ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hierdie motorfiets is welbekend in die nuwe uitbreiding daarvoor om, veral oor naweke, mense se rus te verstoor deur op en af te jaag in die strate. Die motorfiets self is onpadwaardig met nie een van die talle bestuurders wat oor ‘n lisensie daarvoor beskik nie. Dit is ook nie vreemd om te sien dat die bestuurders telkens geen valhelms dra nie, soos gesien kan word in hierdie foto.

Inwoners nou gatvol vir jaagduiwels op motorfietse

Date: 12 January 2019 By: Andries van Zyl

“Ons is nou net mooi gatvol vir hierdie klomp jongelinge wat so roekeloos in die strate met onpadwaardige en ongelisensieerde vierwiel- en tweewiel motorfietse jaag.”

So het ‘n ontstoke mnr. Dirk Meissenheimer van Louis Trichardt gal afgegaan. Hy is ‘n inwoner van die nuwe uitbreiding wat, soos baie inwoners, deurlopend die geraas en gevaar moet verduur van ‘n arrogante groep jongmense wat die strate as renbaan gebruik.

“Dit gaan nie oor kleur nie. Dit gaan oor die prinsiep. Hulle jaag met ‘n ding wat onpadwaardig is en hulle het nie ‘n lisensie vir daai ding nie. Jy gaan in elk geval nie ‘n lisensie kan kry vir ‘n vierwiel motorfiets nie. So, die bestuurder het nie ‘n lisensie nie en die fiets het nie ‘n lisensie nie, want hy is nie padwaardig nie,” het Meissenheimer gesê.

Volgens Meissenheimer is hierdie jong mense se arrogansie verstommend. “Ek het toevallig nou die dag ‘n laaitie op een van hierdie fietse daar voor Seisoene vasgestrek. Genugtig, was die mannetjie arrogant met my! Ek het hom gevra waar sy lisensie is. Telkens het hy gesê dit is by die huis. Maar sy fiets kan nie ‘n lisensieskyf hê nie, want dit is onpadwaardig. Ek het toe sy pa geskakel … Wat ‘n teleurstelling! Sy pa was net so arrogant! Dié wou by my weet wat ek nou eintlik beplan om te doen aan die saak?”

Dirk se antwoord op die pa se vraag was eenvoudig. “Ek het vir hom gesê jy moenie huil as jou kind se kop daar op die sypaadjie lê. So moet jy ook nie huil as iemand jou kind met ‘n klip gooi of ‘n klap gee nie. Hierop het die pa vir my gelag ... so, dit is die arrogansie waarmee ons as inwoners te doen kry. In baie gevalle lê die probleem by die ouers,” het Meissenheimer gesê.

Meissenheimer het vertel dat een van die einste klein moeilikheidmakers die een middag in Hlangananistraat afgejaag gekom het. Sy seun, Dirk junior, werk by Thompson’s Motors. “Dirk het op hom geskreeu om stadiger te ry, waarop die mannetjie hom die middelvinger gewys het en die motorfiets uittartend ‘geref’ het. Wys jou die arrogansie! Hy is verkeerd, dan maak hulle so.”

Meissenheimer het gesê hy het Maandag die saak met beide die plaaslike verkeersafdeling en die polisie gaan opneem. “Ek het hulle gevra of, as ons as publiek die mannetjies [en meisies] kan vastrek en ons bel hulle, hulle bereid sal wees om te help. Al twee het gesê hulle is meer as bereid om te help.”

Meissenheimer het inwoners met klagtes hieroor uitgenooi om hom te skakel by tel. 082 789 3927. Alternatiewelik kan hulle die verkeersafdeling se bystandsnommer skakel by tel. 083 677 9923, of die polisie se offisier aan diens by tel. 079 889 6222.

 

 
 
 

Viewed: 1213

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die bestuurder van hierdie onpadwaardige motorfiets het verlede Vrydag vir ‘n inwoner die middelvinger gewys nadat dié vir hom geskreeu het hy moet stadiger ry. Volgens Dirk Meissenheimer is mannetjies soos dié se arrogansie skrikwekkend. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT