ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 46-jarige mnr. Johan Koekemoer, wat vroeër die week deur die polisie as vermis aangedui is. Sy vrou het egter Dinsdagaand aan die Zoutpansberger gesê dat sy die oggend met hom gepraat het en dat hy nie meer vermis is nie. Foto: Limpopo SAPS.

Johan weg, maar weer gevind

Date: 15 March 2019 By: Andries van Zyl

Iets wat nie elke dag gebeur nie, veral nie in ‘n redelike klein gemeenskap soos dié van Louis Trichardt nie, is dat mense sommer net vermis raak. Derhalwe het die polisie se aankondiging dat hulle op soek is na die 46-jarige mnr. “Johannes Michal Koekemoer” vir baie as ‘n skok gekom.

Die Zoutpansberger het Dinsdagoggend die nuus van Johan, soos hy plaaslik bekend is, se verdwyning op die koerant se web- en Facebook-blad geplaas. Dit het wydverspreide reaksie ontlok, met meer as 4 000 mense wat via sosiale media bereik is. Van dié het 1 217 Facebook-gebruikers gereageer op die nuus, terwyl 158 mense die berig met vriende en ander groepe gedeel het. In kort, vir Louis Trichardt was dit groot nuus.

Almal wat gereageer het, het die hoop uitgespreek dat Johan vinnig en ongedeerd gevind sou word. Daar was ook ‘n aanlyn-gebedsgroep wat vir Johan gebid het.

Volgens die polisie se verklaring het Johan op 8 Februarie sy huis in Louis Trichardt verlaat om na Pretoria te reis. Die familie se laaste kontak met hom was op 1 Maart toe hy hulle geskakel het. Daarna kon hulle hom nie weer op sy selfoon bereik nie en hy is as vermiste persoon by die polisie aangemeld.

Dinsdagmiddag was daar egter hoop. Een Facebook-gebruiker het laat weet dat Johan gevind is. Die Zoutpansberger het dadelik die inligting met die polisie opgevolg, maar provinsiale polisiewoordvoerder kol. Moatshe Ngoepe het aangedui dat hulle geen kennis daarvan dra dat Johan opgespoor is nie.

Intussen het die Zoutpansberger kontak gemaak met Johan se familie. Die idee was om Dinsdagaand ‘n onderhoud met Johan se vrou, Susan, te voer om uit te vind hoe dit met hulle gaan te midde van die trauma van Johan wat vermis is.

Die koerant het kort voor 18:00 telefonies met Susan gepraat en daar was goeie nuus. “Julle kan ophou bekommerd wees oor Johan. Ek het vanoggend met hom gepraat,” het Susan gesê. Sy het bygevoeg dat die persoon waar Johan blykbaar tuisgaan in Pretoria ook later bevestig het dat Johan wel daar is.

Met Ngoepe se aanduiding dat hulle Johan steeds as vermis beskou, het die Zoutpansberger vir Susan gevra of sy die polisie daarvan in kennis gestel het dat sy met Johan kontak gehad het. Hierop het sy gesê dat sy deur die polisie ingelig is om saam met Johan, wanneer hy terugkeer huis toe, na die polisiestasie te kom sodat die saak gesluit kan word.

Ngoepe is ná die gesprek met Susan weer daarvan ingelig dat Johan volgens sy familie nie meer vermis is nie. Ngoepe het egter Woensdagoggend weer aangedui dat hulle steeds vir Johan as vermis beskou en dat die saak nog oop is. “Ons sal vir hom bly soek totdat die klaer die saak by die polisie kom toemaak. As polisie neem ons klagte van vermiste persone baie ernstig op en moet ons onsself van alle feite vergewis voordat ons kan aanbeweeg,” het Ngoepe gesê.

Of die polisie Johan steeds as vermis beskou of nie, die algemene gevoel was egter een van blydskap en verligting dat Johan weer gevind is.

 

 
 
 

Viewed: 815

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT