ADVERTISEMENT:

 

 
 

Stephanus Hofmeyr as 'n jong man.

Die (boerseun)-sendeling van die Soutpansberg

Date: 16 June 2019 By: Anton van Zyl

Verlede week is die geboortedag van een van die Soutpansberg se merkwaardigste figure herdenk. Hy is iemand wat later jare beskryf is as ‘n “stuk brandhout uit die vuur geruk”; ‘n persoon wat ‘n onuitwisbare merk op sendingwerk in Afrika gelaat het.

‘n Rapsie meer as 180 jaar gelede, op 3 Junie 1839, is Stephanus Johannes Gerhardus Hofmeyr in Kaapstad gebore. Hy was die derde jongste van nege kinders (sommige bronne sê 11). Sy vader was advokaat Jan Hendrik Hofmeyr en sy moeder was Anna Marthina Neethling.

Hofmeyr het homself as ‘n onhebbelike kind beskryf. “Ik was een voorpaard van den Duivel, en bewandelde den breeden weg des verderfs met alle mijne krachten,” skryf hy jare later. Nie dat dinge altyd maklik was as kind nie. Hy het blykbaar akademies baie goed presteer, maar moes op tienjarige ouderdom skool verlaat toe sy vader bankrot verklaar is. Sy susters het hom verder onderrig tot hy later na die South African College gestuur is.

Op 16-jarige ouderdom het hy weer skool verlaat om sy vader te help as klerk. Sy pa is as magistraat op Bredasdorp aangestel. In 1858 het hy by ‘n afslaer in Kaapstad begin werk, maar dit het nie lank geduur nie. Later dieselfde jaar het hy by sy oom, Hendrik Neethling, begin werk op die plaas Remhoogte naby Prins Albert. Dit was ook hier waar hy in April die volgende jaar “kragdadig” tot bekering gekom het. “Op dat oogenblik, bliksemsnel was het asof de hemel en mijn hart tegelijk opensprongen,” skryf hy later.

Die 20-jarige Stephanus het hom geroepe gevoel om die Evangelie te verkondig, maar van meet af aan het hy gefokus op die plaaswerkers. Hy het blykbaar ‘n pragtige stem gehad en is gereeld as voorganger gebruik by bidure. Hy het kontak gemaak met ‘n neef van hom, ds. Neethling van Stellenbosch, om te hoor wat die moontlikhede was vir verdere opleiding. Kort hierna is hy genooi om na Stellenbosch te gaan om hom as predikant te bekwaam.

Dit blyk asof ‘n lang studieloopbaan nie vir die jong Hofmeyr beskore was nie. Na ‘n paar maande het hy besluit om eerder die godsdiensonderwyseksamen af te lê. Vroeg in 1864 is hy na Franschhoek gestuur, waar hy vir ses maande die gemeente, wat heelwat kleurlinglidmate ingesluit het, bedien het. Sy passie was egter sendingwerk en hy wou die woord “onder die heidene” verkondig. In Julie 1864 is sy droom bewaarheid toe die Sendingkommissie van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) hom versoek het om ds. MacKidd in die Soutpansberg te gaan help.

Hofmeyr se familie, asook die mense van Franschhoek, was baie gekant teen die idee dat hy so ver in die vreemde wou intrek. Sy gesondheid was nie van die beste nie en die stories oor die gevreesde koors in die noorde was nie bemoedigend nie. Niks kon hom egter van stryk bring nie en hy skryf, “De Heer heeft zoo menigmaal reeds tot mijn ziel gesproken, zoodat ek wist dat ik mij voor iets gewigtigs moet voorbereiden.”

Op 25 November 1864 vertrek Hofmeyr vanaf Stellenbosch met ‘n kar en muile wat deur prof. John Murray aan die sending geskenk is. Hofmeyr word vergesel deur “de lieve, nederige, trouwe” Jan Zerf, ‘n kleurling reisgenoot en helper. Na ‘n reis van meer as twee maande het Hofmeyr en Zerf op 6 Februarie 1865 op Goedgedacht in die Soutpansberg aangekom. Ds. MacKidd was so verheug toe hy uitvind wie hulle is dat hy hulle “om de hals viel en kuste weenende”.

Wie was ds. Alexander MacKidd?

Ten einde te verstaan hoekom ‘n sendingstasie by Kranspoort tot stand gebring is, is dit nodig om verder in die geskiedenis terug te blaai. Die NG Kerk het eers in die middel van die 19de eeu tot die amptelike besef gekom dat die evangelie wyer verkondig moes word. Op ‘n sinodevergadering op 13 November 1857 is ‘n voorstel aanvaar dat sendingwerk noord van die kolonie gedoen moes word en kort hierna is begin met ‘n soektog na geskikte kandidate. ‘n Verteenwoordiger van die kerk het Edinburgh in Skotland besoek en Alexander MacKidd gevind, wat gretig was om dié uitdaging te aanvaar.

Met MacKidd se aankoms in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek, moes hy uitvind dat die regering nie baie gretig was om sendelinge te verwelkom nie. Sendelinge is met uiterse skeptisisme en agterdog bejeën en hulle moes spesiale toestemming van ‘n magistraat verkry alvorens hulle enige bediening mag doen. Dit mag ook slegs op uitnodiging van ‘n stamhoof wees.

Vir MacKidd het die oplossing gekom in Desember 1862, toe hy ‘n brief van ene Michael Buys gekry het wat homself beskryf het as “Kaptein der Basoetoes”. Die Buys-gemeenskap aan die voet van die Soutpansberg het ‘n herder benodig wat hulle meer kon leer van die Christendom.

Ten einde die versoek van Michael Buys te begryp, is dit nodig om nog bietjie verder terug te gaan in die geskiedenis. Dit het begin met die geboorte van Coenraad de Buys rondom die jaar 1761 in die Tulbagh-distrik. De Buys was een van die interessantste figure wat die land opgelewer het. Hy was in stadiums ‘n boer, ‘n tolk vir ‘n sendeling, leier van ‘n gewapende rebellie en was selfs voëlvry verklaar deur die Kaapse regering. Hy was egter ‘n avonturier sonder gelyke en sy reise het hom noord geneem, tot by die Soutpansberge rondom 1819.

Die laaste wat van De Buys gesien is, was toe hy stoksielalleen in 1829 op sy soveelste reis na die Portugese in Mosambiek vertrek het. Sy nalatenskap was egter baie meer as net voetspore. Hy het verskeie vroue gehad, onder meer die weduweemoeder van Ngqika ka Mlawu (‘n Xhosa leier) en Elizabeth, die suster van die Matebele-koning, Moselikatse. Na Coenraad de Buys se verdwyning het twee van sy seuns, Gabriël en Doris, aan stuur van sake gestaan. Toe Louis Trichardt in 1836 deur die Soutpansberg gereis het, het hy Gabriël en Doris hier aangetref.

Na Gabriël se dood het ‘n derde broer, Michael, teruggekeer van Betsjoeanaland (Botswana) waar hy ‘n paar jaar gewoon het en hy is as kaptein van die Buyse in die omgewing van Schoemansdal aangestel. Dit is dieselfde Michael wat in 1862 die brief aan ds. MacKidd geskryf het.

Die Buys-gemeenskap was besonders op verskeie vlakke, maar hul geskiedenis is gekenmerk deur stryd en verwerping. In 1975 het dr. Piet Meiring ‘n boek gepubliseer, Stemme uit die swart kerk, waarin ‘n onderhoud verskyn wat hy met ‘n nasaat van Coenraad de Buys gevoer het. “Dit staan opgeskryf dat Coenraad die gewoonte gehad het om huisgodsdiens te hou en om sy Bybel te lees,” het Michael Buys aan dr. Meiring vertel. “Coenraad het dit op sy seun, Michael, se hart gedruk dat hy moet kyk dat hul kinders nie soos heidene grootword nie, maar dat hulle moet bid en moet Bybellees,” het hy vertel.

Dit was egter nie maklik vir die Buyse om geestelike leiding te kry nie. Potgieter se trek het reeds in 1848, onder aanvoering van Jan Valentyn Botha, op Soutpansberg aangekom. Teen 1862 was Schoemansdal al ‘n bedrywige handelsdorp met gereelde kerkdienste, alhoewel daar nog nie ‘n permanente dominee was nie. Die eerste leraar, ds. N.J. van Warmelo, het in 1864 opgedaag.

Vir die Buys-gemeenskap was die dienste egter nie beskore nie. Michael Buys het later jare vertel:

“Want kyk, in Schoemansdal, in die Voortrekkers se dorp, mag hulle mos nie saam met die blankes in die kerk ingegaan het nie. Michael het baie vertel hoe dikwels hy daar in die kerkdeur op die drumpel sit en ween het, maar hulle wou hom nie toelaat nie.”

‘n Sendingstasie op Kranspoort

Op 20 Desember 1862 het die ZAR se uitvoerende komitee voorlopige toestemming gegee dat die sendingwerk kan voortgaan. Ds. MacKidd het in daardie stadium geduldig in Rustenburg gewag, gelukkig darem met ‘n nuwe vroutjie aan sy sy. Op 25 Junie 1862 het hy met ‘n Boeremeisie, die 36-jarige Ester Susanna (Hessie) Bosman, getrou. Die seremonie is behartig deur die bekende ds. Andrew Murray.

Op 25 April 1863 het die egpaar na die noorde vertrek en op 13 Mei het hulle op die plaas Houtrivier van Cornelius Lottering aangekom. Lottering het kort hierna een van sy plase, Goedgedacht, aan die MacKidds geskenk sodat ‘n sendingstasie daar opgerig kon word. Ná hulle ‘n paar dae op die Lotterings se plaas gebly (en tot groot ontsteltenis van die plaaslike Hervormde-gemeente sommer twee kinders gedoop het) het hulle na die Buyse se kraal vertrek, waar hulle vir ‘n tyd lank in ‘n tent gewoon het.

Oor die volgende paar maande is die planne gefinaliseer om die sendingstasie te bou. Vroeg in Januarie 1864 het die MacKidd-egpaar saam met van die Buyse na die nuwe stasie op Goedgedacht verskuif. Bouwerk het dadelik begin aan ‘n pastorie en ‘n hartbeeshuisie wat beide as skool en kerk sou dien.

In ‘n boek wat Hofmeyr latere jare publiseer beskryf hy die sendingstasie as baie primitief. “Wij waren in de bosschen. Er was, herinner ik mij, nog één limoenboom ; geene straten, slechts één ordentlijk gebouw, het woonhuis van Br. McKidd. ’t Kerkgebouwtje dat tevens voor school dienst deed, was een hartebeest-huisje. Digt bij ’t woonhuis, waren de puinen van een huis vroeger bewoond door Jan Valentijn Botha, den vorigen eigenaar, die daar begraven ligt.”

MacKidd het vinnig besef dat Goedgedacht om verskeie redes nie ideaal was nie. Hy het toe uit sy eie fondse die aangrensende plaas, Kranspoort, van Lottering aangekoop vir 450 Rijksdaalders. Beide plase is na sy dood bemaak aan die kerk, met die verstandhouding dat dit vir die sending benut sou word.

Dit was nie net MacKidd wat ‘n onmiddellike impak gehad het nie; sy vroutjie was net so gewild. Sy het dadelik met klasse begin en oud en jonk het by die nuutgeboude pastorie opgedaag om by haar te leer. In die aande kon Hessie MacKidd gehoor word terwyl sy sing en bid met ‘n groep kinders rondom haar.

Die idilliese lewe was egter van korte duur. In April 1864 het mev. MacKidd siek geword, waarskynlik weens malaria. Sy het op 4 Mei dieselfde jaar gesterf. Sy was slegs 38 jaar oud. Vir ds. MacKidd was dit ‘n gevoelige slag en hy het begin glo dat sy eie tyd op aarde ook nie meer lank sou wees nie.

Hulp daag op

Op 6 Februarie 1865 het Stephanus Hofmeyr by die sendingstasie opgedaag, tot groot verligting en vreugde van ds. MacKidd. Hy was veral bly dat Hofmeyr nie bang was vir hande-arbeid nie. Die lesse wat hy op sy oom se plaas geleer het, het hom goed te pas gekom en hy kon dadelik aan die werk spring om orde te begin skep in die relatiewe chaos. Hofmeyr en Jan Zerf het ingespring om die woonhuis en kerkgebou te herstel en die eerste besending boeke, afkomstig van die sendeling Robert Moffat, uit te sorteer. Terwyl hulle daarmee besig was, het MacKidd vir drie weke op reis gegaan en twee van die naburige krale besoek waar hy die evangelie verkondig het.

In Maart daardie jaar, slegs ‘n maand nadat Hofmeyr op Goedgedacht gearriveer het, het ‘n kwaai malaria-epidemie uitgebreek. Cornelius Lottering se vrou was een van die slagoffers. Op 1 April het Hofmeyr ook ernstig siek geword. Ds. MacKidd het hom ‘n paar dae later besoek en die profetiese woorde geuiter: “Gij zijt ook siek, doch zult ook weer gezond worden, en wanneer gij beter zijt, sal de Heer mij siek maken en wegnemen”.

Op 27 April het Hofmeyr die eerste keer opgestaan en hom voorgeneem om MacKidd te gaan verras. MacKidd, wat toe pas teruggekeer het van ‘n besoek aan Schoemansdal, het opgemerk dat hy nie goed voel nie en liewers wou gaan lê. Drie dae later, op 30 April, is die Skotse sendeling oorlede.

Ds. MacKidd se oorskot is deur die sendingstasie se mense na sy graf gedra. Die diens is behartig deur ds. Van Warmelo, wat self ook drie maande tevore sy vrou aan die dood moes afstaan. Ds. MacKidd is langs sy vrou in die skaduwee van ‘n groot doringboom op Goedgedacht te ruste gelê.

Die dood van MacKidd het egter ‘n hoofstuk ingelui vir sekerlik een van die ywerigste en bekendste sendelinge in die geskiedenis van die N.G. Kerk, in daardie stadium ‘n 26-jarige Stephanus Hofmeyr. “Kon ik dat werk, door dien broeder zoo begonnen, voortzetten?”, het hy homself afgevra. Die slotsom was:

“Teruggaan kan ik niet; dan ... liever sterven. Wil de Heere mij gebruiken, daar bin ek, maar dan moet Hij mij dubbele genaden geeven; zoo niet, ek kan het werk nie doen.”

Sy gebede is duidelik beantwoord, want vir die volgende 40 jaar het Hofmeyr sendingwerk gedoen in die Soutpansberg. Hy was nie gewild onder sekere sektore van die gemeenskap nie (veral nie onder die Hervormers nie), maar dat hy respek afgedwing het, is seker. Hy het ook ‘n aantal swart sendelinge opgelei wat generasies later nog aktief was. Dit het name ingesluit soos Frederick Molepo en Sagaria Ramusha.

Maar dit is stories vir ‘n volgende aflewering.

(En vir diegene wat gewonder het - die Afrikaanse sanger, Steve Hofmeyr, is 'n verlangse afstammeling van Stephanus Hofmeyr.)

 

 
 
 

Viewed: 1920

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Ds. Alexander MacKidd.

Dr. Robert Moffat van die Londense Sendinggenootskap het op ’n keer, toe iemand hom vra waarom die NG Kerk dan nie sendingwerk doen nie, geantwoord: "Mens, hoe kan jy so praat? Ek kon hulle nooit besoek nie, maar ek het van hulle gehoor. Nie heel ver van my af nie, het ’n sendeling van die kerk – broer Gonin – gewerk en ek hoor geen einde van sy lof nie, en in Soutpansberg werk ’n ander, die dierbare broer Hofmeyr – wat ons van hom hoor, verwek by ons jaloersheid."

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT