ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Willem Olivier (57). Foto verskaf.

Willem verloor stryd teen longkanker

Date: 16 November 2019 By: 

Dit is weer ‘n hartseer week vir inwoners van die Soutpansberg met die nuus van die dood van die streek se welbekende 4x4- en nutsman Willem Olivier. Willem is Maandag, 11 November, na ‘n kort stryd aan longkanker oorlede. Hy was 57 jaar oud gewees.

Gebore 8 Mei 1962 was Willem die oudste van drie kinders. Hy het uit ‘n militêre agtergrond gekom met sy oorlede pa, Connie, wat ‘n majoor was in die Suid-Afrikaanse Lugmag.

Willem en Elzeth (‘n nooi Goosen) was ‘n skoolkys uit hul dae by Hoërskool Hendrik Verwoerd. Ná matriek gaan studeer Elzeth onderwys aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en Willem sluit by die SA Lugmag aan.

Willem en Elzeth is op 3 Desember 1983 getroud, waarna Willem by die Atlas Vliegtuigkorporasie aangesluit en Elzeth by Hoërskool Jeugland in Kemptonpark begin skoolhou het. Hulle oudste dogter, Lizaan, is daar gebore. 

In die middel tagtigerjare is Willem verplaas na die LMG-divisie van Atlas by die Lugmagbasis Hoedspruit, waar die gesin op Drakensig gebly het tot ongeveer 1997 en hulle diep spore in die gemeenskap getrap het. Hulle jongste dogter, Corlia, is daar gebore.

Daarna is Willem verplaas na Atlas se AMG-divisie by destydse Lugmagbasis Louis Trichardt (Makhado) waar hulle op Braambos woonagtig was en Elzeth toe by Laerskool Louis Trichardt begin skoolhou het.

Willem was ‘n man wat entoesiasties was in alles wat hy aangepak het en was ‘n deskundige op vele gebiede. Hy het opgang gemaak in sy werk en het die hoogste moontlike sporte in sy vakrigting bereik. Hy was een van slegs ‘n paar tegnici wat gekwalifiseerd was om op die nuwe tegnologie straalvegters se elektronika te kon werk.

Ook in sy stokperdjies het hy seker gemaak dat hy ten volle op hoogte was en het kursusse gevolg en later self ook aangebied.  Op Hoedspruit was dit hengel en fietsry en het hy amper elke dag van Drakensig na sy werksplek op die Lugmagbasis fietsgery.

Daar het die 4X4-gogga hom gebyt en het hy in ‘n redelike kort tydjie ‘n absolute foendi op dié gebied geword. Willem het etlike 4x4-kursusse aangebied. Kort nadat hulle in Louis Trichardt aangekom het, het hy en Elzeth die Louis Trichardt 4x4-klub gestig en het hulle vir etlike jare op die bestuur gedien. Hulle het ook in hulle privaat hoedanighede 4x4-toere oral in die Soutpansberg, Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Zambië en Namibië gelei.

In 2005 het die Olivier-gesin (Willem, Elzeth, Lizaan en Corlia) aan die “4x4 Family of the Year” kompetisie deelgeneem onder die naam Oli4x4.  Hulle het eerste gekom in die kompetisie en ‘n Nissan bakkie en ‘n boswa gewen.

Toe Willem so ‘n paar jaar gelede ‘n skeidingspakket aanvaar het, was hy nog te jonk vir aftrede en het sy eie instandhoudingsbesigheid begin, waarin hy baie suksesvol was.  Hy was nog aktief daarmee besig toe hy drie maande gelede met longkanker gediagnoseer is.

Elzeth en Lizaan is albei onderwysers by Laerskool Louis Trichardt en Corlia werk by ‘n lodge in Botswana.  Hulle het die hele Louis Trichardt-gemeenskap uit hulle harte bedank vir almal se gebede, kos, blomme en hulp met Willem se versorging.

‘n Troosdiens vir Willem vind Donderdag, 14 November, om 11:00 vanuit die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt plaas.

 

 
 
 

Viewed: 1748

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT