ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Kersfees wonderwerk ... Die 48-jarige Zena Lambrechts van Louis Trichardt sterk goed aan nadat sy Saterdag ‘n hartoorplanting ondergaan het. Foto verskaf.

'n Nuwe hart vir Zena

Date: 08 December 2018 By: Andries van Zyl

Vir ‘n familie van Louis Trichardt is daar geen groter Kersgeskenk, en wonderwerk, as ‘n nuwe hart vir die 48-jarige Zena Lambrechts nie.

In die Soutpansberg is daar bitter min mense wat nie vir die sprankelende Zena ken nie, veral in die gasvryheidsbedryf, van haar jare by Khoroni Hotel, Adam’s Apple Hotel en deesdae van Zena’s Cantina by Kennington Lodge. In dieselfde asem was min mense egter bewus van hoe siek Zena die afgelope paar maande was, so siek dat medici verlede week vir die ergste gevrees het, sou sy nie dadelik ‘n hart- en longoorplanting kry nie.

Zena het sowat twee maande gelede ‘n geruime tyd in die hospitaal in Polokwane spandeer vanweë probleme met ‘n vergrote hart, omdat haar hart die heeltyd so hard moes werk. Sy het sewe jaar gelede haar eerste hartaanval gehad, met ‘n hele klompie daarna wat haar met net 23% hartgebruik gelaat het. Om haar hart te help, is sy toegerus met ‘n pasaangeër.

Met haar opname in Polokwane was haar toestand reeds “touch and go” gewees. Sy kon egter tot so ‘n mate herstel dat sy ontslaan kon word en haar oudste dogter, Sky, se matriekafskeid by Hoërskool Louis Trichardt kon bywoon. Haar jongste dogter, Li-amor, het vanjaar Graad 10 geskryf by die skool.

Alles het goed gelyk en Sky en Li-amor was bly om hulle ma weer by die huis te hê. Die geluk was egter van korte duur. Sowat twee/drie weke gelede moes Zena weer vanweë haar hartprobleem gehospitaliseer word. Sedertdien het haar gesondheid net bly agteruit, tot so ‘n mate dat Zena se gewese man (en ‘n steeds goeie vriend van haar) Billy besluit het dat dit beter sou wees om vir Sky and Li-amor na hul ma toe te vat. “Dit lyk nie goed nie,” het ‘n bekommerde Billy verlede Dinsdag gesê.

Dinge sou nog slegter begin lyk vir Zena-hulle met ‘n prognose dat, buiten vir ‘n nuwe hart, Zena ook ‘n longoorplanting sou moes kry weens ‘n verstopping in een van haar longe. Waar ‘n nuwe hart en long vandaan sou kom, was egter ‘n groot bekommernis. Dit is nie sommer iets wat op kort kennisgewing oor ‘n toonbank beskikbaar is nie.

Saterdagoggend het die Kersfees wonderwerk egter vir Zena-hulle begin plaasvind. “Zena het ‘n hart en long gekry. Ons sit nou by die hospitaal. Sy gaan agtuur in vir die oorplantings. Dankie Here vir die beantwoording van ons gebede in Jesus naam. Ons vertrou dat U die operasie-span vandag gaan versterk en dat U hand die operasie gaan lei. Amen,” het Billy vriende en familie per WhatsApp laat weet.

Zena se operasie sou meer as sewe ure duur, met familie en vriende wat angstig gewag het op nuus vanuit die teater. Billy se dankbaarheid was merkbaar in ‘n WhatsApp-stemboodskap wat hy uitgestuur het kort nadat Zena uit die teater gestoot is. “Zena het half vier uitgekom. Haar nuwe hart klop! Dankie Here!”

Dat Zena se liggaam so gou die nuwe hart aanvaar het, was nie die enigste goeie nuus nie. Billy het Maandag gesê dat dit toe nie eers nodig was vir Zena om ‘n longoorplanting te kry nie. “Hulle kon die probleem met die long sommer op die operasietafel regmaak,” het Billy gesê.

Diegene wat vir Zena goed ken, weet sy is ‘n “vegter”. Hierdie veggees van haar het sy ook duidelik in die hospitaal geopenbaar. Ná die operasie het die medici haar in ‘n koma geplaas waarin sy 48 uur moes bly. Zena het egter ná slegs 24 uur self uit die koma gekom. “Sy het vir ons die thumbs up gegee van agter die glasskeiding waar sy in die kiemvrye afdeling van die hospitaal lê. Sy het sommer ook die verpleegsters uitgetrap oor sy nie haar familie mag sien nie,” het Billy met ‘n glimlag gesê. Hy het egter bygevoeg dat hy kan verstaan waarom hulle Zena in afsondering hou. ‘n Kiem of virus kan in hierdie stadium noodlottige gevolge vir Zena inhou.

Billy het Woensdagmiddag laat weet dat alles tot dusver nog baie goed lyk met Zena. “Soos dinge nou lyk, sal Zena teen Vrydag al kontakbesoeke kan kry,” het Billy gesê.

Billy het namens sy kinders en familie almal bedank vir hulle bystand en ondersteuning met Zena se siekte en operasie. Hy het veral ‘n spesiale woord van dank gerig aan Zena se broer, Keith McGuire, wat vir Zena beide ‘n emosionele en finansiële steunpilaar is met haar siekte en operasie. Hy het ook vir Brian du Plooy en sy vrou Mariska bedank vir alles wat hulle vir die familie vanaf Louis Trichardt doen.

Uit respek vir die familie van die plaaslike hartskenker het Billy gevra dat die koerant nie enige verwysing gee van waar en deur wie die hartoorplanting uitgevoer is nie. “Daardie familie verwerk nog hierdie week die hartseer daarvan om ‘n geliefde te verloor,” het Billy gesê.

 

 
 
 

Viewed: 885

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT