ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Christelle Viljoen (53). Foto verskaf.

Altyd glimlaggende Christelle oorlede

Date: 23 November 2019 By: Andries van Zyl

Die altyd glimlaggende Christelle Viljoen van Louis Trichardt het Dinsdagoggend haar twee-jaar-lange stryd teen kanker verloor. Sy was 53 jaar oud gewees.

“Sy het baie swaar gekry op die einde, maar sy het altyd positief gebly,” het ‘n steeds bewoë Paul, haar man en lewensmaat van 31 jaar, Woensdag gesê.

Christelle is twee jaar gelede met borskanker gediagnoseer. Ten spyte van ‘n dubbele mastektomie, bestraling en chemoterapie, het die kanker egter nie verdwyn nie en in September vanjaar is bevind dat die kanker na haar longe versprei het. Sy is gedurende die vroeë oggendure van Dinsdag, 19 November, met haar familie aan haar sy, in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede.

Christelle en Paul het mekaar in die destydse Rhodesië ontmoet, waarna hulle in die vroeë 1980’s eers na Vereeniging getrek het en nege jaar later, in 1990, na Louis Trichardt verhuis het.

Baie sal vir Christelle en Paul onthou vir hulle verbintenis tot Silverton Radiators wat hulle as familiebesigheid bestuur het. Daarbenewens was Christelle ook ‘n bekende gesig by Specialised Oil Extraction, Belta Services en Makhado Roof Trusses waar sy onder andere met kantooradministrasie en boekhouding betrokke was.

Christelle sal egter deur die meeste inwoners en vriende onthou word vir haar jarelange verbintenis met Ladies Circle en haar groot liefde vir visvang. “Sy het ‘n week voor haar dood nog gaan visvang. As sy ‘n visstok in haar hand gehad het, was sy op haar gelukkigste. Visvang en Ladies Circle, toe sy nog jonk genoeg was, was haar stokperdjie,” het Paul gesê.

“My ma het altyd ‘n grappie gehad,” het dogter Lynette haar ma onthou. “En tipies visserman het sy altyd die grootte van die vis wat sy gevang het, oordryf,” voeg Paul in dieselfde asem glimlaggend by.

‘n Roudiens vir wyle Christelle het Vrydag, 22 November, om 11:00 vanuit die Veritas Gemeente te Groblerstraat 80 in Louis Trichardt plaasgevind. Sy word oorleef deur haar man Paul, dogters Karen (en skoonseun Franna du Preez) en Lynette, broers Sarel en André Viljoen en aangetroude familie.

Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal vir die boodskappe en woorde van vertroosting. ‘n Spesiale woord van dank het gegaan aan dr. Casper Venter en die Makhado Care Group, al Christelle se Ladies Circle vriende en ook skoonma Louise Viljoen wat die laaste twee maande vir Christelle bygestaan het en gehelp het met die huishouding.

Paul het gesê dat Christelle se afsterwe vir hulle almal maar moeilik is. Tog hou hulle vas aan die goeie herinnering en onthou Christelle vir haar sprankelende persoonlikheid en humor. “Sy het in haar afskeidsbrief aan ons grappenderwys geskryf dat ons haar as en visstok in ‘n dam moet gooi,” het Paul gesê.

 
 
 

Viewed: 1728

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT