ADVERTISEMENT:

 

 
 

Mariska Bothma is tevrede met die proses van die installasie van die nuwe voorafbetaalde elektrisiteitsmeters by huise. “Om die meter te gaan registreer by die munisipaliteit was baie vinnig en maklik gewees en ek moet sê hulle was baie behulpsaam. Hulle het die meter kom installeer. Dit het so plus minus ‘n halfuur geneem en toe is alles reg. Ek dink dit gaan ‘n goeie ding wees vir die feit dat daar geen meer agterstallige geld by die munisipaliteit gaan wees nie,” het sy gesê.

Meters bring vreugde, maar nie vir almal

Date: 17 November 2019 By: Andries van Zyl

Die Makhado Munisipaliteit het die afgelope week begin met die installering van gratis voorafbetaalde elektrisiteitsmeters by huise in Louis Trichardt, tot groot blydskap van talle, maar ook bekommernis by ‘n paar.

Die munisipaliteit het in Oktober aangekondig dat hulle die nuwe meters by enkelfase kragverbruikers in die dorp gaan installeer in ‘n poging om geldinvordering makliker te maak, asook om die probleem van lang toue van verbruikers met klagtes oor foutiewe rekenings by die munisipale kantore uit te skakel. By navraag het munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi gesê dat die meters teen ‘n koste van sowat R1 500 op die munisipaliteit se koste geïnstalleer sal word en dat die munisipaliteit vir die projek in hulle 2019/2020 begroting begroot het.

Die afgelope week het dit egter geblyk dat talle inwoners óf nie bewus is van die projek nie, óf nie kan glo dat die meters verniet by wonings geïnstalleer word nie. Dit was duidelik uit talle inskrywing op sosiale media platforms soos Facebook.

‘n Lys van inwoners se vrae is aan Bobodi gestuur. Dit het ingesluit wat inwoners te doen staan wanneer munisipale werkers by hulle huise opdaag met die nuwe meters.

Bobodi het in antwoord verduidelik dat munisipale werkers die hele proses aan inwoners sal verduidelik wanneer hulle die nuwe meters by wonings kom aflaai. Dit sluit in hoe om die draagbare sleutelbord [handheld keypad] te gebruik, hoe om die meter by die munisipaliteit te registreer en hoe om elektrisiteit aan te koop met die meterkaartjie. Eers wanneer die stelsel by die munisipaliteit geregistreer is, sal die ou konvensionele meter met die nuwe meter vervang word.

Ontvangers van die nuwe meters, het Bobodi gesê, kan dadelik begin om voorafbetaalde elektrisiteit te koop. Dit kan selfs aanlyn aangekoop word. Wat verbruikers se uitstaande rekening op die ou stelsel betref, het Bobodi gesê, sal die rekening gekonsolideer word met ‘n finale bedrag wat tot op die dag van die installering van die nuwe meter uitgewerk sal word vir betaling. Vanaf die datum waarop die nuwe meter aangebring is, val die basiese elektrisiteitsfooi ook weg.

Gepraat van fooie. Daar was diegene wat gesê het hulle kan nie verstaan waarom hulle op verskillende tye van die maand minder eenhede kry vir meer geld nie. Bobodi het verduidelik dat die munisipaliteit sal voortgaan om die koste per eenheid elektrisiteit op ‘n glyskaal te bepaal ten opsigte van verbruik. Die tariewe vir huishoudelike gebruik bly dieselfde as voorheen, naamlik R0.9974 vir eenhede tussen 0 en 50 KWh, R1.2895 vir gebruik tussen 51 en 350 KWh, R1.8234 vir gebruik tussen 351 en 600 KWh en R2.1754 vir gebruik bo 600 KWh per maand.

Op ‘n vraag op die Zoutpansberger se Facebook-blad oor wat lesers dink van die nuwe meters, was die oorgrote kommentaar uiters positief. “Om die meter te gaan registreer by die munisipaliteit was baie vinnig en maklik gewees en ek moet sê hulle was baie behulpsaam. Hulle het die meter kom installeer. Dit het so plus minus ‘n halfuur geneem en toe is alles reg. Ek dink dit gaan ‘n goeie ding wees vir die feit dat daar geen meer agterstallige geld by die munisipaliteit gaan wees nie,” het Mariska Bothma gesê.

Patricia Gerber was eweneens positief oor die nuwe meter. “Ons het ons s’n ook al in gebruik. Vir ons sal dit beter werk. Ek dink net die maand met die oorskakeling is dit maar finansieel bietjie rof, want mens het reeds jou munisipale rekening betaal en nou moet jy kontant ook koop. Die einde van die maand moet jy krag koop en laaste verbruik betaal, maar daarna dink ek gaan dit baie beter gaan. Daar gaan nie meer daai rowwe maande wees wat hulle dalk nie gelees het en dan betaal jy dubbel blok D tariewe. Dit skakel dit uit. Ek persoonlik dink dis goed. Die personeel was baie behulpsaam met ons,” het Gerber gesê.

“Mag 'n oud-inwoner julle bemoedig? Hier in die Kaap is dit die norm. Elke munisipaliteit het natuurlik sy eie uitdagings in terme van aanvanklike installasie en diens ens., maar die voorafbetaalde krag self werk eintlik heel goed,” het Ammi Schutte gesê.

Inwoner Cassim Ayob was minder opgewonde oor die nuwe stelsel. Hy het in sy kommentaar gesê hy moes ‘n paar jaar gelede meer as R5 000 betaal om ‘n voorafbetaalde meter by sy huis te installeer, Nou, sê hy, installeer die munisipaliteit dit nie net goedkoper nie maar heeltemal gratis by huise. Sy gevoel is dat die munisipaliteit hom moet vergoed vir sy aanvanklike koste. Ayob se sentiment is ook deur ander gedeel wat tot heel onlangs toe duisende rande moes betaal vir die installasie van voorafbetaalde meters by hul huise.

Daar was ook ‘n vraag of almal die nuwe voorafbetaalde meters gaan kry, en die antwoord is nee. Dit is slegs vir enkelfase kragverbruikers, nie vir driefase kragverbruikers nie. Die nuwe meters sal ook nie by verbruikers geïnstalleer word wat reeds beskik oor voorafbetaalde meters nie.

Wat die proses self betref, het die munisipaliteit op 4 November begin met die installering van die meters. Tot Dinsdag hierdie week, het Bobodi gesê, is 70 meters reeds geïnstalleer. Die projek sal duur tot Junie 2020 met die installasiewerk wat van wes (ou dorp) na oos (nuwe uitbreiding) sal plaasvind.

 

 
 
 

Viewed: 1408

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT