ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle oom Tielman van den Berg (79), afgeneem saam met sy enigste agterkleinkind Telané. Foto verskaf.

Soutpansberg se bekende oom Tielman oorlede

Date: 06 December 2019 By: Andries van Zyl

Die Soutpansberg het Woensdagoggend wakker geword met die hartseer nuus dat die welbekende oom Tielman van den Berg Dinsdagaand by sy huis in Louis Trichardt oorlede is. Hy was 79 jaar oud gewees.

“Hy was ‘n vegter tot op die einde gewees,” het skoondogter Madeleine Woensdagoggend gesê. Sy het verwys na oom Tielman se stryd teen limfklierkanker waarmee hy sowat ‘n jaar gelede gediagnoseer is.

Oom Tielman het sowat 25 jaar gelede na Louis Trichardt verhuis, nadat hy afgetree het uit die polisie in Polokwane. Hy het aanvanklik aangesluit by die polisie se berede-eenheid.

Die dorpslewe was egter nie vir hom nie en het hy en sy eggenote, tannie Lien, een van die Rondebosch plotte buite die dorp gekoop waar hulle tot onlangs toe nog gewoon het. “Die rede waarom hy ‘n plot wou hê, was sodat hy darem ‘n paar perde en hoenders kon aanhou,” het sy seun Leon gesê.

Oom Tielman se liefde vir perde en passie vir perdesport was welbekend. So was hy ‘n bobaas ruiter gewees as dit kom by uithouritte en was hy veral bekend vir sy liefde vir sy boer- en Arabierperde.

Oom Tielman het ook op ander terreine van die “plaaslewe” ingeskakel en was een van die stigterslede van die Rondebosch Plaaswag. Hy was ook vir ‘n tydperk voorsitter van dié plaaswag.

Op sosiale vlak sal oom Tielman deur talle onthou word vir sy vriendelikheid en altyd netjiese voorkoms. “Hy was ‘n militaris gewees, altyd pynlik netjies en ordentlik. Hy het nie tyd gehad vir slegtigheid nie. Soos een van my vriende opgemerk het, ‘He walked the straight and narrow’,” het Leon gesê.

Wyle oom Tielman word Maandag, 9 Desember, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente (Haantjiekerk) begrawe. Hy word oorleef deur se eggenote van meer as vyf dekades, tannie Lien, seun Leon (en skoondogter Madeleine), dogter Liana (en haar vriend Hein), dogter Alta (en skoonseun Evert Pieterse), kleinkinders Landi-Michelle, Werner, Liandré, Gerhard, Melike, Telani en Shané en een agterkleinkind Telané.

Die familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor dr. Casper Venter van die Makhado Care Group. “Hy het meer as moeite gedoen,” het Leon gesê. Dank is ook uitgespreek teenoor die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente se ds. Jan Pretorius en ds. Corné Burger, asook die gemeenskap van die Soutpansberg vir hulle woorde van vertroosting en ondersteuning.

“Melike het nou matriek geskryf. Haar oupa se siekte het haar so aangegryp dat sy medies gaan swot met kanker as spesialisrigting,” het Madeleine gesê.

 
 
 

Viewed: 1625

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Baie inwoners sal oom Tielman van den Berg onthou vir sy groot liefde vir perde en passie vir uithouritte. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT