ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. David Tshihubu kon niks ander doen as om sy hande in moedeloosheid in die lug te gooi nie, nadat 'n man Maandag met R600 se brandstof weggejaag het sonder om te betaal.

Motoris jaag weg sonder om te betaal

Date: 18 May 2019 By: Elardus van Zyl

“Op plekke soos Louis Trichardt ken die pompjoggies hul klante en gebeur dit bykans nooit dat ‘n motoris net verdwyn sonder betaling nie…”

Hoe sê die Engelse: “Famous last words”?

In verlede week se Zoutpansberger het ons berig oor die probleme waarmee vulstasies te doen het. Die berig was na aanleiding van die skerp styging in die brandstofprys, wat die vraag laat ontstaan het wat sou gebeur as die motoris skielik agterkom hy of sy het nie genoeg geld om te betaal vir die brandstof nie.

Twee van die vulstasiebestuurders waarmee ons gesels het, was dit eens dat dit ‘n rare verskynsel is dat motoriste net wegjaag sonder om te betaal. Dit is egter presies wat Maandagmiddag by Mt Fuji Motors op Louis Trichardt gebeur het.

Volgens me. Heila Oosthuizen, ‘n personeelbestuurder by Mt Fuji, het 'n wit BMW sportmotor net voor 13:00 by die petrolpompe ingetrek. Aanvanklik is die petroljoggie gevra om R400 se brandstof in te gooi, maar die motoris het toe besluit dat dit nie genoeg is nie en wou nog R200 se petrol hê. Die petroljoggie het skaars die petrolklap toegemaak of die BMW het weggejaag, met ‘n ontstelde petroljoggie wat moes toekyk.

Mount Fuji Motors het ‘n saak van diefstal by die plaaslike polisie aangemeld en hulle van al die nodige inligting voorsien. Die BMW sportmotor het onder meer nie nommerplate aangehad nie, wat onmiddellike identifikasie moeiliker maak. Die videomateriaal wat deur die sekuriteitskameras opgeneem is, kan ook in die ondersoek gebruik word.

Die inligting oor die voertuig en insittendes is ook dadelik deurgegee aan die ander vulstasies in die streek, sodat hulle op die uitkyk kan wees vir die booswigte.

 

 
 
 

Viewed: 1442

 

 
 

Elardus van Zyl

 
 

More photos... 

Shared caption.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT