ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 64-jarige Elsa Louw van Louis Trichardt met haar swaar-verbinde regterarm. Sy het byna die arm verloor nadat sy deur ‘n boerboel in die straat aangeval en verskeur is.

Boerboel gryp vrou voor hospitaal

Date: 05 May 2019 By: Andries van Zyl

‘n Vrou van Louis Trichardt sal gelukkig wees om 50% gebruik van haar regterarm te behou, nadat sy deur ‘n buurman se boerboel in die straat verskeur is. Dit is nou te sê as daar nie verdere komplikasies is wat sal veroorsaak dat sy die totale gebruik van die arm verloor nie.

Die 64-jarige Elsa Louw vertel dat sy verlede Woensdag so tussen 17:00 en 18:00 saam met haar kleindogter, die sewejarige Anouk Friel, haar twee worshondjies en haar Skotse Terrier gaan stap het. Die hondjies was aan leibandjies gewees.  

Elsa, wat skuins oorkant die Zoutpansberg Privaathospitaal in Joubertstraat bly, sê dit was vir haar lekker om bietjie tyd saam met haar kleindogter te spandeer wat al die pad vanaf Engeland saam met ma Elsie (Elsa se dogter) vir haar kom kuier het.

Juis omdat Elsa bang is vir honde, het hulle besluit om teenaan Laerskool Louis Trichardt se heining, antikloksgewys om die skool te stap. Hulle was byna terug by die huis toe die drama begin het.

‘n Buurman van Elsa-hulle het aangery gekom, gestop, sy huis se hek oopgemaak en ingery. “Ek dink ek het die hond gesien dieselfde tyd wat hy my gesien het,” het Elsa gesê.

Die boerboel het uit die erf gestorm. “Gelukkig het hy nie vir Anouk gegaan nie! Hy het wel vir my Skotse Terrier gekom. Ek het afgebuk om die Terrier op te tel, toe gryp die boerboel my aan die arm,” het Elsa gesê.

Die boerboel het vir Elsa onderstebo geruk en soos ‘n lappop op die grond begin rondruk. Met dié, vertel Elsa, het die buurman se seun uitgehardloop en die boerboel van Elsa afgeruk. Elsa sê die buurman het ook uitgekom. “Sy woorde aan my was ‘F@#k vrou, kyk hoe lyk jou arm!’”

Intussen het Elsie ook uitgehardloop gekom. Freddie, Elsa se man, was agter in hul erf toe die aanval plaasgevind het. “Ek het die rumoer gehoor, maar eers toe ek hoor hoe gil-huil Anouk het ek besef daar is groot fout,” het Freddie gesê.

Gelukkig het die aanval reg langs die privaathospitaal plaasgevind. Elsa is sommer van die straat by die hospitaal ingehelp. ‘n Vinnige ondersoek het bevind dat Elsa uiters ernstige spier- en weefselbeskadiging opgedoen het en dat die hond se tande haar slagaar in die arm met millimeters gemis het. Die prognose was nie goed nie. “Die dokter het vir my gevra of ek medies het. Ek sê toe ja en net daar sê hy dat hy glad nie verder aan my gaan werk nie. Dit is net te gevaarlik. Sy aanbeveling was dat ek dadelik spesialisbehandeling nodig het en met dié het ons deurgejaag na die MediKliniek in Tzaneen,” het Elsa gesê.

Elsa sê dat sy voor agt daardie aand geopereer is om te help om meeste van die skade aan die arm te herstel. Sy moes ‘n tweede operasie Donderdag ondergaan en die dokters wou haar nie laat huis toe gaan nie. Maar ná die drama en die trauma was daar ‘n belangrike gebeurtenis wat Elsa nie die naweek kon misloop nie – die huwelik van haar ander dogter, Sanet, met nou skoonseun Francois Barnard van Louis Trichardt. “Ek is met my mooiste rok en dik verbinde arm troue toe,” het Elsa vertel.

Elsa moes Woensdagoggend weer by die hospitaal in Tzaneen wees. “Die dokter het gebel en gesê hy is baie bekommerd oor die arm,” het Elsa Dinsdagmiddag gesê. “Hy het weer gesê ek moes eintlik nie huis toe gekom het nie,” het Elsa gesê.

Volgens Elsa is sy seker sy sou haar arm verloor het as die buurman se seun nie so vinnig die hond van haar afgeruk het nie. “Onder omstandighede gaan dit goed. Soms as ek my vingers beweeg, voel dit asof alles so ‘n knop maak. Dan kry ek sulke skietpyne,” het Elsa gesê. Sy is realisties oor haar beserings. “Hulle het vir my gesê ek sal nooit weer 100% gebruik van my arm hê nie,” het sy gesê. Haar pyn is egter vir haar nie so erg as die trauma wat Anouk ervaar het met die gebeure wat voor haar oë afgespeel het nie. “Die hele ding het haar vreeslik erg ontstel,” het Elsa gesê.

Wat die hond betref, sê Elsa, het die buurman hom blykbaar nou agter in die erf toegesluit. Sy het intussen die saak by die polisie aangemeld en verwag verdere aksie. “Die aanklaers sal nou moet besluit wat gebeur volgende,” het Elsa gesê. Asof die skade aan haar arm, die mediese kostes en pynlike ongerief van verlede Woensdag nie erg genoeg was nie, het ‘n ander hond hulle nog meer skade veroorsaak. Toe Freddie met Elsa deurgejaag het Tzaneen toe, het ‘n rondloperhond by Soekmekaar voor hulle voertuig ingehardloop en groot skade aan die voorkant veroorsaak. Die hond is dood vanweë die trefslag.

 

 
 
 

Viewed: 1877

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die voorkant van Elsa se arm ná die aanval. Die agterkant van haar arm het eweneens ernstige weefsel- en spierskade opgedoen. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT