ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die steekwond aan Harry se nek wat rakelings sy slagaar gemis het. Sy aanvallers het eers gevlug, nadat hy gemaak het of hy dood is na verskeie messteke. Foto verskaf.

Dit was nie sy tyd

Date: 13 July 2019 By: Andries van Zyl

“Dit was nie my tyd gewees nie …” Dit was die woorde van die 70-jarige mnr. Harry du Plessis wat Maandagmiddag deur drie mans op sy kleinhoewe aangeval, beroof en herhaaldelik met ‘n mes gesteek is. Die drama het omstreek 16:30 op een van die Rietvlei-kleinhoewes buite Louis Trichardt afgespeel.

Harry het Dinsdagaand vanuit sy hospitaalbed in die Mediclinic in Tzaneen vertel van die vorige dag se skokgebeure.

“Wat gebeur het, is ek het van die werk af gekom, die hek oopgesluit en ingery. Toe ek die hek wou toemaak, toe is die een hond uit. Ek het die hond geroep, maar die hond wou nie luister nie. Toe sien ek hy kyk die veld in. Die volgende oomblik kom die drie op my af en ek spring om die hek toe te kry, maar ek was nie betyds nie,” het Harry gesê

Die drie mans het vir Harry, wat met behulp van ‘n loopraam loop, oorrompel en na sy huis begin sleep. Die een man was ongemasker, die ander een het ‘n halwe balaklawa en bril opgehad en die derde het ‘n vol balaklawa gedra. “Dit het so skop en slaan gegaan,” het Harry gesê.

Tot Harry se skok het hy gesien hoe een van die drie ‘n pistool uittrek. “Die een het vir hom iets gesê en toe bêre hy die pistool. Dis toe dat hulle met die mes begin. Hulle het my vier keer gesteek, een in die long in,” het Harry gesê.

Harry het gesê hy weet nie waarom hulle hom nie geskiet het nie en of dit hul bedoeling was om hom eerder dood te steek. Feit van die saak, die steekwond in sy rug, wat sy linkerlong binnegedring het, kon noodlottig gewees het. So ook die messteek in sy nek wat rakelings sy slagaar gemis het. Hy het ook geweldig baie bloed verloor van nog ‘n steekwond aan die agterkop.

Volgens Harry wou die mans van die begin af geld hê. “Hulle het net geskreeu Money! Money! Money, you mother f#@cker!,” het Harry gesê.

Die mans het Harry se sakke deursoek en sy geld, bankkaarte en ID-kaart gevat. Die geld was vanaf sy besigheid, Japanese Engines, in Louis Trichardt. “Ek het ‘n fout gemaak om dit by my te hou,” het Harry gesê. Sy aanvallers het ook juweliersware van hom gebuit.

In ‘n stadium, het Harry gesê, wou hulle sy huissleutel hê, maar die geluk was aan Harry se kant. Volgens hom het hulle sy huissleutel in sy sak gemis toe hulle hom deursoek het. “Ek het vir hulle gesê ek het nie ‘n huissleutel nie,” het Harry gesê.

Op ‘n vraag of hy in enige stadium gedink het hy gaan sterf, was Harry se antwoord nogal verbasend. “Ek was so kalm soos ‘n daggawalm. Dit is net die Here wat jou daardie kalmte gee,” het Harry gesê.

Buiten vir die messteke het die drie mans Harry ook erg geskop. “Dit was nie soos ‘n sokkerskop nie. Dit was soos wanneer hulle jou met die skoen se hak plat skop,” het Harry gesê.

Volgens Harry het die aanval sowat 10 tot 15 minute aangehou. Dit was ook net genade dat sy aanvallers uiteindelik gevlug het. “Toe hulle my so met die mes steek, toe speel ek dood. Ek het net bly lê. Dit is toe dat hulle met die bakkie ry,” het Harry gesê. Hy het sy aanvallers as jonk en heel onkundig beskryf. Die een wat sy bakkie gegryp het, het Harry vertel, kon nie uit eerste rat kom nie. “Hy het die bakkie so ge-ref dat jy dit sekerlik in die dorp sou kon hoor,” het Harry gesê.

Nadat dit stil geword het, het Harry nog vir ‘n geruime tyd stil op die grond gelê. “My een hond het toe gekom en die bloed aan my gesig kom lek. Ek het opgestaan en die honde eers gaan kos gee. Wie ander sou hulle kos gee? Ek bly alleen,” het Harry gesê.

In daardie stadium het Harry reeds geweldig baie bloed verloor. Vriende en familie sou na die tyd opmerk dat dit ‘n absolute wonderwerk is dat hy nie net daar op die plaas doodgebloei het nie. Harry was egter baie bewus daarvan dat hy dringend hulp nodig gehad het. Hy het in sy ander bakkie geklim en begin dorp toe ry.

Nog ‘n gelukskoot het hom ingewag. Harry se buurvrou, Marlize Botha, het hom langs die pad gewaar en besef daar is groot fout. Sy het toe die bebloede Harry deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal.

By die hospitaal aangekom is Harry se toestand gestabiliseer. Hy is egter per ambulans deurgejaag na die intensiewe sorgeenheid van die Mediclinic in Tzaneen weens vrees dat die bloeding op sy linkerlong vanweë die een messteek sou vererger.

Harry het sedert sy aankoms in Tzaneen Dinsdagoggend om 02:00 merkwaardige herstel getoon, in so ‘n mate dat hy deur die dag vanuit die intensiewe sorgeenheid oorgeplaas is na ‘n gewone saal. Hy was ook sterk genoeg om die aand telefonies met die Zoutpansberger te praat. Teen Woensdagoggend het dokters die dreineringspyp uit sy long verwyder. Dit was nie eers nodig vir ‘n operasie nie. Volgens sy seun, Jacques, was die kanse goed dat sy pa dalk voor die naweek weer ontslaan kon word, maar hulle wou hom nog Woensdagaand laat oorbly vir observasie.

Volgens Harry het hy nie onmiddellik planne om van sy plot te trek nie. Die plot het veiligheidsmaatreëls soos ‘n dubbele elektriese heining. “Dit is seker hoekom hulle vir my by die hek gewag het,” het Harry gesê. Hy is ook nie so seker dat dit noodwendig veiliger is om in die dorp te bly nie. “Jy kan in die dorp ook aangeval word,” het Harry gesê. Volgens Harry sal hy egter in ‘n stadium moet trek. Hy het reeds die sy plot verkoop in gevolge ‘n tien-jaar afbetalingsooreenkoms. Hy het gesê hy sal trek as die plot klaar betaal is. “My groot probleem is stoorplek vir my voorraad,” het Harry gesê. Baie van sy enjins en ratkaste wat hy by sy besigheid in die dorp verkoop stoor hy op die plot.

Provinsiale polisiewoordvoerder kol. Ngoepe Moatshe het by navraag die aanval bevestig en het Woensdag gesê dat nog niemand in verband met die voorval aangekeer is nie. Harry se bakkie is wel kort na die aanval teruggevind waar sy aanvallers dit langs die pad gelos het naby 3 Myl by die verkeersirkel op die N1 suid buite Louis Trichardt. Dit is sowat sewe kilometer van sy plot.

 
 
 

Viewed: 1083

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die 70-jarige mnr. Harry du Plessis wys die steekwonde aan sy rug en agterkop. Die steekwond aan sy rug was so diep dat die mes sy linkerlong binnegedring het. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT