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens se langtermyn weervoorspelling vir November 2018 tot Maart 2019 is die El Niño Suidelike Ossillasie (ENSO) steeds in ‘n neurale fase. “ …en alhoewel die meeste voorspellingsmodelle ‘n verstewiging van ‘n El Niño fase aandui ná die vroeë somerseisoen, word daar nie verwag dat dit enigsins ‘n uitwerking sal hê op Suid-Afrika gedurende die eerste helfte van die somer nie,” het die weerdiens gesê.

Volgens die weerdiens word bogemiddelde reënvalomstandighede voorspel oor meeste dele van die somerreënval gebied gedurende die vroeë somer (November, Desember en Januarie). Ondergemiddelde reënval word egter voorspel vir die reënval gebied in die middel-somer tydperk (Desember, Januarie en Februarie), en ook vir die noord-oostelike gedeelte van die land in die laat somer (Januarie, Februarie Maart).

In die algemeen, het die weerdiens gesê, word hoër temperature ook verwag na die einde van die middel- en laatsomer tydperk. Bogemiddelde temperature word veral verwag oor die noord-oostelike gedeeltes van die land. Volgens die weerdiens word daar dus in die algemeen ‘n warmer en droëer somer verwag.

“Kom ons hoop en bid dat dit eerder vroeër as later gaan reën.  Mens, dier en plant kry tans swaar,” het Bouwer gesê.

 

 
 
 

Viewed: 576

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT