ADVERTISEMENT:

 

 
 

Op plekke is die straatsmouse se stalletjies tot teenaan die padoppervlakte gebou. Dit het tot gevolg dat mense doodeenvoudig in die middel van die pad stop om iets by die stalletjies te koop, soos in hierdie foto gesien kan word. Foto verskaf.

Levubu inwoners raadop met straatsmouse

Date: 17 March 2019 By: Andries van Zyl

Almal ervaar tans ekonomiese druk en dit is sekerlik te verstane dat meer en meer mense, veral in die informele sektor, al harder moet werk om kos op die tafel te sit. Maar wat gemaak as dit vir hulself en vir ander ‘n gevaar begin inhou?

Inwoners van Levubu ervaar tans ‘n enorme probleem juis hiermee, naamlik dat straatsmouse letterlik besig is om hul padstalletjies tot op die teeroppervlakte van paaie in die omgewing te bou.

Levubu inwoner me. Lana Hoffman sê hulle is nou al raadop met die probleem van hierdie onwettige stalletjies. Sy het intussen die Levubu Concern Group gestig om die probleem aan te spreek. “Ons het die munisipale bestuurder, polisie ensovoorts verlede jaar bymekaar gehad vir 'n vergadering. Tydens die vergadering is die probleem van rondloperbeeste op die R524 (Louis Trichardt/Thohoyandou-pad) ook bespreek. Almal het saam na die stalletjies gery en hulle 'n waarskuwing gaan gee, en dit blyk die einde van die saak te wees,” het Hoffman gesê.

Niks het verder gebeur nie en die stalletjies is steeds daar. Inteendeel, hulle word blykbaar meer.

Volgens Hoffman weet die verkeersbeamptes in die streek dat hulle kan optree teen die eienaars van die stalletjies en die mense wat doodeenvoudig in die middel van die pad stop om iets by die stalletjies te koop. Sy het spesifiek verwys na ‘n voorval sowat drie weke gelede. “Ek het 'n verkeersman gestop wat by 'n motor wat in die pad gestaan en iets by so ‘n stalletjie gekoop het, verbygery het. Hy was gelukkig nie arrogant nie en het omgedraai en vir die persoon 'n boete gaan gee. Toe vra ek hom WAT ek aan die stalletjies kan doen, want die polisie doen niks en die munisipaliteit ook nie. Hy het my aangeraai om na die polisie se streekkantoor in Thohoyandou te gaan,” het Hoffman gesê.

In hierdie stadium blyk dit ‘n geval te wees van “tussen die hand en die mond val die pap op die grond”, met die onderskeie wetstoepassers wat blykbaar nie weet wat om te doen nie. Inwoners wat gereeld tussen Louis Trichardt en Thohoyandou reis is sekerlik bewus van die gevare op die pad, veral vanaf Tshakuma verder oos. Ten minste het die Departement van Kleinsake-ontwikkeling in Augustus 2016 ‘n bedrag van R4,8 miljoen beskikbaar gestel vir die verdere ontwikkeling van die Tshakuma Vlooimark. Honderde informele handelaars verkoop daagliks hulle goedere daar, met honderde permanente werksgeleenthede wat deur die mark moontlik gemaak word.

Die probleem van straatsmouse is egter nie uniek aan Levubu of die streek nie. Dit is egter nie altyd ‘n maklike probleem om op te los nie. Lesers sal onthou hoe SANRAL ‘n paar jaar gelede gesukkel het om ontslae te raak van die smouse in die Soutpansberg-bergpas wat probeer munt slaan het uit die hoë volumes verkeersvloei. SANRAL het in 2014 die gebiede waar die verkopers gesit het met houtpaaltjies afgesper. Die smouse het egter net aanhou skuif na areas waar daar nie paaltjies is nie. Dit het letterlik maande geneem voordat meeste van die smouse die handdoek ingegooi het. Vandag is daar nie meer smouse nie, maar talle glo dat die houtpaaltjies wat feitlik tot teenaan die nasionale pad geplant is ‘n groter gevaar inhou vir motoriste as die smouse wat aanvanklik langs die pad gesit het.

 

 
 
 

Viewed: 723

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Inwoners van Levubu ervaar tans ‘n enorme probleem van straatsmouse wat orals stalletjies langs die pad oprig. Plaaslike inwoner me. Lana Hoffman sê hierdie stalletjies is onwettig en veroorsaak ‘n gevaar vir nie net motoriste nie, maar ook die straatsmouse wat die stalletjie bedryf. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT