ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Linette van der Merwe.

Linette gaan sag heen ná lang lyding

Date: 10 May 2019 By: Anton van Zyl

Linette van der Merwe (gebore De Vaal) was ‘n bekende en geliefde inwoner van Louis Trichardt.

Linette het op 7 Mei 2019 sag heengegaan na ‘n lang lyding. Borskanker is in 2017 by haar gediagnoseer, en nadat sy ‘n mastektomie en behandeling ontvang het, het dit vir ‘n goeie 18 maande baie goed gegaan met haar. In Desember 2018 is lewerkanker by haar gediagnoseer.

Sy het chemoterapie ondergaan, maar het na vyf behandelings baie swak geword en is telkens in die hospitaal opgeneem, waar sy oorlede is.

Linette is op 14 April 1950 in die destydse ou SAVF Kraaminrigting (vandag die Zoutpansberg Privaathospitaal) in Louis Trichardt gebore, die eerste van oorlede Piet en Marietjie De Vaal se vyf dogters.

Sy het haar Pa se talent as skilder van die bosveld-natuurtonele en kremetartbome geërf, en was ‘n kunstenaar in haar eie reg.

Sy het in 1967 aan die Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer, en was ook ‘n lid van die leerlingraad. Hier sou sy ook baie jare later vir ongeveer 20 jaar as huishoudkunde-onderwyseres onderrig gee. Sy het haar aan die destydse Pretoriase Tegniese Kollege (vandag die Technikon) as huishoudkunde-onderwyseres bekwaam.

Linette sal vir die inwoners van haar geboortedorp onthou word om ‘n hele paar redes.

Haar minsame en onkreukbare geaardheid het haar by soveel mense geliefd en bemind gemaak. Dit blyk uit die liefdevolle bystand wat sy in haar laaste maande van soveel vriende en vriendinne ontvang het. Sy het sanglesse, kunsklasse en musieklesse gegee, en menige pragtige matriekafskeidrok gemaak. Sy kon heerlik kook, ook vir groot groepe mense. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie! Sy was altyd vriendelik, stil, statig en afgerond. Sy het die manier gehad om mense na haar toe aan te trek met haar onopgesmukte opregtheid.

Nadat sy getroud is en ‘n draai gemaak het in onder meer Kroonstad en Pretoria, het die gesin hulle vir ‘n paar jaar op Mara Navorsingstasie gevestig. Hierna het hulle Louis Trichardt toe verhuis, waar sy ‘n pragtige huis in Schimpersingel gebou het. Ook hier het haar kreatiwiteit geseëvier.

Hiervandaan is hulle vir ‘n paar voorspoedige jare Kimberley toe, maar ‘n groot ongeluk waarin die hele gesin betrokke was het die gesin se noodlot laat draai, en het sy haar weer in Louis Trichardt gevestig. Sy het vir baie jare ná haar moeder Marietjie se afsterwe alleen na haar bejaarde vader omgesien.

Sy het ook as baie bekwame onderwyseres diens gedoen by onder meer Laerskool Soutpansberg asook by Ridgeway Independent. By CVO Zoutpansberg het sy haar laaste posisie beklee, tot en met Maart 2018. Ten spyte van haar opleiding as huishoudkundige, het sy van Bybelkunde, geskiedenis, kuns en tale, tot wetenskap en wiskunde gedoseer.

Daar kan met reg gesê word dat sy ‘n baie groot rol gespeel het in die vorming van menige volwaardige toekomstige landsburger. Wat egter uitstaan, is haar liefde vir kinders en hulle liefde en respek vir haar. Sy kon dissipline met groot deernis toepas.

Linette het ‘n lewendige belangstelling in die omgewing se geskiedenis en erfenis gehad en was ‘n aktiewe lid van die plaaslike Erfeniskomitee. Sy het ‘n paar jaar gelede selfs haar debuut as skrywer gemaak met die historiese roman oor João Albasini: João – dapperste onder die dapperes, wat ook in Engels vertaal is. Haar bundel sketse, Nonsenspraatjies was baie gewild en sy kon nie voorbly om dit telkens te laat herdruk nie.

Vandag mis haar vier susters die belangrikste element in die sterk “netwerk van susters” waarna hulle so graag verwys. Ná hul moeder se dood het sy as oudste suster gemaklik ingeskuif as die plaasvervanger na wie hulle met soveel vertroue kon opkyk.

Oom Piet het nie verniet altyd verwys na sy “Vyf Sterre” en ook sy huis so gedoop nie!

Met leedwese het die eerste ster nou verskiet, maar ons het wonderlike herinneringe aan haar wat ons vir ‘n leeftyd met ons kan saamdra.

Sy word oorleef deur haar vier kinders, Renda, Pero, Rioni en De Vaal, asook drie kleinkinders, een agterkleinkind, en haar vier susters, Milda, Inarié, Caromin en Pétria.

Die roudiens vir Linette vind plaas op 11 Mei 2019 in die NG Kerk Louis Trichardt (Moedergemeente) om 10:00.

(Die huldeblyk is ingestuur deur Linette van der Merwe se familie.)

 
 
 

Viewed: 1939

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT