ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image

Moenie mnr. Maritz se slimpraatjies glo nie

Date: 13 October 2019 By: Andries van Zyl

As jy dalk ‘n bietjie te veel gedrink het en jou nou aan die verkeerde kant van die gereg bevind, moet jy nie te opgewonde raak om ‘n oproep van ‘n mnr. Maritz te ontvang nie. Dit is die waarskuwing van mnr. Reino Mostert van Louis Trichardt, senior aanklaer in die noordelike streek.

Mostert se waarskuwing volg nadat dit aan die lig gekom het dat ‘n man wat homself voordoen as die senior aanklaer van Louis Trichardt, ‘n ene mnr. Maritz, persone skakel wat van dronkbestuur aangekla word en aanbied om vir “iets onderdeur die tafel” dié kopseer te laat weggaan. Mens sou dink dat niemand vir die slenter sou val nie, want jy weet mos as jy nie vir dronkbestuur gearresteer is nie. Die probleem is egter dat die mense wat geskakel word wel almal uitstaande sake van dronkbestuur teen hulle het, in afwagting op die Staatslaboratorium se uitslag van hul bloedtoetse.

“Tot op hede weet ons van drie mense op Louis Trichard wat geskakel is, want hulle het by my kom kla. Daar kan egter baie meer wees,” het Mostert gesê.

Een van die klaers wat gearresteer is vir dronkbestuur, ‘Stefan’ (nie sy regte naam nie aangesien hy ‘n bekende plaaslike sakeman is wat verkies om anoniem te bly), het aan die Zoutpansberger gesê hy is verlede Dinsdag vir die eerste keer deur Maritz geskakel. “Ek het eers gedink dit was vir die betaling van ‘n boete, maar toe hy vir my sê ek moet omkoopgeld betaal om my probleem te laat weggaan, was my volgende oproep na Reino,” het Stefan gesê.

Stefan en Mostert het besluit om Maritz aan ‘n lyntjie te probeer hou om hom te probeer uitlok en vang. Hulle het egter besef dat die man, wat vlot Afrikaans gepraat het en baie oortuigend as aanklaer oorgekom het, dalk nie eers in Louis Trichardt gesit het nie en dalk deel is van ‘n groter, nasionale sindikaat. Die hulp van die polisie is ook ingeroep. “Ons moes probeer,” het Mostert gesê.

Die afgelope week was daar dus talle oproepe tussen Stefan en Maritz, met Stefan wat herhaaldelik gepleit het vir meer tyd om die geld bymekaar te kry. Maritz het aanvanklik vir Stefan geskakel en gesê dat die uitslag van sy bloedtoets ontvang is en dat sy bloedalkoholvlak die toegelate limiet ver oorskry het.

Volgens Maritz was Stefan se bloedalkoholvlak 0,6%, waarop Stefan bietjie gegiggel het. “Met daai bloedalkoholvlak sou jy dood gewees het, maar ek het maar vir hom gesê ek kan regtig nie onthou dat ek sóveel daardie aand gedrink het nie,” het Stefan gesê. In Suid-Afrika is die alkohollimiet tans ‘n alkohol-inhoud in die asem van nie meer as 0,24 mg per 1000 ml nie, of ‘n alkoholinhoud in die bloed van nie meer as 0,05 g per 100 ml nie. Vir professionele bestuurders, soos taxibestuurders, busbestuurders en vragmotorbestuurders, is dit 0,02 g per 100 ml bloed.

Maritz het vir Stefan gesê dat as hy R10 000 betaal (R5 000 vir die magistraat en R5 000 vir die aanklaer en ander “rolspelers”) sal die saak teen hom teruggetrek word. Maritz het volgehou dat die geld slegs per eWallet elektronies betaal kan word. Andersins, het Maritz gewaarsku, sal die saak onmiddellik voorkom, waartydens Stefan skuldig bevind sal word, ‘n boete van tussen R40 000 en R50 000 opgelê sal word en dan nog sal sit met ‘n kriminele rekord.

Wat vir Stefan verbysterend was, was die hoeveelheid detail van die saak wat Maritz gehad het toe hy hom die eerste keer geskakel het. “Toe hy my die eerste keer bel, het hy my ID-nommer, my volle name, my adres en die besonderhede omtrent my arrestasie gehad. Dit sluit in die datum van my oortreding, elke ding. So, hy het al daardie inligting van êrens gekry,” het Stefan gesê.

Oor waar hierdie “êrens” is, kon Stefan net spekuleer. “Maar dit is net die polisie wat hierdie inligting gehad het,” het Stefan gesê. Mostert het egter gewaarsku dat mense nie te vinnig vingers moet wys nie. “Ons sê nie hy is ‘n polisieman nie, maar hy moet sy inligting van êrens kry. Die mense wat hy bel is mense wat werklik gevang is en wat werklik wag vir hulle bloeduitslae van die laboratorium af,” het Mostert gesê.

Terug na Mostert en Stefan se pogings om Maritz uit te lok. Dinsdagoggend was die finale betaaldatum vir Stefan. Die polisie kon tot in daardie stadium nog nie veel doen nie, omdat hulle volgens polisiebeleid slegs ‘n selfoonnommer mag naspoor indien iemand se lewe in gevaar is. “Dit is wat dit so moeilik maak om hierdie ouens wat selfone vir hulle slenters gebruik, vas te trek. Die ou kan enige plek in die land sit,” het Mostert gesê.

Stefan en Mostert het besluit dat as Maritz dalk in Louis Trichardt sit, hulle hom gaan probeer vastrek deur die omkoopgeld in kontant aan hom aan te bied. In die teenwoordigheid van Mostert het Stefan Dinsdagoggend vir Maritz geskakel en gesê hy het sy geld en wag vir hom in sy voertuig voor die magistraatskantoor op Louis Trichardt. Dié nuus het Maritz erg ontstel. Hy het vir Stefan gesê dit was nie die ooreenkoms nie en dat hy nou maar sal voortgaan om Stefan se saak op die hofrol te plaas vir die volgende dag. “Hy het gesê hy gaan nie uitkom om die geld te kry nie. Dit is toe wat ek vir hom vra hoe sal ek weet ek die saak is wel teruggetrek. Sy antwoord was dat hy die terugtrekverklaring vir my sal e-pos,” het Stefan gesê.

Dit was in daardie stadium dat Mostert die foon by Stefan gevat het en vir Maritz gesê het dat hy nou eintlik met die regte senior aanklaer van Louis Trichardt praat. Mostert het vir Maritz gesê dat hy maar kan ophou met sy skelmstreke en dat hulle bewus is van al die ander mense wat hy geskakel het. “Al wat hy vir my gesê het, is ‘Dis reg so meneer. Geen probleem nie meneer’, maar ek het vir hom gesê hy het ‘n probleem want die owerhede is op sy spoor,” het Mostert gesê. Mostert het sommer ook vir Maritz aangeraai om homself te gaan oorgee om hom verdere drama te spaar, waarop Maritz sy foon doodgedruk het.

Wat in al die gevalle teen Maritz getel het, is die feit dat al die klaers die personeel by die plaaslike magistraatskantoor geken het en geweet het daar werk nie ‘n Maritz nie. Desnieteenstaande het Mostert gesê die slenter is sleg vir hul professie. “Uit die aard van die saak is dit sleg vir die landdroste, want hy noem die landdroste moet ‘n deel kry. Dit is sleg vir die staatsaanklaer want hy noem dat die staatsaanklaer ‘n deel moet kry. Dit is ‘n hele korrupte sisteem, alhoewel die hele ding ‘n slenter blyk te wees ... As mense gaan begin praat wat nie die landdroste in Louis Trichardt ken nie, gaan hulle sê die landdroste hier vat geld onder die tafel deur. Voor jy jou oë uitvee, skinder die mense agter jou rug, so ons moet hierdie storie openbaar. Ek doen dit in die belang van die Nasionale Vervolgingsgesag se reputasie,” het Mostert gesê.

Dit is duidelik dat daar heelwat meer “slagoffers” kan wees. “Om jou ‘n idee te gee. Die aand toe ek toegesluit is vir dronkbestuur, was ek een van ses ouens in die sel wat vir dieselfde oortreding toegesluit is. Net die een outjie het ‘n skulderkenningsboete betaal, maar ek het besluit om my saak in die hof te gaan beveg. Dit was een aand, maar hoeveel mense is nog oor ‘n jaar periode toegesluit?” het Stefan gesê. Mostert het bygevoeg dat daar letterlik honderde sulke uitstaande sake in elke dorp landswyd kan wees. “Die ou moet geld maak. Ek is seker daar is mense wat betaal. Wat die slenter goed maak, is die houvas wat Maritz op sy slagoffers het. Baie mense sal eerder die omkoopgeld betaal om hulle naam skoon te hou, as om ‘n astronomies boete te betaal en met ‘n kriminele rekord te sit. Die ironie is dat selfs al betaal jy die omkoopgeld, dit niks gaan verander aan jou hofsaak nie. Jy kan steeds skuldig bevind word,” het Mostert gesê.

Ná afloop van die poging om Maritz vas te trek, is daar besluit om uit te vind wat presies die huidige status van Stefan se saak is. By verdere navraag is bevestig dat sy saak volgens polisierekords “afgehandel en geliasseer” is.

 

 
 
 

Viewed: 1385

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT