ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Willie Scheepers (66). Foto verskaf.

Nog 'n groot boom van die Soutpansberg val

Date: 07 November 2019 By: Andries van Zyl

Nog ‘n groot boom van die Soutpansberg het die afgelope week geval met die nuus van die dood van die welbekende Willie Scheepers (66) van Louis Trichardt. Hy is op 30 Oktober oorlede, nadat hy begin siek word het terwyl hy en sy vrou Elise in die Kruger Nasionale Wildtuin gekuier het.

Willie het net ná 18:00 op 29 Oktober begin kla van erge maagkrampe pas nadat hulle teruggekom het by die Punda Maria ruskamp waar hulle saam met vriende, Buks en Sonja Botha, gekampeer het.

 “Dit was so skielik. Ons het nog een van daardie loops gaan ry en daar was geen sprake dat iets verkeerd is nie,” het Elise gesê.

Die krampe het net in intensiteit toegeneem. “Aanvanklik het ons gedink dit is dalk sy blindederm of ‘n niersteen. Toe dit so verskriklik erg raak, het Sonja gesê dit lyk vir haar soos dieselfde simptome wat haar ma gehad het toe haar derm geperforeer het. Op die ou einde het Buks vir Willie omtrent 20:30 dieselfde aand nog deurgejaag na die Zoutpansberg Privaathospitaal toe. Elise en Sonja het in Punda Maria agtergebly waar hulle die kamp opgepas het. Niemand het gedink Willie se toestand was so kritiek nie.

“Dokter Stroebel het hom ‘n morfien inspuiting gegee vir die erge pyn. Hulle het daarna ‘n x-straal geneem en gesien daar is iets fout met die kolon (dikderm), een of ander obstruksie. Buks het nog gesê dit klink soos ‘n knoop in die derm,” het Elise gesê.

Daar is besluit dat Willie onmiddellik geopereer moes word, sodat dokters kon sien wat die fout was. Willie se toestand is gestabiliseer en hy is per ambulans oorgeplaas na die Netcare Pholoso Hospitaal in Polokwane, waar hy ongeveer 03:30 aangekom het. Die hospitaal het die enigste beskikbare dokter gehad wat onmiddellik kon opereer. “My skoonseun [Paul Vink] het intussen van Pretoria na Polokwane deurgery om by Willie te wees,” het Elise gesê.

Medici in Polokwane het ‘n CT-skandering op Willie gedoen. “Hulle het gesien dit is die derm wat geweldig geswel is. Hulle was bang die derm perforeer en daar is besluit om dadelik te opereer,” het Elise gesê.

Willie is in die intensiewe eenheid opgeneem waar medici begin het om hom gereed te kry vir die operasie. Intussen het Buks teruggery en Elise-hulle het vroeg die oggend kamp opgeslaan. Sy het daarna hul boswaentjie in Louis Trichardt afgehaak en begin deurry na Polokwane.

In Polokwane het Willie se toestand intussen dramaties verswak, met sy hart wat in die intensiewe eenheid gaan staan het. “Baie mense dink hy het ‘n hartaanval gehad, maar sy hart het net gaan staan, moontlik weens die skok op die sisteem,” het Elise gesê. Dokters kon daarin slaag om Willie se hart weer aan die gang te kry, maar sy hart het ‘n tweede keer gaan staan. Hulle kon dit nie weer aan die gang kry nie en hy is omstreek 13:00 op 30 Oktober oorlede.

Groot was Elise se skok toe sy 13:15 by die hospitaal aankom en hoor haar man is oorlede. Steeds, het Elise gesê, het sy nie besef haar man se toestand was so lewensgevaarlik nie, alhoewel sy besef het daar moet groot fout wees. “Paul het my net laat weet hy is in ‘n kritieke toestand. Toe weet ek dit is ernstig. In ‘n stadium het Paul gebel en gevra hoe ver is ek, toe weet ek daar het iets gebeur. Maar ek wou nie daaraan dink nie. Toe ek stilhou by die hospitaal en ek sien Paul kom aangestap, het ek geweet daar is groot fout,” het Elise gesê.

Volgens Elise was Willie se dood totaal onverwags. Sy sê hy het net goed begin herstel na ‘n knievervanging in Junie. Kort daarna het hy gesukkel met ‘n bakteriële infeksie wat uiteindelik opgeklaar kon word.

Baie mense sal vir Willie onthou vir sy jarelange verbintenis by die Makhado Munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling. Hy het in Januarie 1994 by die destydse Louis Trichardt Stadsraad begin werk, nadat hy aansoek gedoen het vir die pos van elektriese adviseur.

Min mense weet egter dat Willie vir drie termyne (1988, 1989 en 1993) burgemeester van Marble Hall was waar hy vanaf 1980 tot 1992 geboer het en ‘n huis in die dorp gehad het. Hy het die gemengde boerdery by sy pa oorgeneem. Elise sê hy het aansoek gedoen vir die pos op Louis Trichardt omdat hy “nie so kon sit en niksdoen nie”.

Willie en Elise is op 22 Maart 1975 getroud en twee dogters, Tarina en Elena, is uit die huwelik gebore. Nadat hulle Louis Trichardt toe getrek het, was hulle vir sowat ‘n jaar woonagtig in die dorp, waarna hulle die plot Cloud’s End nommer 15 gekoop het. Tot sy dood het hy hier gebly.

“Hy was baie bedrywig. Op Marble Hall was hy by alles betrokke. Die laaste paar jaar hier het hy begin afskaal. Plaaslik was hy die Imatu-vakbond se leier, lid van die Bosveld Jagtersvereniging en ouderling in die Hervormde Kerk Broodboomvereniging,” het Elise gesê.

Elise sê sy gaan haar lewensmaat van 44 jaar verskriklik mis. “Hy het my op die hande gedra en was baie lief vir my. Dit weet ek. Hy het dit vir my nog gesê net voor ons die laaste keer gaan ry het,” het Elise gesê. Sy het hom beskryf as iemand wat uit sy pad sou gaan om ander te help. “Hy wou altyd raad gee en help en het groot meelewing met mense gehad. Hy was ‘n mens wat altyd betrokke wou wees en ‘n vreeslike goeie oupa. Hy het ‘n wye vriendekring gehad, nooit ‘n matriekreünie gemis nie en het met almal kontak gehou,” het Elise gesê.

‘n Roudiens is Maandag, 4 November, vanuit die Hervormde Kerk op Louis Trichardt vir Willie gehou. Hy word oorleef deur sy vrou Elise, dogters Tarina (en skoonseun Paul) en Elena (en skoonseun Alister James), vyf kleinkinders, broers Kobus, Johan en Retief, suster Annaleen en aangetroude familie. “My lewe was so verweef met sy lewe. Ek was ‘n jaar uit skool uit toe ons mekaar op universiteit ontmoet het,” het Elise gesê.

Elise het haar dank uitgespreek teenoor die bestuur en personeel van Punda Maria, Buks wat hom deurgejaag het en bygestaan het, Sonja wat haar bygestaan het, drs. Anton Stroebel en Casper Venter wat vir jare gemoeid was met sy gesondheid, vir Paul wat hom by die hospitaal bygestaan het, asook Alister. “Dankie aan al my kinders wat my bystaan in hierdie moeilike tyd. Dankie ook aan die gemeenskap van Louis Trichardt, die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal en Netcare hospitaal, ds. Ronel Eckard wat dadelik deurgery het om my te kom ondersteun, asook Dries Nel van Mosaic Begrafnisdienste. Dankie aan almal vir julle ondersteuning en woorde van vertroosting,” het Elise gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2014

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT