ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Altyd glimlaggende en sprankelende Annette Kennealy soos baie haar sal onthou. Foto verskaf.

Annette was iemand met ‘n passie vir haar volk

Date: 26 May 2019 By: Andries van Zyl

“Ek wil hê haar begrafnis moet eerder ‘n viering van haar lewe wees …” So het die 72-jarige Kim Labuschagne, ma van vermoorde Annette Kennealy, Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Te midde van bittere rou oor haar dogter se dood, onthou ma Kim ook die goeie tye. “Sy was ‘n sprankelende persoon met ‘n passie vir die lewe,” het Kim gesê.

Annette en haar suster (ook Kim) is in Pretoria gebore, Annette op 24 April 1968 en Kim op 4 Mei 1970. Vandaar het die familie na die destydse Pietersburg verhuis waar pa Lappies Labuschagne as dokter gepraktiseer het. Aangesien beide ma Kim en pa Lappies in Zimbabwe grootgeword het, het hulle besluit om in 1971 na Louis Trichardt te verhuis om “nader aan die huis” te wees.

Beide Annette en suster Kim het hul skoolloopbane in Louis Trichardt voltooi, eers by Laerskool Soutpansberg en daarna by Hoërskool Louis Trichardt. Dit was tydens haar Standerd 9 jaar, onthou ma Kim, dat die inwoners van Louis Trichardt almal kennis gemaak het met die pragtige jong Annette toe sy as ‘n destydse Mej. Soutpansberg gekroon is.

Ná skool het Annette haar groot liefde nagejaag, naamlik die kunste, en verwerf sy haar graad in skoner kunste vanaf die Universiteit van Pretoria. Sy sou haar later in die voormalige Venda bevind, waar sy haar man, Martin, ontmoet het. Dit was liefde met die eerste oogopslag. “Hulle is gou getroud,” het ma Kim gesê. Hulle is saam na Zimbabwe en vandaar het ma Kim ‘n oproep ontvang dat hulle sommer daar voor die magistraat gaan trou. So het hulle twee troues gehad. Een in Zimbabwe op 21 Desember 1993 en ‘n tweede seremonie (ridotto) op 19 Maart 1994. Twee dogters, Meghan en Astrid, is uit die huwelik gebore.

Deur die jare het Annette nie net vir haarself naam gemaak as ‘n uitsonderlik begaafde kunstenaar nie, maar ook iemand met ‘n passie vir die gemeenskap waarin sy lewe. “Sy het altyd gesê dit is my volk en moenie my volk kritiseer nie. My volk het gebloei vir Suid-Afrika,” het ma Kim gesê.

Wat betref laasgenoemde was Annette baie uitgesproke op sosiale media oor veral plaasmoorde. Soveel te meer het die feit dat sy self op haar plaas vermoor is, vir talle as groter skok gekom.

Annette het op alle vlakke van die samelewing ‘n meelewende rol gespeel. Politiek was vir haar belangrik en so het sy ook gedien as DA-raadslid in die Makhado Munisipaliteit vanaf 2011 tot 2014.

Vir Jacques Smalle, provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie, was dit ‘n persoonlike verlies van ‘n baie goeie vriendin. “Vandag betreur ek die ontydige afsterwe van Annette. Ek het ‘n spesiale vriendin verloor. My hart gaan uit na die familie en meer so aan Annette se dogters, suster Kim en ma. Niemand behoort die wêreld so te verlaat nie. Soveel vrae onbeantwoord. Met tyd hoop ek dat dit beantwoord sal word en nog meer dat daar rustigheid in so baie mense se harte sal kom,” het Jacques Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Jacques het gesê hy en Annette se vriendskap strek al bykans 40 jaar. “Ek ken Annette amper my hele lewe lank. Die dae toe ons saam in Laerskool Soutpansberg was, saam die hospitaal verken het terwyl ons pa’s besig was met hul roetine-ondersoeke. Ek onthou die eerste skildery wat jy vir my ma gegee het in 1986 genaamd Mozart. Jou toegewydheid tot die land en sy welstand, as opinie-skrywer, selfs as DA-raadslid by Makhado munisipaliteit sal onthou word deur baie. Jou sagte kant wanneer jy een van jou pragstukke laat opveil het ten bate van kankerpasiënte het harte gesteel in ons gemeenskap,” het Jacques gesê. Hy het bygevoeg dat Annette onthou sal word vir haar liefde vir die land, haar taal en die mense om haar. “Rus sag my vriendin,” het Jacques gesê.

Jacques was een van talle wat ook op sosiale media hulde aan Annette gebring het. Teen druktyd was daar nog geen finale begrafnisreëlings getref nie. “Maar Annette sal langs haar pa op die familieplaas Hillside begrawe word. Dit sal egter eerder ‘n viering van haar lewe wees! Ek wil hê die gemeenskap moet dit kom bywoon en ietsie oor haar lewe sê,” het ma Kim gesê. Sy het gevra dat inwoners die sosiale media moet dophou wat betref finale reëlings oor die diens.

“Die dood is die mees finale ding ooit. Dit is wat dit is. Ons moet besef ons lewens is nie in ons hande nie,” het ma Kim gesê.

 
 
 

Viewed: 1525

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Annette as skoonheidskoningin. In haar standerd nege-jaar is sy as Mej. Soutpansberg gekroon.

Annette by een van haar liefdes - perde.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT