ADVERTISEMENT:

 

 
 

So nou en dan het mens darem bietjie hulp nodig langs die pad. Dave was baie bly vir die “lift” wat hy agter op ‘n trekker kon kry deur ‘n spesifieke seksie dik sand op pad na Rundu. Foto verskaf.

Dave amper halfpad op pad na Victoria Valle

Date: 14 February 2019 By: Andries van Zyl

Avonturier Dave van Graan het Maandag ‘n paar benoude oomblikke in die noorde van Namibië beleef toe ‘n groep mans wat sy selfoon gesteel het hom amper met hul motor omgejaag het.

Die 62-jarige Dave van Louis Trichardt het op 15 Januarie vanaf Ruacana in Namibië na Victoria Valle begin stap om bewusmaking te kweek rondom renosterstropery en onwettige jag.

“My foon het uit my waentjie geval. Ek het dit gou agtergekom en gaan soek. Ek het gesien ‘n voertuig vol jong mans het die foon opgetel en toe ek hulle wou stop, het hul op my afgejaag en ek moes spring vir my lewe,” het Dave gesê, wat die saak by die polisie aangemeld het.

Buiten vir hierdie drama is Dave sterk op pad na die halfpadmerk van sy epiese staptog van 1 600 km. Hy het vroeër die week die 700km mylpaal bereik. Die Zoutpansberger het Woensdag weer kontak gemaak met Dave, nadat hy ‘n paar dae van die lug af was weens die diefstal.

“Mens beplan daarvoor. Ek het juis my rekenaartablet saamgebring vir so ‘n gebeurtenis,” het Dave gesê.

Dave is van die teerpad af en het hom Woensdagoggend op die gruispad al langs die Okavangorivier tussen Rundu en Divundu bevind. “Goeiemôre uit ‘n baie nat Caprivi. Dit reën nou al twee dae. Ek kry nie my klere droog nie,” het Dave per WhatsApp laat weet.

Dave was opgewonde dat hy besig is om die halfpadmerk van sy staptog te bereik. Hy was positief en goed uitgerus na ‘n rustige nag langs die pad. “Gelukkig het die reën gestop toe ek opgepak het, maar toe ek begin stap toe begin dit weer reën. Ek is deurnat, maar soos hulle sê: It comes with the territory,” het Dave gesê. In daardie stadium het hy skuiling gevind in ‘n verlate hut langs die pad waar hy kon wag vir die reën om te stop en ‘n bietjie koffie te drink. “My lyf is 100% en ek het geen skeet of kwaal nie,” het Dave gesê.  

Iets wat Dave sê hom egter meer en meer begin opval, is die absolute gebrek aan wilde dierelewe langs die Namibiese noordgrens - ‘n area wat eens ‘n wildlewe paradys was. “Mens kan dit nie glo nie. Geen [wilde] diere nie, net bokke, beeste en donkies. Elke veewagter loop met ‘n pyl en boog of ‘n kettie en hier is so baie honde dat niks sal oorleef nie,” het Dave gesê.

Volgens Dave is habitatvernietiging die rede vir die gebrek aan wildlewe. “Dit is een lang plaas en village na village al die pad. Bome word afgekap, die slash and burnboerderymetode, en hier is erge oorbevolking,” het Dave gesê.

Volgens Dave is die Caprivi pragtig waar daar nie geboer word nie. “Mens verwag wild, maar hier is net voëls,” het Dave gesê. Dit het hom opnuut laat fokus op sy missie om bewusmaking te kweek rondom die bewaring van Suider-Afrika se wildlewe.

Wat die res van die week betref, wil Dave graag nog hierdie week sy halfpadmerk bereik. Sy plan was om Woensdagaand sowat 35 km vanaf Divundu te oornag en die dorp teen Vrydag te bereik. Op ‘n vraag of hy darem bietjie gaan feesvier as hy die halfpadmerk bereik, was sy antwoord: “Ek gaan verseker bietjie celebrate en beplan om by Ngepi Kamp oor te staan vir die naweek.”

Inwoners wat Dave se avontuur “lewendig” wil volg, kan klik op sy tracking link by https://raceview.live/race/racemap/dave-van-graan-kunene/.  Alternatiewelik kan hulle hom op sy Facebook-blad, Dave van Graan, volg. Persone is ook welkom om sy bewusmakingsveldtog finansieel te ondersteun. Vir meer inligting hieroor kan Dave se vrou, Jacqui, geskakel word by tel. 082 829 5421.

Dave het verskoning gevra vir die gebrek aan nuwe foto’s op sy Facebook-blad. Al sy foto’s was op sy foon wat gesteel is.

 
 
 

Viewed: 441

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Dave vertoon sy nuwe stapstewels, een van twee pare, wat ‘n anonieme persoon vir hom gereël het. Die skoene is al die pad vanaf Windhoek na Rundu vir hom gebring. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT