ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Stefan Wilson (62). Foto verskaf.

Bekende boer en kerkman sterf ná hartaanval

Date: 25 May 2019 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het Saterdag met leedwese kennis geneem van die skielike afsterwe van die 63-jarige mnr. Stefan Wilson. Hy is dood vanweë ‘n massiewe hartaanval te midde van sy deelname aan die weeklikse Parkrun.

“Sy dood was te vinnig en onverwags,” het eggenote Mari Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê. Sy dood was vir haar en hul dogters Athri (29) en Susan (25) nog ‘n onwerklikheid gewees. “Ek kan steeds nie glo hy is weg nie,” het Mari gesê.

Stefan is ‘n boorling van die Karoo. Hy word op 3 Augustus 1956 op Williston gebore en voltooi ook sy skoolloopbaan daar. Ná skool verwerf hy 'n graad in siviele ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch (US), waarna hy sy twee jaar nasionale diensplig voltooi. In dié tyd bekwaam hy homself as offisier met die rang van luitenant.

Stefan begin sy beroepsloopbaan by die destydse Waterwese in Kaapstad en vandaar word hy gesekondeer na die Wetenskaplike en Nywerheid Navorsingsraad (WNNR) in Pretoria, om navorsing te doen vir ‘n MIng (meestersgraad in geotegniese ingenieurswese) wat hy ook aan die US behaal. Dit is hier waar hy sy vrou Mari (nooi Wessels) ontmoet.

Die egpaar is in 1987 getroud, terwyl Stefan betrokke was by die konstruksie van die Uitkeerdam naby Somerset-Oos. Daarna is hy weer terug na Waterwese in Pretoria waar hy hom later aangesluit het as raadgewende ingenieur by ‘n ingenieursfirma. In dié tyd behaal hy sy MBA.

Om te boer was egter altyd in Stefan se bloed gewees. Die egpaar het in 1990 'n plaas in die Waterpoort-omgewing gekoop. Hy het toe reeds met dorperskape in die Boesmanland geboer. Al vier sy broers is ook boere in die Williston- en Calvinia-omgewing.

Stefan-hulle se finale skuif na die Soutpansberg het in 1990 gekom. Die besluit het gekom nadat Stefan verplaas is na die Lesotho Hoogland waterskema. “Ons het besluit ‘n een-jaar-oue baba in die Lesotho Hoogland gaan nie werk nie,” het Mari gesê.

Stefan het met sy aankoms in Louis Trichard ingeskakel op alle vlakke van die gemeenskap. Hy was betrokke by die NG-gemeente Soutpansberg, skole, asook baie betrokke by die Gideons. Hy was 'n goeie vriend vir talle. “Maak nie saak hoe besig hy was nie, jy kon hom altyd vra vir hulp en hy sou jou help,” het Mari gesê.

‘n Roudiens vir wyle Stefan word eerskomende Saterdag, 25 Mei, om 11:00 vanuit die NG Kerk Soutpansberg gehou. Hy sal vroeër die oggend tydens ‘n privaat geleentheid in die familiebegraafplaas te Piesanghoek begrawe word. Stefan word oorleef deur sy vrou, twee dogters, vier broers, ‘n suster en familie van Piesanghoek.

“Ek wil net baie dankie sê aan Jaco Voigt en almal wat by was ten tye van Stefan se afsterwe. Ek weet regtig nie wie al die mense was wat hom bygestaan het nie, maar ek waardeer dit opreg,” het Mari gesê. Sy het bygevoeg dat Stefan die weeklikse Parkrun geniet het. “Die Parkrun was vir hom lekker gewees – hy en die ‘ou’ manne,” het Mari gesê.

Stefan se heengaan laat ‘n groot leemte in die Louis Trichardt-gemeenskap, asook binne die NG Kerk Soutpansberg, waar hy vir etlike jare op die kerkraad gedien het as beide hoofouderling en voorsitter van die gemeente se finansiële kommissie. Mari het aangedui dat sy en haar dogters sal voortgaan met Stefan se boerderybelange.

 
 
 

Viewed: 1225

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT