ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die ses Bonsmara beeste, waarvan drie dragtig was, van plaaslike boer Henry Pretorius wat tydens Maandag se hewige donderstorm deur weerlig doodgeslaan is. Foto verskaf

“Buitengewone” weerlig slaan ses beeste dood

Date: 09 February 2019 By: Jo Robinson

Menige inwoner is dit eens dat Maandagaand se hewige donderstorm “anders en ongehoord in intensiteit” was vir die omgewing. Vir een boer het dit ook in 'n tragedie geëindig.  

Mnr. Henry Pretorius, wat net buite Louis Trichardt in die Rondebosch area boer, het vroeg Dinsdagoggend ‘n skokvonds gemaak – ses van sy prag Bonsmara beeste is tydens die vorige aand se storm deur weerlig doodgeslaan. Die ses beeste het teen mekaar dood gelê onder ‘n boom waar hulle vermoedelik gaan skuiling soek het teen die weerlig en reën. Drie van die koeie was dragtig en sou oor twee weke kalf. Twee verse en ‘n os is ook doodgeslaan.

“Ons het saam met vriende in die omgewing gebraai toe ons ‘n harde donderslag gehoor het,” het Pretorius gesê. “Dit slag was so hard, ons het amper van ons stoele af geval. Ek kon egter nie dink wat ek die volgende dag sou vind nie.”

Die familie is kort na 23:00 huis toe. Pretorius was vroegdag die volgende oggend op en het soos gewoonlik ‘n draai gaan maak by sy beeste. Dit was toe dat hy op die tragedie afgekom het.

“Snaaks genoeg, daar was geen skade aan die boom nie. Daar was ook geen brandmerke op die grond nie,” het Pretorius gesê. Een ding is egter seker - weerlig het die beeste getref. “Uiterlik was daar nie veel skade aan die beeste nie, maar binne-in die vel het hulle verbrand – jy kon dit ruik,” het Pretorius gesê.

Pretorius het ook gesê dat Maandagaand se weerlig nie geklink het soos die normale donderstorm nie. “Ons bly al 40 jaar hier en dit is die eerste keer dat so iets gebeur op die plaas,” het Pretorius gesê.

Buiten vir die hartseer oor sy beeste het Pretorius ook geweldige finansiële verlies gely. Met ses van sy kudde van 35 Bonsmaras dood, asook die drie ongebore kalfies, beraam Pretorius hy het sowat R100 000 verloor. “Maar daar is niks wat ons daaroor kan doen nie … Ek het vir ‘n vriend gevra of hy die karkasse soek om vir sy leeus te voer? Hy het dadelik gesê ek mors my tyd, want die leeus sal nie die vleis van ‘n dier eet wat deur weerlig getref is nie. Sy raad was dat ek maar ‘n gat moes grou en hulle begrawe,” het Pretorius gesê.

Van ons inwoners met ‘n goeie geheue sal sekerlik die vorige keer onthou wat weerlig ‘n boer se beeste doodgeslaan het. In November 2011 het die koerant geskryf oor mnr. Brink Schlesinger, wat 21 dragtige verse verloor het nadat weerlig hulle getref het op sy plaas Black Stone bo-op die berg by Waterpoort. “Dit is so ‘n skok om beeste so te sien,” het Schlesinger destyds gesê.

Maandag se insident was weereens bewys van die ongelooflike krag van ‘n weerligstraal, wat deur baie mense onderskat word. Volgens statistieke word sowat 200 mense elke jaar deur weerlig in Suid-Afrika doodgeslaan. Die afgelope twee weke is vier plaaswerkers dood nadat hulle op ‘n plaas naby Upington deur weerlig getref is. ‘n Jong roei-afrigter van Germiston, Nick Whaits, is ook deur weerlig doodgeslaan. Twee mense is in KwaZulu-Natal deur weerlig gedood, en aan die begin van Januarie is twee mense wat op ‘n koppie in Johannesburg gebid het, doodgeslaan.

Volgens Weather SA moet mense so vinnig moontlik onder dak kom of in ‘n voertuig klim tydens ‘n donderstorm. Rubber stewels en ‘n motor se bande sal jou nie kan beskerm as jy deur weerlig getref word nie, maar in die geval van ‘n voertuig sal jy veiliger wees, mits jy nie aan die metaalwerk van die voertuig raak nie. In geboue is dit wys om weg te bly van vensters, metaal en elektroniese toestelle soos telefone. Moet ook nie bad of stort tydens ‘n donderstorm nie. Bly ook weg van alleenstaande bome en oop plekke, en natuurlik, moet onder geen omstandighede besluit om te gaan swem nie.

 

 
 
 

Viewed: 918

 

 
 

Jo Robinson

Jo joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2018 pursuing a career in journalism after many years of writing fiction and non-fiction for other sectors.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT