ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Jan en Nedine Mouton. Foto verskaf.

Ongeloof na man sterf binne drie weke na vrou

Date: 24 May 2019 By: Nic Hoffmann

Vir die tweede keer binne die bestek van drie weke het ‘n plaaslike familie ‘n geliefde aan die dood afgestaan. Nuus van die dood van Jan Mouton, ‘n lid van die SA Lugmag op Lugmagbasis (LMB) Makhado, minder as drie weke nadat hy sy vrou, Nedine, begrawe het, het baie met ongeloof en verbystering gelaat.

Jan was verlede Donderdagaand op pad om sy seun, Jacques, te gaan besoek in Pretoria toe hy met sy motorfiets geval en voor ‘n motor beland het ‘n ent voor Polokwane op die N1. Dié het ongelukkig oor sy kop gery en hy is waarskynlik op slag dood.

Jan het gewerk op LMB Makhado en het die rang van sersant-majoor gehad in die PSSM Hawk-afdeling. Sy belangstellings het verder gestrek as net sy werk en hy en Nedine was baie lief vir perdry. Hulle het albei aan die basis se ruiterklub behoort, waar hulle ‘n leidende rol gespeel het.

Nedine is bykans drie weke gelede oorlede na ‘n stryd teen kanker die afgelope paar jaar. Sy was vir ‘n hele aantal jare betrokke by die Zoutpansberg Privaathospitaal as boekhouer en almal daar het hoë waardering gehad vir haar nougesette, uitstekende werk.

Jacques, Jan en Nedine se een seun, is ‘n bekende in die dorp vir sy kranige talent as musikant. Hy is tans in Pretoria woonagtig waar hy besig is om sy loopbaan te vestig. Die ander seun, Wynand, is in Thailand waar hy werk.

Jan se begrafnis vind op Vrydag, 31 Mei, plaas vanuit die Volle Evangelie Kerk op die hoek van Burger- en Rissikstraat. Die diens begin om 10:00 en dit sal ‘n semi-militêre begrafnis wees.

 
 
 

Viewed: 2294

 

 
 

Nic Hoffmann

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT