ADVERTISEMENT:

 

 
 

'n Paar van die Zoutpansberger se voorblaaie die afgelope jaar.

Ongelukkig is slegte nuus steeds gewild

Date: 23 December 2019 By: Andries van Zyl

In hierdie laaste uitgawe van die Zoutpansberger vir 2019 kyk ons na die artikels wat die meeste aftrek onder lesers op die koerant se webtuiste (www.zoutpansberger.co.za) geniet het. Wat gou duidelik is, is dat die Engelse spreekwoord “bad news sells newspapers” ongelukkig steeds waar is.

2019 het beslis sy kwota slegte nuus opgelewer en heelwat gesinne sal hierdie Kerstyd en Nuwe Jaar ingaan met ‘n leë plekkie in die huis met ‘n geliefde wat die afgelope jaar aan die dood afgestaan is. ‘n Vinnige opname toon dat die Zoutpansberger die afgelope jaar meer as vyftig doodsberigte gedra het. In die meeste gevalle was kanker of hoë ouderdom die oorsaak van dood, maar daar was ‘n paar gevalle wat uitgestaan het.

Dit is dan nie vreemd dat die artikel oor die dood van bekende plaaslike kunstenaar en aktivis Annette Kennealy die mees-gelese artikel vir 2019 op die Zoutpansberger se webtuiste was nie. Die sprankelende Kennealy, wat regtig geen bekendstelling in die Soutpansberg nodig gehad het nie, is in Mei op haar plaas vermoor. Haar plaasarbeider is kort na haar liggaam gevind is in verband met haar dood gearresteer en is tans verhoorafwagtend. ‘n Totaal van 23 847 mense het die berig oor Kennealy se dood gelees.

Die tweede “gewildste” artikel op die koerant se webtuiste was ook oor die dood, die keer oor drie van Marilee van der Merwe en haar man se pragleeus op hul plaas net buite Louis Trichardt in Augustus. Die leeus is vergiftig en daarna is twee van hulle se koppe en potte afgesny. Vir Marilee was die leeus “soos kinders” gewees en die voorval het die familie baie trauma besorg. In totaal het 22 349 mense die berig op die webblad gelees.

Alhoewel dit nie trauma was nie, het die derde mees-gelese artikel op die Zoutpansberger se webtuiste beslis gesorg vir die nodige drama, bygesê dat baie lesers oorgespoel het van die Zoutpansberger se susterskoerant, die Limpopo Mirror, waarin die artikel aanvanklik verskyn het. Dit was die artikel in April vanjaar waarin berig is dat die appèlhof oud-president Jacob Zuma se aankondiging dat Toni Mphephu Ramabulana die koning van die Venda-nasie is, ongeldig verklaar het. ‘n Totaal van 15 167 webtuiste besoekers het die artikel gelees.

Trauma en drama was weereens die sentrale tema van die vierde mees-gelese artikel, die keer oor die barbaarse aanval op die 80-jarige tannie Joekie Nortjé en haar 62-jarige seun, Johan (Kiewiet), op hulle familieplaas net buite Louis Trichardt in Mei. Vyf mans het op die plaas opgedaag onder die voorwendsel dat hulle varke wou koop. Die vyf het egter tannie Joekie-hulle oorval en wreed aangerand. Gelukkig het hulle die aanval oorleef. 13 382 mense het die artikel aanlyn gelees.

Dit was darem nie net die hele tyd slegte nuus gewees nie. Alhoewel nie ‘n artikel nie, het die video van ‘n virtuele toer van die nuwe Makhado Crossing na sy opening in November ook baie aftrek geniet. In totaal het 9 257 lesers na die video gaan kyk. Eweneens het die artikel oor die opgradering en beplande opening van die nuwe Makhado Crossing in April vanjaar ook baie belangstelling onder lesers ontlok met 7 769 lesers wat aanlyn gaan kyk het wat in die pyplyn is vir Louis Trichardt.

Ook op ‘n positiewe noot het baie lesers die nuus van ‘n beplande kampus vir die Universiteit van Venda (Univen) vir Louis Trichardt goed ontvang. In die artikel in Maart vanjaar word berig dat die Makhado Munisipaliteit en die bestuur van Univen reeds in gesprek getree het oor die vestiging van ‘n satellietkampus hier. ‘n Totaal van 6 828 lesers het die artikel onder oë gehad.

Die artikel in Mei vanjaar oor die kroonprins van Saoedi-Arabië, Mohammed bin Salman, wat net noord van die Soutpansberg kom nes skop het, het ook wye reaksie ontlok. Gerugte oor die Arabiese leier se uitbreidings op plase in die Waterpoort en Mopane distrikte doen al ‘n jaar of wat die rondte. In plaaslike kringe is dit een van die “ope geheime” dat die eintlike eienaar van die jagplaas, Ekland, nie ‘n Suid-Afrikaanse maatskappy is nie. Dit was egter eers ná berigte in die nasionale media verskyn het, dat die sluier begin lig het oor wie presies die sowat 20 000 hektaar grond besit. ‘n Totaal van 5 473 lesers het die artikel van nader gaan bekyk op die koerant se webblad.

Oor die algemeen lok die Zoutpansberger se top artikels op hul webblad tussen 2 000 en 3 000 lesers wat in ‘n mate ‘n oorspoel is van die koerant se gedrukte weergawe. Wat die gedrukte weergawe betref, bedien die Zoutpansberger ‘n redelik konserwatiewe getal van 12 000 tot 15 000 lesers per week. Oor ‘n maandlange periode lok die Zoutpansberger se webtuiste ongeveer 14 000 besoekers met 28 000 bladsye wat gemiddeld per maand besoek word. Die afgelope jaar tot en met Woensdag het die Zoutpansberger se webblad 164 411 besoekers gehad met ‘n totaal van 334 251 bladsye wat besoek is.

Dit moet darem bygevoeg word dat die Zoutpansberger se webtuiste dikwels inhoud deel met die koerantgroep se ander twee domeine, naamlik www.zoutnet.co.za en www.limpopomirror.co.za. Die domein, www.zoutnet.co.za is ‘n gekombineerde webtuiste vir die Zoutpansberger en Limpopo Mirror. Dié webtuiste het tot en met Woensdag 451 258 besoekers die afgelope jaar gehad met 867 562 bladsye wat besoek is. Dit kom neer op sowat 38 000 besoekers per maand en 73 000 bladsye wat per maand besoek word. Die Limpopo Mirror se webtuiste is by verre die mees gewilde vanweë haar groot leserstal gemeet teenoor die Zoutpansberger se relatief klein lesersarea. Tot en met Woensdag het die Limpopo Mirror 779 304 besoekers gehad met net oor die 2,3 miljoen bladsye wat besoek is. Dit kom neer op ‘n gemiddeld van sowat 65 000 besoekers per maand met sowat 195 000 bladsye wat per maand besoek word.

Nog ‘n brokkie interessante inligting is dat die Zoutpansberger se webtuiste-statistiek toon dat net oor die 58% van die besoekers mans is. Sowat 77% van besoekers het die webtuiste vanaf hulle selfone besoek met net oor die 20% wat dit vanaf hul rekenaars besoek het. Wat ouderdom betref was 23,64% van besoekers oor die ouderdom van 65 jaar, gevolg deur besoekers tussen 25 en 34 jaar (20,73%). Lesers tussen 55 en 64 jaar het 18,45% van die besoeke opgemaak met lesers tussen 45 en 54 jaar (16,68%) en 35 en 44 (16,52%) in die vierde en vyfde plek.

 
 
 

Viewed: 1871

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT