ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle me. Marie Malan (77). Foto verskaf.

Soutpansberg se Suster Marie oorlede

Date: 07 December 2018 By: Andries van Zyl

‘n Roudiens sal eerskomende Vrydag gehou word vir die welbekende me. Marie Malan van Louis Trichardt wat op Woensdag, 28 November, in die ouderdom van 77 jaar in Ons Tuiste Ouetehuis se siekeboeg oorlede is.

“Haar gesondheid het die afgelope drie of vier maande geweldig agteruitgegaan ná etlike beroertes,” het haar dogter Elmarie gesê. Baie van die dorp se ouer garde sal haar ma onthou as Suster Marie van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal, waar sy sowat 17 jaar werksaam was.

Marie is op Kersdag 1940 in Mosselbaai gebore. “Ons het so gehoop ons sal darem nog een Kersfees saam met haar haar verjaarsdag kon vier,” het Elmarie gesê.

As jongeling het Marie in die Jonkersberg bosbouplantasies grootgeword. Haar skoolloopbaan het sy op George voltooi.

Ná skool het Marie vir drie jaar verpleegstersopleiding gedoen, eers in George en toe in die Paarl. Sy het ook een jaar se kraamopleiding voltooi by die Karl Bremmer Hospitaal in Belville.

Marie is in 1967 getroud met haar man Johan, wat in die spoorweë was. In 1972 is hy verplaas na Waterpoort, waar Marie gehelp het met die administrasie. Vandaar is die egpaar na Matjiesfontein in Januarie 1975, maar skaars ses maande later is Johan verplaas na die destydse Nylstroom. Hier het Marie weer begin verpleeg.

Aan die einde van 1975 het Marie-hulle weer teruggekeer na Louis Trichardt en in Januarie 1976 het sy by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal begin werk. Hier was sy ‘n bekende gesig tot in 1993, toe Marie besluit het om af te tree as gevolg van haar gesondheid.

Sedert haar aftrede het Marie haar hoofsaaklik besig gehou met tuisverpleging. Vir die afgelope 14 jaar was sy ‘n inwoner van Laat Lente, tot haar gesondheid die kinders genoop het om haar 'n paar maande gelede in Ons Tuiste se siekeboeg te laat opneem.

“Ons as familie wil net baie dankie sê aan die personeel van Ons Tuiste se siekeboeg, asook al die mediese personeel wat haar tot die einde bygestaan het. Dankie ook aan al die familie, vriende en kennisse vir die bystand en woorde van vertroosting,” het Elmarie gesê.

‘n Roudiens vir wyle Marie vind eerskomende Vrydag, 7 Desember, om 11:00 vanuit die Veritas Gemeenskapskerk in Groblerstraat, Louis Trichardt, plaas. Die diens sal waargeneem word deur dr. Philip Venter.

Wyle Marie word oorleef deur haar kinders Elmarie en seun André, skoonseun Christo Coetzee, en kleinkinders Christel, Alessia en Janco.

 
 
 

Viewed: 843

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT