ADVERTISEMENT:

 

 
 

Maandag is begin met die teer van die nuwe gedeelte op die R524 tussen die N1 en Leeustraat aangrensend tot die Makhado Crossing winkelsentrum. Konstruksiewerk aan die pad, as deel van die opgradering van Makhado Crossing, het die afgelope paar maande grootskaalse ontwrigting veroorsaak. Volgens beplanning sal die pad egter hierdie week weer oopgestel word.

Frustrasie met bou van nuwe pad byna verby

Date: 10 October 2019 By: Andries van Zyl

Goeie nuus vir inwoners van Louis Trichardt is dat die huidige padwerke aangrensend tot die “nuwe” Makhado Crossing winkelkompleks na verwagting hierdie week iets van die verlede sal wees.

“Die publiek het baie met ons baklei oor die ontwrigting wat die padwerke veroorsaak het, maar as alles volgens plan verloop, sal die pad nog hierdie week weer oopgestel word,” het mnr. Pierre Theron, konstruksiebestuurder vir die Jodan Construction-groep op terrein, Woensdag gesê. Hy het om verskoning gevra vir enige ongerief wat vanweë hierdie noodsaaklik konstruksiewerk veroorsaak is.

Volgens Theron het hulle Maandag begin om die “nuwe” pad te teer en teen Woensdag was groot dele teerwerk reeds voltooi. Die beplanning was dat alle werk teen Donderdag hierdie week voltooi sou wees. Jodan Construction, ‘n Pretoriase konstruksiemaatskappy, was ook verantwoordelik vir die grondwerke ten opsigte van die sentrum se nuwe parkeerterrein.

Konstruksie aan die pad op die gedeeltes van die R524 tussen die N1 en Leeustraat het in Julie begin. Die projek maak voorsiening vir dubbelbaanverkeer in beide rigtings tussen die N1 en ‘n tweede groot verkeersirkel waar Oranjestraat (uit Eltivillas) by die R524 aansluit. Soortgelyk is daar ook ‘n nuwe ingang tot die R524 vanaf Rietbokstraat gemaak. “Dit sal dien as tweede ingang vir Makhado Crossing,” het Theron gesê.

Alle kontrakte op die terrein van die nuwe Makhado Crossing nader vinnig voltooiing, met die sentrum wat op 21 November vanjaar amptelik weer sal open.

Die eienaars van die sentrum, die Masingita Group of Companies, het in ‘n verklaring in September gesê dat, by voltooiing van die huidige uitbreidings en verbeteringe aan die sentrum, sal die sentrum se verhuurbare vloerspasie vanaf 14 000 m² gegroei het na 35 000 m². As deel van die R500 miljoen belegging in die sentrum, is alle bestaande huurders se persele ook opgegradeer. Terwyl die nuwe sentrum sal spog met anker huurders soos Pick n Pay en ‘n splinternuwe Checkers, het ander groot handelsname soos Woolworths, Standard Bank, Absa Bank, Mr Price Home en Sheet Street ook besluit om oor te skuif na die nuwe sentrum. Nuwe huurders sal onder meer insluit Dis-Chem, Mr Price Sport en ‘n nuwe Roman's Pizza Drive Thru.

 

 
 
 

Viewed: 1182

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT