ADVERTISEMENT:

 

 
 

By Stevens Lumber Mills is sowat 480 hektaar se plantasies deur Maandag se vuur beskadig. Dit het ingesluit 260 hektaar se jong denne boompies wat in die vuur verloor is.

Week van vlamme

Date: 02 November 2019 By: Andries van Zyl

Die versengende hitte van die afgelope paar weke in die Soutpansberg met gepaardgaande sterk winde het Maandag weer verskeie wegholveldbrande tot gevolg gehad.

In ‘n stadium het daar Maandag, met temperature bo 40°C, vyf brande om Louis Trichardt gewoed. Dit het ingesluit brande by Limpopo Melkery, die plaas Rondebosch van Peet Vermaak, by Ansu van Staden by Southdown, by Richardt Bouwer op die Witvlag-pad en in die plantasies langs die Piesanghoek-pad.

Van al die brande was die plantasievure op die plaas van Mari Wilson, by Steven Lumber Mills en ‘n klein gedeelte van Komatiland by Entabeni die ergste.

Wally Walberer, voorsitter van die Zoutpansberg Fire Association, het Woensdag by navraag gesê dat Maandag se vuur op Mari se plaas ontstaan het, en vinnig versprei het na Stevens Lumber Mills weens ‘n sterk wind en die warm, droë toestande. Hy is van mening dat daar definitief vanjaar ‘n toename in die hoeveelheid veldbrande in die streek is.  Oor die oorsaak daarvan wou hy nie uitbrei nie, maar baie glo dit is weens brandstigting.

Teen Woensdag het die brand by Piesanghoek steeds ‘n gevaar ingehou. “As die weer nie saamspeel teen die naweek nie, kan die vuur weer opvlam. Die koel weer help baie, maar ons sou nat weer eerder verkies het,” het Walberer gesê. Wat laasgenoemde betref het Walberer gesê dat daar ten minste tussen 20mm en 30mm reën in die streek sal moet val om die gevaar van veldbrande te verminder.

Hulp het van orals ingestroom om Maandag se brande in die streek onder beheer te kry. Dit het ingesluit plaaswaglede, dorpswaglede en selfs individue.

Die bestuurder van Stevens Lumber Mills, André Kruger, het bevestig dat sowat 480 hektaar plantasies deur Maandag se vuur geraak is. Dit het ingesluit 260 hektaar se jong denneboompies wat in die vuur verloor is. “Die groter bome het aan die onderkant gebrand, maar die kans is goed dat hulle nie sal vrek nie,” het Kruger gesê.

Kruger het gesê dat so ‘n klein stukkie van ongeveer 4 tot 5 hektaar by Komatiland (Entabeni) ook gebrand het, nadat die vuur oor die brandbaan tussen die twee plantasies gespring het. “Die winde was so sterk dat dit kole tot 500 en 600 meter voor die vuur gegooi het. In ‘n stadium het ons tien ‘spot fires’ geveg weens die probleem. Dit het dit feitlik onmoontlik gemaak om die vlamme te keer,” het Kruger gesê. Ook hy het gesê dat goeie reënneerslae die enigste ding sal wees om die vlaag veldbrande te keer.

Wilson het op haar beurt gesê dat hulle sedert die begin van Oktober al reeds drie groot vure op hulle plaas beveg het. “Dit is verseker brandstigting,” het Wilson gesê. Haar grond grens aan die Maelula en Matshavhawe woongebiede. “Dit moet individue wees, want ons bly al dekades hier en oor die algemeen was die gemeenskap ons nog altyd goedgesind,” het Wilson gesê.

Volgens Wilson het hulle sedert die begin van Oktober reeds meer as 400 hektaar se bloekomplantasie weens die brande verloor. “Gelukkig kan jy darem van die bomme herwin,” het Wilson gesê. Sy het ook gesê hulle bid vir reën. “Dit moet vinnig en baie reën. Dit sal al wees wat gaan help,” het Wilson gesê.

Gelukkig is geen strukture tydens Maandag se brand op die Piesanghoek-pad beskadig nie. In ‘n stadium is daar wel gevrees dat die ou Shefeera Timbers se saagmeule deur die vlamme verswelg gaan word. Gelukkig kon die vlamme gekeer word. Na wat verneem word is niemand ook ernstig beseer nie, behalwe vir een persoon wat vir rookinaseming mediese behandeling moes ontvang. Steven Schoeman, mede-eienaar van Stevens Lumber Mills, het intussen sy opregte dank uitgespreek teenoor almal wat betrokke was om Maandag se vuur by hulle te stuit.

 
 
 

Viewed: 1175

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Etlike honderde hektaar denne- en bloekomplantasies is Maandag langs die Witvlag- en Piesanghoek-pad deur vlamme in puin gelê. Di was die ergste van vyf wegholveldbrande wat dié dag om Louis Trichardt gewoed het.

By Stevens Lumber Mills is sowat 480 hektaar se plantasies deur Maandag se vuur beskadig. Dit het ingesluit 260 hektaar se jong denne boompies wat in die vuur verloor is.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT