ADVERTISEMENT:

 

 
 

In die ou dae het sommige motorvervaardigers dit soveel makliker gemaak om 'n pap wiel te ruil. Een van hierdie maklike voertuie was hierdie 1957 BMW Isetta 300. As julle twee was en die een was sterk genoeg, kon mens amper die karretjie met die hand optel en die wiel ruil. Afgeneem is Elardus van Zyl besig om eerder die domkrag te gebruik.

Reiswenke vir “nuwe” bestuurders

Date: 20 December 2019 By: Elardus van Zyl

Vir baie inwoners is Desember ook vakansietyd, wat ‘n reis na die kus of ander vakansiebestemming behels. Op so ‘n reis kan enige iets egter gebeur en dit is beter om goed voorbereid te wees. Dit beteken ook dat jy moet weet wat om te doen in ‘n noodgeval en vooraf seker moet maak dat byvoorbeeld die spaarwiel opgepomp is en die toerusting daar is om dit te kan vervang.

Verbasend baie “nuwe” bestuurders weet nie hoe om ‘n motor se band te vervang nie. Vir dié klompie “nuwelinge” het ons ‘n klompie handige wenke saamgestel.

1. Die eerste stap is natuurlik om die motor op ‘n veilige plek tot stilstand te bring. Al moet jy vir ‘n klompie meter op ‘n kermende wielvelling ry, doen dit eerder as om te stop waar jou lewe in gevaar gestel word op die rand van ‘n padoppervlakte. Probeer sover moontlik op ‘n gelyk oppervlakte stop, ver genoeg weg van die verkeer.

2. Maak seker dat die motor se handrem styf vasgetrek is. Terwyl die band geruil word, moet die passasiers liefs buite die motor wag, weg van die verkeer.

3. Haal die spaarband en die toerusting soos die domkrag en wielsleutel uit. Gewoonlik is dit in die kattebak, aan die onderkant van die bagasieruim.

4. Maak seker dat die motor se wiele sover moontlik reguit na voor wys. Die motorvervaardigers het gewoonlik een of meer blokkies wat agter die bande geplaas word om te voorkom dat die motor agtertoe beweeg. Gebruik hierdie blokkies en sit dit agter die teenoorgestelde wiel, dit wil sê as die wiel regs voor vervang moet word, plaas dit agter die linker agterwiel.

5. Indien die motor wieldoppe het, haal die beskadigde band se wieldop eers af. Die wieldoppe is handig om die wielmoere of -boute in te sit, sodat dit nie vol grond word nie. Terwyl die motor nog op die grond is, is dit raadsaam om die wielsleutel te gebruik en die wielmoere of -boute los te maak (maar nie uit te draai nie). Om die moere los te draai moet die sleutel antikloksgewys gedraai word (righty tightie … leftie loosie).

6. Posisioneer die voertuig se domkrag (jack) onder die voertuig naby aan die wiel wat vervang moet word. Dit is belangrik om die motorvervaardiger se aanwysings hier te volg. In baie gevalle is daar merke soos ‘n pyltjie op die bakwerk wat aandui waar die domkrag geplaas kan word.

7. Lig die motor totdat die wiel sowat 10 tot 15 cm van die grond af is. Die wielmoere of -boute kan nou verwyder word en die band kan afgehaal word. Plaas die band plat op die grond.

8. Haal die spaarwiel uit en posisioneer dit regoor die gate vir die boute of skuif dit oor die wielboute.

9. Maak die wielmoere of -boute vas en voel of daar speling is deur die wiel baie liggies te probeer wikkel.

10. As die wiel vas is, laat sak die motor. Gebruik die wielsleutel en maak die wielmoere en -boute stewig vas terwyl die motor op die grond staan.

11. Heelwat van die moderne motors het net ‘n noodband (biscuit) en dié tipe bande het ‘n beperking op die spoed en afstand wat gery kan word. Maak dus seker dat jy die instruksies volg en die band so vinnig as moontlik weer vervang met ‘n gewone band.

 

 
 
 

Viewed: 1195

 

 
 

Elardus van Zyl

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT