ADVERTISEMENT:

 

 
 

Thys en Hester Beukes groet Louis Trichardt vir 'n nuwe begin op Gordonsbaai.

Soutpansberg groet vir Thys en Hester Beukes

Date: 17 January 2019 By: Jo Robinson

Ná 36 jaar groet Thys en Hester Beukes Louis Trichardt vir ‘n nuwe begin op Gordonsbaai. Die egpaar het diep spore in die gemeenskap getrap.

Hulle het mekaar in Bloemfontein ontmoet toe Thys as ‘n bourekenaar en Hester as ‘n maatskaplike werker studeer het en is in 1979 getroud.

In 1983 het Thys vir ‘n firma in die destydse Pietersburg die eerste bourekenaarskantoor in Thohoyandou in Venda geopen. “Destyds was daar net een kruidenierswinkel in die dorp en meeste mense het mekaar se name geken,” het Hester gesê. “Ek was toe swanger, maar ons het met die hulp van een swart man en ses vroue ons eie huis in Buffelstraat gebou, en daar het ons gewoon tot die einde van 2016.”

Hulle vier kinders, Es-Mari, Emené, Denis en Matthys, is almal in die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gebore. “Met dr. Van der Walt se bekwame hulp.” Hester dink baie aan die gelukkige tye toe hulle kinders besig was om hul skoolloopbane in Laerskool Soutpansberg en Hoërskool Louis Trichardt te voltooi. Die familie was al die jare intens betrokke by skoolaktiwiteite. Hulle was lidmate van die NG Kerk, waar hulle betrokke was by die reëlings vir al die destydse jaarlikse kosstalletjies. “Iemand het gerasperde uie en al die dosyne gebakte koeksisters saam in die vrieskas gebêre en toe proe al ons koeksisters soos uie. Ai, wat ‘n tranedal!”

“Ons was lede van die karavaanklub … al ons kinders het hul broeke deur gegly by Grootklip se sement glybaan. Ons het ook die plaaslike gym ondersteun … Toe Shaun Brennan en die fietsryklub met die Zero to Hero uitdaging begin het, het ons as gesin saam met 100 persone in die dorp begin fietsry. Ons het saam met die klub en later ons klein groepie Speke pelle die paaie in die dorp en omgewing plat gery - tolhek toe en terug, Tshipise toe, Vivo toe … Daar was ook ‘n Walk and Run for Life waarvan ons deel was. Ons het die voorreg gehad om saam met oom WAS Nel en ‘n groep mense as lede van die Gideons derduisende Bybels te plaas by skole, hospitale en klinieke in die hele Vhembe Distrik. Dankie, oom WAS. Ná die geboorte van my oudste dogter in 1983 het ek so gesukkel met borsvoeding dat ek en ‘n vriendin ‘n borsvoeding beradingskursus gedoen het en ander bygestaan het om suksesvol te borsvoed. Ek het selfs dan en wan ‘n artikel oor borsvoeding vir die Zoutpansberger geskryf,” onthou Hester.

Hester en Thys wil baie dankie aan die mense van Louis Trichardt sê. “Niemand moet hier moed verloor nie. Ons glo dat hierdie plek aan die voet van die Soutpansberg die plek is wat die Here vir ons gegee het om te blom. Blom waar jy geplant is en doen wat jou hand vind om te doen,” het Hester gesê. Hester en Thys wil ook dankie sê aan Pastoor Sampie, Daleen, en al die lede en gemeente van die Agapé Christelike Sentrum. “Vanaf 2000 het ons saam gegroei en geleer. Julle sal altyd familie wees.”

 

 
 
 

Viewed: 850

 

 
 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT