ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Tony Strydom (45) wat op 2 Julie 2016 op ‘n kleinhoewe buite Louis Trichardt vermoor is. Sy moord het die afgelope week ‘n dramatiese wending geneem met sy vrou en seun wat in verband met sy dood in die hof op Louis Trichardt verskyn het. Foto verskaf.

Vrou en seun in hof oor moord

Date: 14 April 2019 By: Andries van Zyl

Bykans drie jaar later hoop ‘n 69-jarige ma van Louis Trichardt dat sy uiteindelik antwoorde sal kry op wie presies verantwoordelik was vir haar seun se moord op ‘n kleinhoewe net buite die dorp.

“Ek wil nog al die tyd weet wat dié dag gebeur het,” het me. Magda Strydom, ma van die vermoorde mnr. Tony Strydom (45), Maandag gesê.

Tony het saam met sy tweede vrou, Rieta Strydom (née Brown), en sy seuns, Hendrik en Pieter, in ‘n huurhuis op een van die Ridgeway-plotte (aangrensend tot Leeustraat) gebly. Sy liggaam is Saterdag, 2 Julie 2016, in die veld nie ver van sy huis af nie, gevind deur sy twee seuns. Hulle het volgens hulle verklaring aan die polisie destyds gesê hulle het na hom gaan soek toe dit begin donker word en hy nie huis toe gekom het nie. In daardie stadium het die familie aangevoer dat Tony vroeër die dag alleen op die plot se skietbaan sou gaan teiken skiet het.

Sedert sy liggaam gevind is, was die omstandighede wat gelei het tot sy dood ‘n raaisel. Die nadoodse ondersoek sou aan die lig bring dat hy dood is vanweë ‘n enkele koeëlwond in sy rug. Dit het die moontlikheid van ‘n skietongeluk uitgeskakel. Dan was daar die moontlikheid dat hy geskiet is tydens ‘n rooftog. Al wat egter vermis was vanaf die toneel was sy vuurwapen. Sy persoonlike besittings en beursie was nog in sy bakkie. Weens die bevindinge van die nadoodse ondersoek het die polisie ‘n moordsaak geopen.

Rieta was destyds hewig ontsteld oor gerugte wat die rondte begin doen het dat sy en die seuns betrokke was by Tony se dood.  “Daar word vir my vertel dat ek hom sou doodgeskiet het vir sy geld ... Ek is moeg vir dié stories … Nog iemand het uit die Vrystaat gebel en gesê hulle het gehoor dat sy seuns hom doodgeskiet het en wou weet of dit waar is,” het Rieta in ‘n onderhoud met die Zoutpansberger gesê twee weke na Tony se dood.

Met geen verdagtes en geen nuwe leidrade nie het die polisie eers die saak van moord na ‘n geregtelike doodsondersoek verander en daarna die saak gesluit. Die saak sou egter verlede week ‘n dramatiese wending neem met die nuus dat die nou 66-jarige Rieta en Tony se seun Hendrik (25) gearresteer is en Vrydag in die hof op Louis Trichardt verskyn het op aanklag dat hulle Tony vermoor het. Hul arrestasie volg nadat Rieta na bewering weens ‘n skuldige gewete aan ‘n familielid sou erken het wat presies die dag van Tony se dood gebeur het.

Alhoewel die presiese omstandighede wat tot Tony se dood gelei in die opvolgende hofsaak duidelik sal word, doen gerugte die rondte dat Rieta en Hendrik teenwoordig was tydens Tony se dood. Wie die sneller getrek het, sal deur die hof bepaal moet word, maar klaarblyklik sal die verweer wees dat Tony ‘n uiters afbrekende verhouding van mishandeling met sy vrou en seuns gehad het.

Rieta en Hendrik is elk op R1 000 borgtog vrygelaat. Hul saak is uitgestel tot 24 Mei vir verdere ondersoek. Teen druktyd is nog ‘n arrestasie in verband met die saak verwag, maar dit kon nie bevestig word nie.  

“Laat hulle tronk toe gaan! Hoekom het hulle stilgebly?” het ma Magda op die nuus van die twee se arrestasie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1110

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT