ADVERTISEMENT:

 

 
 

Vhembe 'n totale gemors!

Date: 05 April 2019 By: Andries van Zyl

“Ek moet eerlik wees, ek weet nie wat aangaan in die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) nie. Dit is ‘n totale gemors!”

Dit was Woensdag die woorde van plaaslike DA-raadslid Brian du Plooy na aanleiding van die jongste en soveelste watertekort in Louis Trichardt en omstreke die afgelope paar weke. “Toe ek hulle algemene bestuurder oor water in Vhembe eergisteraand [Maandag] bel en sê daar is nie water in die dorp nie, toe sê hy vir my daar ís water in die dorp. Met dit kry ek die volgende oggend ‘n boodskap wat sê die pompe by die Albasinidam werk al vir twee dae nie. Hy moet mos kennis dra daarvan, so hy lieg openlik!” het Du Plooy gesê.

Du Plooy as plaaslike politikus probeer waar hy kan om mense te help met hulle waterprobleme. Dit is egter ‘n uiters ondankbare werk en beslis nie iets wat hy doen om so kort voor die verkiesing stemme te werf nie. “Ons probeer help en fasiliteer waar ons kan. Dit is egter nie my werk om water te verskaf aan die dorp nie, maar wel dié van die VDM,” het Du Plooy gesê.

Die VDM se kroniese versuim om ‘n konstante watertoevoer te verseker kan sekerlik die beste opgesom word in inwoner Bruce Murray se woorde. Volgens hom onthou hy nog goed die opskrif in die Zoutpansberger, “Maar kan jy dit drink?” ‘n paar jaar gelede toe modderige water uit die dorp se krane gevloei het. Min, sê hy, het inwoners daardie tyd geweet dat modderige water steeds veel beter is as geen water nie. “Ons is al so gatvol vir onbevoegde munisipale bestuur dat ons nie eers meer daaroor praat nie,” het Murray gesê.

Maar terug na Louis Trichardt en omstreke se kroniese watertekorte. Plek-plek het daar die afgelope paar weke protesoptrede uitgebreek in omliggende woonbuurte oor die VDM se deurlopende swak dienslewering. “Ek weet regtig nie wat om te maak nie! Natasha Mazzone (LP en die DA se Skaduminister van Openbare Ondernemings) kom af, maar ongelukkig eers die 9de of 10de April, dan gaan ons ‘n groot storie maak van die waterkwessie in hierdie omgewing … Is dit nodig dat mense so onkundig en so arrogant is?!” wou Du Plooy weet. Hy het bygevoeg dat hulle die Menseregtekommissie gaan vra om in te gryp.

Daar is ook meer en meer ‘n gevoel by inwoners, wat bloot moet aanhou belasting betaal met feitlik geen teenprestasie nie, dat VDM-amptenare daadwerklik krimineel vervolg moet word. “Ek stem 100% saam. Met al die korrupsie en geld wat gesteel [met verwysing na die VBS skandaal] sit hulle in ‘n erge finansiële verknorsing. Dan sit mens nog met onkundigheid en arrogansie. Ek dink werklik hulle is besig om opsetlik op te tree,” het Du Plooy gesê.

Du Plooy sê hy staan steeds verstom oor waarom die nasionale regering nie ingryp by Vhembe nie, veral gesien in die lig van die komende verkiesing en toenemende publieke verset teen die VDM weens korrupsie en swak dienslewering. “Ons het al telkens gevra om die VDM onder administrasie te plaas. Hulle gee net geen gehoor daaraan nie,” het Du Plooy gesê.

Laasgenoemde is egter politieke kwessies wat inwoners niks help as die krane droog is nie. So, waarom is daar weer nie water nie en wanneer gaan daar weer water wees? Volgens Du Plooy is al drie pompe by die Albasini stukkend. Dit sluit die groot pomp en twee kleiner pompe in. “Die groot ding is die onbevoegdheid van die kontrakteurs wat aangestel word om herstelwerk te doen. Die pompe word reggemaak, maar ‘n dag of wat later breek hulle net weer. Daar word geen daaglikse onderhoud op die pompe gedoen nie,” het Du Plooy gesê.

Die VDM se munisipale woordvoerder, mnr. Moses Shivambu, het Woensdag by navraag gesê dat die groot pomp “gebrand” het. “Die motor sal vandag getoets word. As hy werk, sal daar teen 17:00 begin word om water te pomp. As hy nie werk nie, sal daar tot Saterdag gewag moet word om die pomp te vervang,” het Shivambu gesê.

Teen druktyd was daar nog geen sekerheid of die pomp werk nie. Een ding wat wel seker is, is dat daar geen onmiddellike oplossing vir Louis Trichardt en omstreke se waterprobleem is nie.

 

 
 
 

Viewed: 685

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT