ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Witleeumannetjie en dragtige witleeuwyfie is verlede Vrydag op Popallin Ranch vergiftig en daarna is hulle koppe en pote afgesny. Sedert einde verlede jaar het stropers al sewe van die plaas se leeus op soortgelyke wrede wyse doodgemaak. Foto’s verskaf.

Leeuteler veg verloorstryd teen stropers

Date: 21 July 2019 By: Andries van Zyl

Popallin Ranch is een van die Soutpansberg se gewilde toeriste bestemmings, veral vir besoekers wat die pragtige witleeus van nader wil bekyk. Stropers het egter die afgelope paar maande soveel van hulle leeus doodgemaak, dat die bestuur van Popallin dit ernstige oorweeg om heeltemal weg te doen met die leeus.

In die mees onlangse geval het stropers verlede Vrydag, 12 Julie, ‘n dragtige witleeuwyfie, asook ‘n witleeumannetjie doodgemaak en hulle koppe en pote afgesny. Die leeus was deel van ‘n teelprojek op die plaas. “Dit is lankal nie meer vir ons ‘n winsgewende teelprojek nie. Die risiko het net te groot geword,” het Popallin se Tania Bezuidenhout gesê. Sy sê al hulle bruin leeus is nou al amper doodgemaak. “Nou begin hulle met die witleeus,” het Tania gesê.

Die Malaladrift-grondpad loop deur Popallin Ranch. Dit is juis vanaf hierdie grondpad, het Tania gesê, wat die booswigte hulle strooptogte beplan en uitvoer. “Mense kan die leeus vanaf die pad sien en almal weet die leeus is daar,” het Tania gesê.

Kort voor Desember het stropers drie leeus vergiftig maar moes deur iets of iemand gehinder gewees het, want die leeus se koppe en pote is nooit afgesny nie. Oor Desember is nog twee van hulle leeus doodgemaak en die keer kon die stroper die koppe en pote afsny.

Maar ‘n leeu is nie jou speelmaat nie, so hoe word hulle doodgemaak? Volgens Tania gebruik hulle van die wreedste moontlike maniere, naamlik vergiftiging.  “Die gif wat hulle deesdae gebruik is goed wat boere in landerye spuit. Lyk my jy kan dit redelik maklik by gifverspreiders koop ... ‘n Vorige keer het hulle temik gebruik,” het Tania gesê.

Volgens Tania sal die stropers ‘n stuk vleis met die gifstof besmet, ‘n gat in die heiningdraad sny en dan die vleis vir die leeus gooi. Daarna sit hulle rustig en wag dat die leeu(s) vrek, voordat hulle die leeus deur die geknipte heiningdraad trek. “Ek dink nie hulle het die laaste keer geweet presies hoeveel leeus daar in die hok was nie. Hulle het die draad gesny en toe weer toegemaak [nadat hulle die dooie leeus uitgetrek het],” het Tania gesê.

Tania het gesê hulle veg ‘n verlore stryd op alle fronte. Buiten vir hulle leeus loop hul ander wild op die plaas ook erg onder stropers deur. Daar is ook min hulp vanaf die owerhede. Aanvanklik, het Tania gesê, het hulle die strooptogte stil gehou uit vrees vir hulle anders leeus. Na verlede Vrydag se strooptog wil sy egter dit wat aan die gang is aan die groot klok hang. “Ek het natuurbewaring laat weet en foto’s gestuur. Ons het ook sake by ons naaste polisiestasie aanhangig gemaak,” het Tania gesê. Tog, het sy gesê, het daar sedert Desember nog niks gebeur nie.

Hulle het hulle intussen gewend na die polisie se provinsiale kantoor vir hulp. “Dit is hoekom ons iemand anders ingekry het om te kyk, want daar is goed wat hulle op die toneel gekry het wat hulle kan wegstuur vir forensiese ondersoek. Die vleis is ook weggestuur om te bepaal watter gif is gebruik,” het Tania gesê.

Dit wil voorkom asof wild- en veestropery, veral noord van die Soutpansberg, totaal hande uitgeruk het. Volgens berigte het stropers die afgelope week ook vier beeste, waarvan een dragtig was, by ‘n boer op die Kortdraai-pad doodgemaak en geslag. Sedert Januarie vanjaar het dieselfde boer reeds 10 volwasse beeste en drie kalwers aan stropers verloor. Sowat ‘n maand gelede is daar ook op een dag 38 boerbokke by ‘n boer op die Tshipise-pad gesteel. “Hulle wag nie eers meer dat dit aand word nie. Hulle is sommer al in die dag op die plaas,” het Tania gesê met verwysing na die stropers se arrogansie.

 
 
 

Viewed: 1158

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

'n Witleeumannetjie en dragtige witleeuwyfie is verlede Vrydag op Popallin Ranch vergiftig en daarna is hulle koppe en pote afgesny. Sedert einde verlede jaar het stropers al sewe van die plaas se leeus op soortgelyke wrede wyse doodgemaak. Foto’s verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT