ADVERTISEMENT:

 

 
 

Martie en haar man Tony. Sy het “naweekpas” gekry om eerskomende naweek haar 50ste verjaarsdag by die huis te vier. Foto verskaf.

Martie kry “naweekpas” om verjaarsdag te vier

Date: 14 December 2018 By: Andries van Zyl

Vir die eerste keer sedert ‘n gasontploffing byna haar lewe geëis het, sal die 49-jarige Martie Barnard van Louis Trichardt die naweek weer die binnekant van haar huis kan sien.

Martie is op 15 November in ‘n ernstige toestand opgeneem in 1 Militêre Hospitaal in Taba Tshwane, ure nadat sy ernstig beseer is tydens ‘n gasontploffing by haar werksplek, Gasarc, in die dorp se industriële gebied.

Eggenoot Tony, wat steeds by haar hospitaalbed by 1 Militêre Hospitaal waak sedert die ongeluk, het Maandag gesê Martie het “naweekpas” gekry en kan nie wag om bietjie huis toe te kom nie. “Sy is baie opgewonde om huis toe te kom, veral om haar twee brakkies [twee Foksterriërs genaamd Enos en Snippie] te sien,” het Tony glimlaggend gesê.

Die naweek se huis toe kom is beide ‘n spesiale vergunning en ‘n geleentheid vir Martie – sy vier haar 50ste verjaarsdag hierdie Vrydag!

“Tot dusver gaan dit goed met Martie. Dit is ‘n kwessie van self herstel in hierdie stadium,” het Tony gesê. Hy het bygevoeg dat Martie se gemoedstoestand baie verbeter het vanwaar sy ‘n paar weke gelede was.

Martie se verbande moet steeds elke twee weke geruil word. Sy het tweedegraadse brandwonde aan haar bene, maag, arms en gesig opgedoen in die ontploffing. “Sommige dae het sy nog baie pyn, maar dit kom en gaan,” het Tony gesê. Intussen werk hulle saam hard aan Martie se herstel. “Ek vat haar elke dag so twee keer om bietjie trappe te klim … die linkerbeen pla so ‘n bietjie, maar onder omstandighede gaan dit goed,” het Tony gesê.

Vir Tony en Martie is daar geen ander opsie as om positief te bly nie, veral wat Martie se herstel betref. “Ons bly bid vir volkome genesing met geen letsels nie,” het Tony gesê.

Martie-hulle was klaarblyklik ten tye van die ontploffing besig om gassilinders van ‘n vragmotor af te laai. By nadere ondersoek het dit geblyk dat ‘n asetileen gassilinder ontplof het. ‘n Ondersoekspan van Air Liquide was ure ná die ongeluk op die toneel van die ontploffing om met hul ondersoek te begin. Teen druktyd is daar nog gewag op ‘n finale uitslag van die ondersoek oor die oorsaak van die ontploffing.

Intussen het die personeel van Gasarc almal bedank wat Martie bygestaan het ná afloop van die ontploffing. “Graag wil ons van hierdie geleentheid gebruik maak om ‘n ieder en elk opreg te bedank vir elkeen se hulp tydens die ongeluk. Die gemeenskap van Louis Trichardt is voorwaar staatmakers, en ons kan eerstehands getuig daarvan. Nogmaals baie dankie,” het Gasarc direkteur Estelle Delport in ‘n brief aan die koerant geskryf.

“Dit is met groot dankbaarheid dat ons kan noem dat Martie goed aansterk in 1 Militêre Hospitaal. Baie dankie vir elke boodskappie en al die gebede, ons waardeer dit so. Beide partye is nog besig met ondersoeke rondom die ongeluk. Ons bede is dat u almal ‘n Geseënde Feesseisoen sal ervaar en sien daarna uit om ‘n voorspoedige 2019 met u te deel,” het Delport geskryf.

Wat Tony-hulle betref, fokus hy en Martie in hierdie stadium net op ‘n rustige naweek saam by die huis, voordat sy Maandag weer moet terugkeer hospitaal toe vir verdere behandeling.

 

 
 
 

Viewed: 842

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT