ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mnr. Louis Cilliers (middel) het die afgelope week aangekondig dat hy aan die einde van hierdie jaar as hoof van Hoërskool Louis Trichardt gaan bedank. Afgeneem saam met hom is die voorsitter van die skool se beheerliggaam, mnr. Rampie Gilfillan (links), en mnr. Theo Muller (regs) wat outomaties as waarnemende hoof by die skool sal optree vanaf Januarie volgende jaar.

Bekende skoolhoof groet, maar darem nie nou al nie

Date: 09 August 2019 By: Andries van Zyl

Mnr. Louis Cilliers, bekende hoof van Hoërskool Louis Trichardt, het die afgelope week aangekondig dat hy aan die einde van die jaar as hoof van die skool gaan bedank om hom toe te spits op sy boerderybelange buite Pretoria.

Cilliers het Dinsdag gesê dat hy sy pa gaan help met sy boerdery buite Pretoria. “Hy is oud en kan nie meer by alles uitkom nie,” het Cilliers gesê.

Die besluit om Hoërskool Louis Trichardt vaarwel te roep, was egter nie ‘n maklike een vir Cilliers nie. “Dit was vir my ‘n uiters emosionele besluit gewees om te neem. Dit was vir my ‘n voorreg om die skool en onderwys hier te dien. In dieselfde asem wil ek sê dat dit vir my ook ‘n reuse leerskool was en ek hoop ek het ‘n verskil gemaak in iemand se lewe,” het Cilliers gesê, wat sowat vier-en-‘n-half jaar gelede as hoof by die skool aangestel is.

Vir die voorsitter van die skool se beheerliggaam, mnr. Rampie Gilfillan, het Cilliers se aankondiging eweneens as slegte nuus gekom. “Ons is baie hartseer omdat ons vir Louis verloor, maar ons ondersteun sy besluit 100%,” het Gilfillan gesê.

Gilfillan het leerlinge en hul ouers (insluitend voornemende leerlinge) die versekering gegee dat alles soos normaal sal voortgaan by Hoërskool Louis Trichardt. “Dit is vir ons as skool belangrik om op die kontinuïteit, die positiewe en goeie gebeurtenisse wat plaasgevind het die laaste twee-drie jaar, voort te bou. Ek glo ook nie die verandering sal ontwrigting by die skool veroorsaak nie,” het Gilfillan gesê.

As deel daarvan om kontinuïteit by die skool te behou, het Gilfillan aangekondig dat die welbekende mnr. Theo Muller outomaties sal intree as waarnemende hoof. “Van die beheerliggaam se kant af ondersteun ons ook vir Theo 100%. Dit is besigheid soos altyd. Niks gaan verander nie,” het Gilfillan gesê.

Ook Cilliers het sy absolute vertroue in Muller uitgespreek. “Ons het nou saam met mekaar gewerk. Ons het dieselfde visie en ons het in dieselfde rigting gewerk. So, al wat dit is, is een ou gaan weg en die res gaan net aan soos altyd,” het Cilliers gesê. Gilfillan het hiertoe bygevoeg dat hulle nie voorsien dat die skole se sisteme ewe skielik aangepas gaan word omdat Muller oorneem nie.

“Die skool sal konsekwent bly in terme van die dissipline en die stelsels en sisteme daarom wat in plek is. Daar sal ook voortgebou word op die skool se visie van “Good to Great”. Ons weet ons doen goed, maar ons kan steeds beter wees. Dit is iets wat ons almal nastreef. Al die personeel is betrokke daarby en dit word elke dag so aan die kinders gekommunikeer dat ons nooit tevrede moet wees met waar ons is nie en altyd moet strewe na iets beter,” het Cilliers gesê.

Intussen het Gilfillan by voorbaat sy dank uitgespreek teenoor Cilliers vir sy onbaatsugtige diens aan die skool en gemeenskap die afgelope paar jaar. “Ek sal graag vir Louis nou al dankie sê vir sy tyd en die goeie werk wat hy gedoen het by die skool in terme van dissipline en die visie van Good to Great,” het Gilfillan gesê.

“Ek sien vir seker kans vir die uitdaging en ek sal streef om te verbeter, uit te brei en voort te bou op dit wat mnr. Cilliers hier gestel het,” het Muller gesê.

Wat die aanstelling van ‘n toekomstige permanente hoof betref, het Gilfillan gesê dat die nodige proses gevolg sal word. “Die beheerliggaam sal alles in sy vermoë doen om hulle keuse van ‘n nuwe permanente hoof te laat aanstel,” het Gilfillan gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1297

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT